Ester 9
Afrikaans PWL
1In die twaalfde maand, dit is die maand Adar, op die dertiende van die maand, toe die bevel van die koning en sy wet uitgevoer sou word, op die dag dat die vyande van die Y’hudahiete gehoop het om hulle te oorweldig, alhoewel die bevelskrif tot die teenoorgestelde gedraai is sodat die Y’hudahiete oor hulle haters sou heers, 2het die Y’hudahiete saamgekom in hulle stede in al die provinsies van koning Agashverosh om hulle aan te val wat hul skade soek en niemand kon hulle weerstaan nie, want vrees vir hulle het op al die volke geval. 3Al die prinse van die provinsies, die bevelvoerders van die weermag, die goewerneurs en hulle wat in diens van die koning was, het die Y’hudahiete ondersteun, want vrees vir Mordekhai het hulle oorval, 4want Mordekhai was groot in die paleis van die koning en sy beroemdheid het deur al die provinsies versprei omdat die man Mordekhai al groter geword het. 5So het die Y’hudahiete al hulle vyande met die swaard neergeslaan in slagting en vernietiging en het aan hulle gedoen wat hulle wat hul haat, aan hul sou doen. 6In Shushan, in die paleis, het die Y’hudahiete vyf honderd man gedood en uitgewis 7en hulle het Parshandata, Dalfon, Aspata, 8Porata, Adalya, Aridata, 9Parmahsta, Arisai, Aridai en Vaizata, 10die tien seuns van Haman, die seun van Hammedatha, die vyand van die Y’hudahiete, gedood, maar hulle het nie hulle hande gesit aan die buit nie.

11Op daardie dag is die getal van dié wat in die paleis Shushan gedood is, voor die koning gebring

12en die koning het vir Ester, die koningin, gesê: “In die paleis Shushan het die Y’hudahiete vyf honderd man gedood en uitgewis asook die tien seuns van Haman; wat het hulle gedoen in die ander provinsies? Wat is nou jou begeerte? Dit sal aan jou gegee word. Wat is verder jou versoek? Dit sal vir jou gedoen word.” 13Toe sê Ester: “Laat dit môre ook aan die Y’hudahiete wat in Shushan is, toegestaan word om op te tree volgens die wet wat geld vir vandag en laat die tien seuns van Haman aan die galg opgehang word.” 14Die koning het bevel gegee dat dit so gedoen word; die wet is in Shushan uitgevaardig en die tien seuns van Haman is opgehang. 15Die Y’hudahiete wat in Shushan was, het ook op die veertiende dag van dieselfde maand bymekaargekom en drie honderd man in Shushan gedood, maar nie hulle hande op die buit gelê nie.

16Die ander Y’hudahiete wat in die provinsies van die koning was, het saamgekom en hulle lewe verdedig en gerus van hul vyande; hulle het onder dié wat hulle haat vyf en sewentig duisend gedood, maar nie hulle hande aan die buit gesit nie. 17Hulle het begin op die dertiende dag van die maand Adar en op die veertiende daarvan het hulle gerus

18en dit ’n dag van feesviering en vreugde gemaak; 19daarom maak die Y’hudahiete wat verstrooi is en in ver verwyderde dorpe bly, van die veertiende dag van die maand Adar ’n dag van vrolikheid en feesviering en ’n goeie dag waarop hulle vir mekaar porsies kos stuur.

20Mordekhai het hierdie dinge neergeskryf en briewe gestuur aan al die Y’hudahiete wat in al die provinsies van koning Agashverosh was, naby en ver, 21om ooreen te kom dat hulle die veertiende dag en die vyftiende dag van die maand Adar jaarliks moet vier 22as die dae waarop die Y’hudahiete gerus het van hulle vyande en die maand wat vir hulle van smart tot vreugde en van rou tot ’n feesdag verander is en dat hulle dit dae van feesviering en vreugde moet maak en porsies kos vir mekaar stuur en geskenke vir die armes.

23Die Y’hudahiete het dit aanvaar om te doen soos hulle begin het en soos Mordekhai vir hulle geskryf het, 24want Haman, die seun van Hammedatha, die Agagiet, vyand van almal van Y’hudah, het beplan om hulle uit te roei en het die lot (pur) gewerp om hulle te vernietig en uit te roei. 25Toe Ester voor die koning gekom het, het hy laat neerskryf: “Laat die bose plan wat teen die Y’hudahiete gesmee is, terugkeer op die kop van hom wat hulle beplan het en laat hy en sy seuns aan die galg opgehang word;” 26daarom noem hulle dié dae Purim, volgens die woord pur (lot). As gevolg van al die woorde van die brief en wat hulle aangaande die saak gesien het en wat oor hulle gekom het, 27het die Y’hudahiete dit vasgestel vir hulleself en hulle nageslag en vir almal wat by hulle sou aansluit sodat hulle nie sal faal om hierdie twee dae te hou volgens wat geskryf is en volgens die vasgestelde tyd elke jaar nie 28en dat hierdie dae onthou en gehou moet word deur al die geslagte in elke provinsie en stad en dat hierdie dae van Purim nie ophou onder die Y’hudahiete nie en hulle herdenking nie ophou onder hulle nageslag nie.

29Toe het Ester, die koningin, dogter van Avigayil en Mordekhai, die Y’hudahiet, met alle outoriteit geskryf om hierdie brief aangaande Purim te bekragtig 30en hulle het briewe aan almal van Y’hudah gestuur in die honderd sewe en twintig provinsies in die koninkryk van Agashverosh, met woorde van waarheid en vrede, 31om hierdie dae van Purim op hulle vasgestelde tye te bevestig, soos wat Mordekhai, die Y’hudahiet en Ester, die koningin, dit vasgestel het vir hulle en vir hul nageslag; om die voorskrifte aangaande hulle vas en hulle gebede te gee. 32Die bevel van Ester het hierdie voorskrifte vir Purim bevestig wat in ’n boek geskryf is.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Esther 8
Top of Page
Top of Page