Ester 8
Afrikaans PWL
1Op daardie dag het koning Agashverosh, Haman, vyand van die Y’hudahiete, se huis aan Ester, die koningin, gegee en Mordekhai het voor die koning gekom, want Ester het vertel wat hy van haar was. 2Die koning het die ring, wat hy weggevat het by Haman, gevat en vir Mordekhai gegee en Ester het Mordekhai aangestel oor die huis van Haman.

3Ester het teruggekom en weer voor die koning gepraat en voor sy voete neergeval en gehuil en hom ernstig gesmeek om die kwaad van Haman, die Agagiet, te verwyder en sy plan wat hy teen die Y’hudahiete beraam het, te verydel. 4Toe het die koning die goue septer na Ester uitgesteek en Ester het dit aangeraak en voor die koning gaan staan 5en gesê: “As dit die koning tevrede stel en dit reg is voor die koning en as ek guns in sy oë gevind het, laat dit geskryf word dat die briewe, met die plan van Haman, die Agagiet, wat hy geskryf het om hulle van Y’hudah wat in al die provinsies van die koning is, uit te roei, herroep word, 6want hoe sou ek die katastrofe wat my volk sal tref kan verdra, of hoe sou ek die vernietiging van my familie kan verdra?”

7Toe sê koning Agashverosh vir Ester, die koningin: “Let op, ek het vir jou die huis van Haman gegee en hom het hulle aan die galg opgehang omdat hy sy hand teen die mense van Y’hudah opgelig het.

8Skryf aangaande die Y’hudahiete wat julle goeddink in die naam (karakter en outoriteit) van die koning en seël dit met die ring van die koning, want ’n geskrif, in die naam (karakter en outoriteit) van die koning geskryf en geseël met die ring van die koning, kan nie herroep word nie.”

9Toe is die koning se skrywers in daardie tyd geroep, op die drie en twintigste van die derde maand, dit is die maand Sivan en daar is aan die bevelvoerders van die leërmag, die goewerneurs en die prinse van die provinsies vanaf Indië tot by Kush, een honderd sewe en twintig provinsies, geskrywe volgens alles wat Mordekhai geskryf het aangaande die Y’hudahiete; aan elke provinsie volgens sy skrif en aan elke volk in sy eie taal en aan die Y’hudahiete in hulle skrif en in hulle taal. 10Die briewe is geskryf in die naam (karakter en outoriteit) van koning Agashverosh en geseël met sy ring en hulle is gestuur met hardlopers, perderuiters en dromedarisse. 11In hierdie briewe gee die koning toestemming aan die Y’hudahiete wat in elke stad bly om bymekaar te kom en hulle lewens te verdedig; om elkeen wat hulle mag onderdruk, saam met kinders en vroue en hulle besittings as buit te plunder, te vernietig, dood te maak en uit te roei 12en dit op een dag, in al die provinsies van koning Agashverosh, op die dertiende van die twaalfde maand, dit is die maand Adar. 13’n Afskrif van die skrywe is uitgereik in elke provinsie en verklaar aan al die volke dat die Y’hudahiete op dié dag gereed moes wees om hulle op hul vyande te wreek. 14Die hardlopers, perderuiters en dromedarisse het vanuit die paleis in Shushan uitgegaan, verhaas deur die opdrag en bevel van die koning.

15Toe het Mordekhai uit die koning se teenwoordigheid weggegaan in koninklike klere van blou en fyn wit linne, met ’n goue kroon op en ’n bo-kleed van fyn wit linne en pers stof en die stad Shushan het gejubel en was bly. 16Die Y’hudahiete het lig, blydskap, vreugde en eer gehad 17en in elke provinsie en in elke stad waar die bevel van die koning en sy wet ook al gekom het, het die Y’hudahiete groot vreugde, ’n fees en ’n goeie dag gehad. Baie uit die volke van die land het verskrik geword, want vrees vir die Y’hudahiete het op hulle geval.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Esther 7
Top of Page
Top of Page