Deuteronomium 32
Afrikaans PWL
1“Luister, O hemele en laat my praat en laat die aarde die woorde van my mond hoor.

2Laat my lering drup soos die reën, my woord kondenseer soos die dou, soos die druppels op die jong gras en soos die stortreën op die kruie,

3want ek verkondig die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה; reken grootheid toe aan ons God!

4Die Rots! Sy werke is volmaak, want al Sy metodes is regverdig; ’n Magtige God van vertrouenswaardigheid en sonder onreg; Regverdig en Opreg is Hy.

5Hulle het afbrekend teenoor Hom gehandel; hulle is nie Sy seuns nie, as gevolg van hulle onreinheid, maar is ’n valse en verdraaide geslag.

6Betaal julle יהוה so terug, o dwase en onwyse volk? Is Hy nie jou Vader wat jou gekoop het nie? Het Hy jou nie gemaak en jou bevestig nie?

7Onthou die ou dae, beskou die jare van alle geslagte. Vra jou vader en hy sal jou inlig, jou oudstes en hulle sal jou vertel.

8Toe `Elyon (die Allerhoogste) aan die nasies hulle erfdeel gegee het, toe Hy die seuns van die mens van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die seuns van Yisra’el,

9want יהוה se deel is Sy volk, Ya’akov is die toewysing van Sy erfenis.

10Hy het hom gevind in ’n woestynland, in ’n woeste gehuil van ’n wildernis. Hy het hom omring, vir hom omgegee, hom bewaak soos die appel van Sy oog;

11soos ’n arend wat Sy nes opbreek, oor Sy kleintjies sweef, Sy vlerke oopsprei en hulle vang; hulle dra op Sy vlerke.

12יהוה alleen het hom gelei en daar was geen vreemde god by hom nie.

13Hy het hom laat ry op die hoë plekke van die aarde en hy het die opbrengs van die veld geëet; Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die harde rots;

14dikmelk vanaf beeste en melk vanaf kleinvee, met die vet van lammers, ramme van Bashan en bokke, met die fynste van die koring en van die bloed van druiwe het jy wyn gedrink,

15maar Yeshurun het vet geword en geskop; hy het vet, dik en blink geword; toe het hy die God verwerp wat hom gemaak het en die Rots van sy verlossing geminag.

16Hulle het Hom jaloers gemaak met vreemde gode; deur verwerplikhede het hulle Hom uitgetart tot woede.

17Hulle het aan demone geoffer, wat nie God is nie, aan gode wat hulle nie geken het nie; nuwes wat onlangs gekom het, vir wie julle vaders nie bang was nie.

18Die Rots wat jou verwek het, het jy verwaarloos en jy het die Magtige God vergeet wat aan jou geboorte gegee het.

19יהוה het dit gesien en Hy het hulle verwerp as gevolg van die uittarting van Sy seuns en dogters.

20Toe het Hy gesê: “Ek sal My gesig vir hulle wegsteek, Ek sal sien wat hulle einde sal wees, want hulle is ’n verdorwe geslag, seuns in wie geen vertrouenswaardigheid is nie.

21Hulle het My jaloers gemaak met wat nie God is nie, My uitgetart tot woede met hulle afgode. Ék sal hulle dus jaloers maak met dié wat nie ’n volk is nie, deur ’n dwase nasie sal Ek hulle uittart tot woede,

22want ’n vuur is aangesteek in My woede en brand tot in die laagste dele van Sh’ol, dit het die aarde met sy opbrengs verteer en die fondamente van die berge aan die brand gesteek.

23Ek sal booshede op hulle ophoop; My pyle sal Ek op hulle gebruik.

24Hulle sal uitgeput wees van honger en verteer deur plae en bitter vernietiging. Ek sal die tande van wilde diere teen hulle stuur met die gif van dinge wat in die stof kruip.

25Buitekant sal die swaard beroof en binne die angs; die jongman, sowel as die maagd, die suigeling saam met die grysaard.

26Ek sou gesê het: ‘Ek sal hulle aan stukke sny, hulle gedagtenis onder die mense verwyder,’

27as dit nie was dat die woede van die vyand sal sê dat hy sterk geword het nie en die teëstanders sal sê: ‘Ons hand was triomfantlik en יהוה het dit nie alles gedoen nie,’ sou ek hulle vernietig het,

28want hulle is ’n nasie sonder planne en daar is geen begrip in hulle nie.

29Was hulle maar wys dat hulle hierdie sou verstaan dat hulle hul toekoms kon onderskei.

30Hoe kan een ’n duisend jaag en twee tien duisend laat vlug, was dit nie dat hul Rots hulle verkoop en יהוה hulle oorgelewer het nie?

31Inderdaad is hulle rots nie soos ons Rots nie; selfs ons vyande oordeel so,

32want hulle wingerdstok is van die wingerdstok van S’dom en uit die veld van `Amorra. Hulle druiwe is druiwe van gif, hulle trosse bitter.

33Hulle wyn is die gif van slange en dodelike gif van kobras.

34Is dit nie by My gestoor, in My skatkamers verseël nie?

35Wraak en die terugbetaling is Myne. Kort voor lank sal hulle voet gly, want die dag van hulle ondergang is naby en wat oor hulle moet kom, haas op hulle af,

36want יהוה sal Sy volk vryspreek en Hy sal omgee hê vir Sy diensknegte wanneer Hy sien dat hulle krag weg is en daar niemand, gebind of vry, oor is nie.

37Dan sal Hy sê: “Waar is hulle gode, die rots waar hulle skuiling gesoek het?

38Wie het die vet van hulle slagoffers geëet en die wyn van hulle drankoffer gedrink? Laat hulle opstaan en julle help, laat hulle julle skuilplek wees!

39Sien nou, Ek Is Hy en daar is geen god naas My nie. Dit is Ek wat doodmaak en lewe gee. Ek het gewond en dit is Ek wat genees en daar is niemand wat uit My hand kan red nie.

40Inderdaad, Ek lig My hand op na die hemele en sê: ‘So waar as wat Ek ewig leef,

41as Ek My glinsterende swaard skerp maak en My hand na regverdige oordeel gryp, sal Ek wraak uitoefen op My teëstanders en My haters terugbetaal.

42Ek sal My pyle dronk maak met bloed en My swaard sal vlees verteer met die bloed van die verslaande en die gevangene, vanaf die langhaar leiers van die vyand.’

43Skreeu uit van vreugde, O nasies, saam met Sy volk, want Hy sal die bloed van sy diensknegte vergeld, wraak uitoefen op Sy teëstanders en toedekking doen vir Sy land en Sy volk.”

44Toe het Moshe gekom en al die woorde van hierdie lied gesê waar die volk kon hoor, hy, saam met Y’hoshua, die seun van Nun. 45Toe Moshe al hierdie woorde klaar vir die hele Yisra’el gesê het, 46het hy vir hulle gesê: “Gee ag op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, wat julle vir jul seuns moet beveel om versigtig na te kom, al die woorde van hierdie wet, 47want dit is nie ’n leë woord vir julle nie, inderdaad is dit julle lewe en deur hierdie woord sal julle jul dae verleng in die land waarheen julle deur die Yarden trek, om dit te besit.

48יהוה het op dieselfde dag met Moshe gepraat en gesê: 49“Gaan op die berg N’vo, in hierdie `Avarim bergreeks, wat in die land van Mo’av is, oorkant Yerigo en kyk na die land Kena’an, wat Ek vir die seuns van Yisra’el as besitting gee 50en sterf op die berg waarheen jy opklim en word bymekaargemaak by jou volksgenote, soos jou broer Aharon gesterf het op die berg Hor en by sy volksgenote bymekaar gemaak is 51omdat julle onder die seuns van Yisra’el vertroue met My gebreek het by die waters van M’rivat-Kadesh, in die wildernis van Tzin omdat julle My nie as afgesonderd behandel het tussen die kinders van Yisra’el nie, 52want jy sal die land op ’n afstand sien, maar jy sal nie daarheen gaan nie, na die land wat Ek aan die seuns van Yisra’el gee.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Deuteronomy 31
Top of Page
Top of Page