Eksodus 28
Afrikaans PWL
1Vat nou jou broer Aharon en sy seuns saam met hom, uit die seuns van Yisra’el sodat hy My kan dien as priester: Aharon en die seuns van Aharon: Nadav, Avihu, El’azar en Itamar. 2Jy moet vir jou broer Aharon afgesonderde klere maak, tot eer en lof en tot versiering. 3Jy moet praat met almal wat vaardig is, wat Ek met die gees van wysheid vervul het sodat hulle Aharon se klere maak, om hom af te sonder sodat hy vir My as priester kan dien. 4Hierdie is die klere wat hulle moet maak: ’n borsplaat, ’n skouerstuk, ’n bokleed, ’n uitgewerkte kleed, ’n tulband en ’n gordel. Hulle moet vir Aharon, jou broer en vir sy seuns, afgesonderde klere maak, om My as priester te dien. 5Hulle moet die goud, die blou, die pers en bloedrooi materiaal en die wit geweefde linne vat

6en hulle moet die skouerstuk maak van goud, blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne, die produk van kunstige werk. 7Dit moet twee skouerstukke hê wat aan mekaar vas is; aan die twee bo-ente moet dit aan mekaar vas gesit word. 8Die inmekaargeweefde band wat daarop is, moet van dieselfde werk wees, van goud, blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne. 9Jy moet twee oniksstene vat en die name van die seuns van Yisra’el daarop graveer: 10ses van dié name op die een steen en die ses ander name op die ander steen, volgens hulle geboortes. 11Met die werk van ’n graveerder op klippe, graveerwerk soos wat op ’n seëlsteen uitgesny word, moet jy die name van die seuns van Yisra’el op die twee stene graveer. Jy moet hulle in ’n raam van goud set. 12Jy moet die twee stene op die skouers van die skouerstuk vasmaak as herinneringstene vir die seuns van Yisra’el. So sal Aharon hulle name voor die Teenwoordigheid van יהוה op sy twee skouers dra om hulle in herinnering te bring. 13Jy moet ook monteerrame van goud maak 14en twee kettings van suiwer goud, gedraai soos vlegsels en die gevlegte kettings aan die monteerrame vasmaak.

15Jy moet die borsplaat van beslissing maak van kunstige werk; soos die vakmanskap van die skouerstuk moet jy dit maak; van goud, blou, pers en bloedrooi materiaal en van wit geweefde linne moet jy dit maak. 16Dit moet in ’n vierkant gevou word; ’n span sy lengte en ’n span sy breedte. 17Jy moet vier rye stene, in rame gemonteer, insit: die eerste ry moet ’n robyn, ’n topaas en ’n smarag wees. 18Die tweede ry is ’n turkoois, ’n saffier en ’n diamant. 19Die derde ry is ’n hiasint, ’n agaat en ’n ametis. 20Die vierde ry is ’n beril, ’n oniks en ’n jaspis. Hulle moet in goue monteerrame geset word. 21Die stene moet die name van die seuns van Yisra’el hê, twaalf volgens hulle name. Dit moet soos op ’n seëlsteen uitgesny word, elkeen met sy eie naam, volgens die twaalf stamme. 22Jy moet ook kettings vir die borsplaat maak. Maak dit soos gedraaide toue van suiwer goud. 23Jy moet ook twee goue ringe maak vir die borsplaat en maak die twee ringe vas aan die twee bo-ente van die borsplaat 24en maak die twee goue toutjies aan die twee ringe vas, aan die bo-ente van die borsplaat 25en maak die twee ander ente van die twee toutjies vas aan die twee monteerrame en maak dié dan vas aan die skouers van die skouerkleed, aan die voorkant daarvan. 26Jy moet ook twee goue ringe maak en dié aan die twee kante van die borsplaat, aan die einde wat teen die skouerstuk lê, aan die binnekant, vasmaak. 27Jy moet nog twee goue ringe maak en dié aan die twee skouers van die skouerstuk, onderaan, aan die voorkant daarvan, by sy verbinding, bokant die geweefde band van die skouerstuk, vasmaak. 28Hulle moet die borsplaat, met sy ringe, aan die ringe van die skouerstuk met ’n persblou tou vasbind sodat dit bokant die geweefde band van die skouerstuk is en die borsplaat nie loskom van die skouerstuk af nie. 29Aharon moet die name van die seuns van Yisra’el, in die borsplaat van beslissing, op sy hart dra as hy in die Afgesonderde deel ingaan, as ’n voortdurende herinnering voor die Teenwoordigheid van יהוה. 30Jy moet ook die Urim en die Tumim in die borsplaat van beslissing sit sodat hulle op die hart van Aharon kan wees as hy voor die Teenwoordigheid van יהוה ingaan. Aharon moet die beslissing van die seuns van Yisra’el voortdurend op sy hart dra voor die Teenwoordigheid van יהוה.

31Jy moet die bokleed van die skouerstuk heeltemal van blou materiaal maak. 32Daar moet ’n opening vir sy kop in die middel wees. Rondom die opening moet ’n soom uitgewerk wees, soos die opening van ’n borsplaat sodat dit nie geskeur kan word nie. 33Aan die soom, onderaan, moet jy granate van blou, pers en bloedrooi stof, reg rondom die soom maak en tussen-in goue klokkies reg rondom: 34’n goue klokkie en ’n granaat, ’n goue klokkie en ’n granaat, aan die soom van die bokleed, reg rondom. 35Aharon moet dit aanhê wanneer hy bedien sodat die geluid daarvan gehoor word as hy in die Afgesonderde plek, voor die Teenwoordigheid van יהוה, ingaan en as hy uitgaan sodat hy nie sterf nie.

36Jy moet ook ’n plaat van suiwer goud maak en daarop graveer, soos die gravering op ’n seëlsteen: AFGESONDER TOT יהוה. 37Jy moet dit vasmaak aan ’n blou tou sodat dit aan die tulband vas kan wees; dit moet aan die voorkant van die tulband wees. 38So moet dit dan op die voorkop van Aharon wees sodat Aharon die straf vir die oortredinge kan dra met betrekking tot die afgesonderde dinge wat die seuns van Yisra’el sal afsonder deur al hulle afgesonderde gawes. Dit moet voortdurend op sy voorkop wees sodat hulle voor יהוה aanvaar mag word.

39Jy moet die kleed van wit geweefde linne kunstig uitwerk. Jy moet ook die tulband van wit geweefde linne maak en die gordel moet jy veelkleurig uitwerk.

40Vir die seuns van Aharon moet jy klede en gordels maak. Jy moet ook vir hulle tulbande maak, tot eer, lof en tot versiering. 41So moet jy jou broer Aharon en sy seuns saam met hom aantrek. Jy moet hulle salf, hulle aanstel en hulle afsonder sodat hulle My as priesters kan dien. 42Jy moet ook vir hulle linne broeke maak om hulle kaal vlees toe te maak. Dit moet van die heupe tot by die dye wees. 43Aharon en sy seuns moet dit aanhê as hulle in die Tent van Ontmoeting ingaan, of as hulle naby die altaar kom, om in die Afgesonderde plek te bedien sodat hulle geen skuld dra en sterf nie. Dit is ’n ewige voorskrif vir hom en vir sy nageslag ná hom.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 27
Top of Page
Top of Page