Handelinge 5
Afrikaans PWL
1’n Man met die naam van Gananyah het, saam met sy vrou Shappirah, ’n eiendom verkoop 2en, met die medewete van sy vrou, van die prys teruggehou en ’n sekere deel gebring en aan die voete van die afgevaardigdes neergesit. 3Shim’on sê vir hom: “Gananyah, waarom het die Teëstander jou verstand, wil en emosie hierdeur volgemaak om vir die Gees van Afsondering te lieg en om van die prys van die grond terug te hou? 4Was dit nie joune totdat dit verkoop is nie? Toe dit verkoop is, was die inkomste nie onder jou outoriteit nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou gedagtes en wil besluit het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” 5Toe Gananyah hierdie boodskap hoor, het hy dood neergeval en ’n groot vrees het oor almal gekom wat dit gehoor het. 6Toe het die jongmanne onder hulle opgestaan, hom opgetel, uitgedra en begrawe.

7Drie ure later kom ook sy vrou in, onbewus van wat gebeur het. 8Shim’on vra vir haar: “Sê vir my, het julle die grond vir soveel verkoop?” Sy antwoord: “Ja, vir soveel.” 9Shim’on sê vir haar: “Omdat julle ooreengekom het om die Gees van יהוה te toets, let op, die voete van díé wat jou man begrawe het, is by die deur en hulle sal jou uitdra.” 10Onmiddellik het sy voor hulle voete neergeval en is dood en die jongmanne het ingekom, haar dood gekry, haar uitgedra en by haar man begrawe 11en groot vrees het oor die hele gemeente gekom; oor almal wat dit gehoor het.

12Deur die hande van die afgevaardigdes het daar baie wonderwerke en tekens onder die mense gebeur en hulle het almal bymekaargekom in die pilaargang van Shlomo 13en niemand van die ander het dit gewaag om met hulle te vereenselwig nie, maar die mense het voortgegaan om hulle hoog te ag. 14Baie het bygekom wat in יהוה vertrou, skares van manne, sowel as vroue 15sodat hulle die siekes op die strate uitgedra en in groepe gelê het sodat, as Shim’on kom, ten minste sy skaduwee op hulle sou val. 16Baie mense het na hulle toe gekom van ander stede wat rondom Yerushalayim is en siekes en mense wat deur onrein geeste gepla was, gebring en hulle is almal gesond gemaak.

17Die hoofpriester en almal wat by hom was van die leer van die Sadduseërs, was vol jaloesie 18en hulle het die hande aan die afgevaardigdes geslaan, hulle gevang en vasgebind in die openbare tronk. 19Toe, in die nag, het ’n boodskapper van יהוה die deure van die tronk oopgemaak en hulle uitgelei en vir hulle gesê: 20“Gaan staan in die tempel en sê vir die mense al hierdie woorde van lewe.” 21Hulle het met sonsopkoms uitgegaan en in die tempel ingegaan en begin leer, maar die hoofpriester en die wat saam met hom was, het gekom en die Raad en al die oudstes van Yisra’el bymekaargeroep en hulle het na die tronk toe gestuur om die afgevaardigdes te laat haal. 22Toe die wat gestuur is hulle nie in die tronk kry nie, het hulle teruggegaan 23en gesê “Ons het die tronk in alle sekuriteit toegesluit gekry en die wagte het buite voor die deure gestaan, maar daar was niemand binne nie.”

24Toe die hoofpriester, die kaptein van die tempelwagte en die leierpriesters hierdie boodskap hoor, was hulle verward daaroor en het gewonder wat dit is. 25Iemand kom en rapporteer aan hulle: “Let op, dieselfde manne wat julle in die tronk gesit het, staan in die tempel en leer die mense.” 26Daarop gaan die kaptein van die tempelwag en sy ondergeskiktes en bring hulle, maar nie met geweld nie, want hulle was bang dat die mense hulle sou stenig.

27Hulle het hulle gebring en voor die hele Raad laat staan en die hoofpriester het hulle gevra: 28“Het ons julle nie met ’n opdrag beveel om niemand in dié Outoriteit en Karakter te leer nie? Let op, julle het Yerushalayim volgemaak met julle leer en julle wil ons verantwoordelik maak vir die bloed van hierdie Man.” 29Shim’on en die afgevaardigdes antwoord hulle en sê: “Dit is nodig om aan God meer gehoorsaam te wees as aan mense. 30Die God van ons voorvaders het Yeshua, wat julle vermoor het deur Hom aan ’n hout op te hang, laat opstaan. 31Hom het God as Hoof en Lewegewer aangestel en Hom aan Sy regterhand verhef om aan Yisra’el erkenning, berou en vergifnis van sondes te gee 32en ons, asook die Gees van Afsondering wat God gegee het aan die wat in Hom vertrou, is Sy getuies van hierdie dinge.”

33Toe hulle hierdie woorde hoor, was hulle woedend met ’n passie en hulle het oorweeg om hulle dood te maak. 34Een van hulle, ’n Fariseër met die naam van Gamali’el, wat die wet geleer het en by almal hoog in aansien was, het opgestaan 35en beveel dat die afgevaardigdes ’n rukkie uitgevat word en vir hulle gesê: “Manne van Yisra’el, let op julleself wat reg is om te doen met hierdie manne, 36want voor hierdie het Todah opgestaan en gesê dat hy iets besonders was. By hom het ’n aantal mense, omtrent vier honderd, aangesluit. Hy is gedood en almal wat na hom geluister het, is uitmekaargejaag en het tot niks gekom nie. 37Ná hom het Y’hudah, van die Galil, opgestaan, in die dae van die inskrywing vir belasting en ’n aansienlike getal mense laat afdwaal agter hom aan. Ook hý is dood en almal wat na hom geluister het, is uitmekaar. 38Nou sê ek vir julle, bly weg van hierdie manne en los hulle uit, want as hierdie beweging of hierdie dade vanuit mense is, sal hulle uitmekaarspat en verbygaan, 39maar as dit vanuit God is, kan julle dit nie vernietig nie sodat dit nie dalk gevind word dat julle teen God staan nie.”

40Hulle is deur hom oortuig en nadat hulle die afgevaardigdes ingeroep het, het hulle hul laat slaan en hulle beveel om nie in die Outoriteit en Karakter van Yeshua te praat nie en hulle vrygelaat. 41Hulle het van hulle af weggegaan, verheug dat hulle waardig geag is om ter wille van Sy Karakter en Outoriteit oneer te ly 42en hulle het nie opgehou om elke dag in die tempel en aan huis te leer en die goeie boodskap te verkondig aangaande Yeshua Die Gesalfde Een nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 4
Top of Page
Top of Page