Prediker 10
Afrikaans PWL
1Soos dooie vlieë wat die houer met kosbare salfolie laat stink, so weeg ’n groot dwaasheid meer as wysheid en eer. 2Die wyse man dink reg, maar die dwaas dink verkeerd. 3Ja, ook as die dwaas verbyloop, ontbreek hy aan wysheid en hy sê aan elkeen dat hy ’n dwaas is. 4As die humeur van die heerser teen jou opkom, moenie jou land verlaat nie, want genesing vergewe baie sondes.

5Daar is ’n boosheid wat ek onder die son gesien het, soos ’n fout wat vanaf ’n heerser uitgaan: 6die dwaas word op hoë en kragtige plekke geplaas en die rykes sal in lae plekke sit. 7Ek het slawe gesien wat op perde ry en prinse wat soos slawe op die grond loop.

8Hy wat ’n put grawe, sal daarin val en hy wat ’n omheining afbreek, sal deur ’n slang gebyt word. 9Hy wat landmerke verwyder sal deur hulle gepynig word en hy wat bome sny sal deur hulle gewond word. 10Soos die snykant van ’n wapen stomp mag wees en nie skerp gemaak is nie, maar tog baie mag neerslaan, so is wysheid meer voordelig vir hulle wat hardwerkend is. 11Die slang sal byt sonder om betower te word en hy wat baie praat is nie beter nie. 12Die woorde uit die mond van ’n wyse man is aangenaam, maar die lippe van ’n dwaas sal homself vernietig. 13Die begin van die woorde van sy mond is dwaasheid en die einde van sy praatjie is skadelike gekheid. 14’n Dwaas vermenigvuldig woorde. ’n Mens weet nie wat gebeur nie en wat ná hom sal wees, wie kan vir hom vertel? 15Die harde werk van die dwaas vermoei hom omdat hy nie weet hoe om te koop en te verkoop in die stad nie. 16Wee jou, o land, as jou koning ’n kind is en as jou prinse in die oggend vroeg eet. 17Geseënd is jy, o land, as jou koning die seun van ’n edelman is en as jou prinse op die regte tye eet, vir krag en nie vir dronkenskap nie. 18Deur luiheid sal ’n dak afgebreek word en deur niksdoen van die hande lek die water deur. 19Brood en wyn word gemaak vir vreugde en olie maak die lewe vrolik, maar geld bring mense ondertoe en laat hulle dwaal in alle dinge. 20Moenie die koning vloek nie, selfs nie in jou gedagtes nie en moenie die rykes in jou slaapkamer vloek nie, want ’n voël van die lug sal jou stem dra en dit wat vlerke het, sal die saak vertel.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Ecclesiastes 9
Top of Page
Top of Page