Eksodus 12
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe en Aharon in die land van Mitzrayim gepraat en gesê: 2“Hierdie maand sal vir julle die begin van die maande wees; dit sal vir julle die eerste van die maande van die jaar wees. 3Praat met die hele vergadering van Yisra’el en sê: Op die tiende van hierdie maand sal elke man vir homself, volgens die huis van sy vader, ’n lam vat. ’n Lam vir elke huishouding. 4As ’n huisgesin te klein is vir ’n lam, dan moet hy en sy buurman, wat langs sy huis is, dit vat volgens die getal mense; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken. 5Julle lam moet perfek, sonder fout wees, ’n rammetjie in sy eerste jaar. Julle mag dit uit die skape of uit die bokke vat. 6Julle moet dit oppas tot die veertiende dag van dieselfde maand, dan moet die hele vergadering van Yisra’el dit teen sonsondergang slag. 7Julle moet van die bloed vat en dit aan die twee deurposte en aan die bo-kosyn van die huise waarin hulle dit eet, smeer. 8Julle moet die vleis in daardie nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode en bitter kruie moet julle dit eet. 9Julle moet dit nie rou eet of as dit in water gaar gekook is nie, maar oor die vuur gebraai, die kop, pootjies en die binnegoed. 10Julle mag ook niks daarvan laat oorbly tot die oggend toe nie en wat daarvan oorbly tot die oggend toe, moet julle met vuur verbrand. 11Só moet julle dit eet: julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; julle moet haastig eet. Dit is Pesag tot יהוה, 12want Ek sal in hierdie nag deur die land van Mitzrayim gaan en al die eersgeborenes van mense sowel as van diere in die land van Mitzrayim slaan. Ek sal oordeel uitoefen oor al die gode van Mitzrayim. Ek is יהוה. 13Die bloed aan die huise waarin julle is, sal vir julle ’n teken wees; as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan en die plaag sal nie op julle wees om julle te vernietig wanneer Ek die land van Mitzrayim slaan nie.

14Hierdie dag sal vir julle ’n gedenkdag wees en julle moet dit as ’n fees tot eer van יהוה vier, reg deur julle geslagte. Julle moet dit hou as ’n ewige vasgestelde tyd. 15Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet julle suurdeeg uit julle huise verwyder, want elkeen wat enige iets gesuurd eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié lewe moet van Yisra’el afgesny word. 16Op die eerste dag moet daar ’n afgesonderde bymekaarkoms wees en ook op die sewende dag moet daar vir julle ’n afgesonderde bymekaarkoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie, behalwe vir elkeen om te eet, dit alleen mag deur julle voorberei word. 17Onderhou die Ongesuurde Brode, want op hierdie selfde dag het Ek julle leërs uit die land van Mitzrayim uitgelei; daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as ’n ewige vasgestelde tyd hou. 18In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, sonsondergang, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een en twintigste dag van die maand, teen sonsondergang. 19Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie, want elkeen wat iets eet met suurdeeg in, dié lewe moet uit die bymekaarkoms van Yisra’el afgesny word, of hy nou ’n besoeker is of ’n seun van die land. 20Julle mag niks met suurdeeg in, eet nie. In al julle blyplekke moet julle ongesuurde brode eet.”

21Toe het Moshe al die oudstes van Yisra’el laat roep en vir hulle gesê: “Gaan haal vir julle lammers uit volgens julle families en slag die Pesag. 22Vat ’n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is en smeer aan die bo-kosyn en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is en niemand van julle mag by die deur van sy huis uitgaan tot dagbreek toe nie,

23want יהוה sal deurgaan om die hele Mitzrayim te slaan en wanneer Hy die bloed sien aan die bo-kosyn en aan die twee deurposte, sal יהוה by die deur verbygaan en die vernietiger nie toelaat om in julle huise in te gaan om julle te slaan nie. 24Julle moet dit hou as ’n vasgestelde tyd vir julself en vir jul kinders, vir ewig. 25Dit sal wees as julle in die land kom wat יהוה aan julle sal gee, soos Hy beloof het dat julle hierdie diens sal hou 26en as julle seuns julle sal vra: ‘Wat beteken die diens?’ 27dan moet julle sê: ‘Dit is die Pesagoffer aan יהוה, wat by die huise van die seuns van Yisra’el in Mitzrayim verbygegaan het, toe Hy die Mitzrayiete geslaan, maar ons huise gespaar het’.” Toe het die volk neergebuig en met hulle gesigte op die grond gelê.

28Die seuns van Yisra’el het gegaan en gedoen soos יהוה aan Moshe en Aharon beveel het, so het hulle gedoen.

29Dit het gebeur om middernag dat יהוה al die eersgeborenes in Mitzrayim geslaan het; van die eersgeborene van Farao af, wat op sy troon gesit het, tot by die eersgeborene van die gevangene wat in die tronk was, asook al die eersgeborenes van die diere. 30Farao het in die nag opgestaan, hy, al sy diensknegte en al die Mitzrayiete en daar was ’n groot uitroep in Mitzrayim, want daar was geen huis waarin iemand nie dood is nie.

31Hy het Moshe en Aharon in die nag laat roep en gesê: “Staan op, gaan weg onder my volk uit, julle sowel as die seuns van Yisra’el en gaan dien יהוה soos julle gesê het. 32Vat ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gesê het, gaan weg en seën my ook.”

33Die Mitzrayiete het aangehou by die volk, om hulle haastig uit die land uit te stuur, want hulle het gedink: ‘Ons sal almal sterf!’ 34Toe neem die volk hulle deeg voordat dit ingesuur was, met hulle bakskottels, in hulle klere toegebind, op die skouers.

35Die seuns van Yisra’el het gedoen volgens die woord van Moshe: hulle het van die Mitzrayiete silwer en goue goed en klere gevra 36en יהוה het aan die volk guns verleen in die oë van die Mitzrayiete en dié het hulle versoek toegestaan. So het hulle die Mitzrayiete geplunder.

37Die seuns van Yisra’el het van Ra’amses na Sukkot gereis, omtrent ses honderd duisend manne te voet, buiten die kinders. 38’n Gemengde menigte van mense het ook saam met hulle opgegaan en troppe kleinvee en beeste; uitermate baie lewende hawe. 39Hulle het van die deeg wat hulle uit Mitzrayim gebring het, ongesuurde koeke gebak, want dit was nie ingesuur nie omdat hulle uit Mitzrayim uitgedryf is en hulle dus nie plat koeke kon bak nie en ook geen kos vir hulleself voorberei het nie.

40Die tyd wat die seuns van Yisra’el in Mitzrayim gebly het, was vier honderd en dertig jaar. 41Dit het gebeur aan die einde van vier honderd en dertig jaar, op dieselfde dag het dit gebeur dat al die leërmagte van יהוה uit Mitzrayim uitgegaan het.

42Dit is ’n nag van herinnering tot eer van יהוה omdat Hy hulle uit Mitzrayim uitgebring het. Dit is dié nag van יהוה, ’n vasgestelde tyd om onderhou te word deur al die seuns van Yisra’el in hulle geslagte.

43יהוה het vir Moshe en Aharon gesê: “Dit is die instelling van die Pesag: géén vreemdeling mag daarvan eet nie, 44maar elke slaaf van ’n man wat met geld gekoop is, wanneer jy hom besny het, dan mag hy daarvan eet. 45’n Besoeker of ’n huurling mag nie daarvan eet nie. 46In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie en julle mag geen been daarvan breek nie. 47Die hele bymekaarkoms van Yisra’el moet dit hou. 48As ’n besoeker by jou bly en tot eer van יהוה die Pesag wil vier, moet almal wat manlik is by hom, besny word en dan mag hy nader kom om dit te vier en hy sal soos ’n kind van die land wees, want géén onbesnedene mag daarvan eet nie. 49Een wet sal geld vir die kind van die land en vir die besoeker wat onder julle bly.”

50So het al die seuns van Yisra’el gedoen. Soos יהוה Moshe en Aharon beveel het, so het hulle gedoen. 51Dit het so gebeur dat יהוה die seuns van Yisra’el, volgens hulle leërafdelings, op daardie selfde dag, uit Mitzrayim uitgelei het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Exodus 11
Top of Page
Top of Page