Ester 1
Afrikaans PWL
1Nou, dit het gebeur in die dae van Agashverosh, wat oor Indië en selfs tot by Kush, oor ’n honderd sewe en twintig provinsies, geheers het; 2in die dae toe koning Agashverosh op die troon van sy koninkryk, in die paleis van Shushan, gesit het, 3in die derde jaar van sy regering, dat hy ’n groot fees vir al sy prinse, sy diensknegte, die sterk manne van die Perse en die Mede, die koning se edelmanne en die goewerneurs van die provinsies wat voor hom was, gehou het. 4Toe het hy vir hulle die rykdom van sy wonderlike koninkryk gewys en die eer van sy grootheid vir baie dae, ’n honderd en tagtig dae lank.

5Toe hierdie dae verby was, het die koning vir al die mense wat in die Shushan paleis was, klein en groot, ’n fees gehou vir sewe dae lank, in die hof van die tuin van die koning se paleis. 6Daar was gordyne van wit katoen en wol en behangsels van pers, vasgebind met koorde van fyn linne en pers stowwe aan silwerringe en marmerpilare! Die sitbanke was van goud en silwer op ’n plaveisel van marmer en die matte was van fyn linne en sy! 7Hulle het aan die gaste drankies gegee in bekers van goud, elkeen verskillend van mekaar en koninklike wyn in oorvloed, volgens die vrygewigheid van die koning! 8Die drinkery was volgens die wet, niemand is gedwing nie, want so het die koning bevel gegee aan al die kelners van sy huishouding, dat hulle volgens elkeen se begeerte moes doen. 9Vashti, die koningin, het ook ’n groot fees vir al die vroue in die koninklike huis van koning Agashverosh gehou.

10Op die sewende dag, toe die innerlike van die koning vrolik was van die wyn, het hy die lyfknegte, Mehuman, Bizta, Harvona, Bigta, Avagta, Zetar en Karkas, wat in die teenwoordigheid van koning Agashverosh gedien het, beveel 11om koningin Vashti met die koninklike kroon voor die koning te bring om haar skoonheid aan die mense en die prinse te wys, want sy was mooi om na te kyk, 12maar koningin Vasti het geweier om te kom op die bevel van die koning deur die lyfknegte; daarom was die koning woedend en sy woede het in hom gebrand.

13Toe het die koning met die wyse manne, die kenners van die tye, gepraat, want dit was die koning se gebruik, hy het sake bespreek in die teenwoordigheid van almal wat die wet en die reg geken het 14en die wat naaste aan hom was, was Karshna, Shetar, Admata, Tarshish, Meres, Marsna en Memukhan, die sewe prinse van die Perse en die Mede wat in die teenwoordigheid van die koning gesit het en wat voor hom gesien is by die poort van die koninklike paleis. 15“Wat sal ons volgens wet aan koningin Vashti doen omdat sy nie die opdrag van koning Agashverosh, deur sy lyfknegte gegee, uitgevoer het nie?” 16Memukhan het voor die koning en die prinse gesê: “ Vashti, die koningin, het nie alleen verkeerd gedoen teenoor die koning nie, maar ook teenoor al die prinse en al die mense wat in al die provinsies van koning Agashverosh is, 17want hierdie daad van die koningin sal al die vroue bereik sodat hulle mans in hul oë veragtelik sal wees en hulle sal sê: “Koning Agashverosh het bevel gegee om koningin Vashti voor hom in te bring, maar sy het nie gekom nie.” 18Hierdie selfde dag nog sal al die prinsesse van die Perse en die Mede, wat van die daad van die koningin gehoor het, dit aan al die prinse van die koning vertel. So sal daar baie veragting en woede wees! 19As dit die koning tevrede stel, laat daar ’n koninklike bevel van hom af uitgaan en geskryf word in die wette van die Mede en die Perse sodat dit nie verander kan word nie dat Vashti, die koningin, nie meer na koning Agashverosh mag kom nie en laat die koning haar koninklike posisie gee aan ’n ander wat beter is as sy 20en die koning se bevel moet verkondig en publiseer word in sy hele koninkryk, want dit is groot sodat alle vroue, groot en klein, aan hulle mans eer sal betoon.”

21Die woord het die koning en die prinse tevrede gestel en die koning het gedoen volgens die raad van Memukhan 22en briewe aan al die koning se provinsies gestuur, na elke provinsie volgens sy eie skrif en aan elke volk volgens sy eie taal sodat elke man outoriteit in sy eie huis moet dra en dat dit in elke volk se taal gepubliseer moet word.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Nehemiah 13
Top of Page
Top of Page