Handelinge 24
Afrikaans PWL
1Na vyf dae het die hoofpriester, Gananyah, die oudstes en ’n sekere advokaat, Tertullos, afgekom en hulle saak teen Sha’ul by die goewerneur gebring. 2Toe hy geroep is, begin Tertullos hom beskuldig en sê: “Deur u leef ons in oorvloed van rustigheid en deur u versorging het hierdie nasie uitstekende stabiliteit 3en ons almal, in elke plek, ontvang u onverdiende guns, Hoogedele Felix. 4Om u egter nie moeg te maak met baie dinge nie, versoek ek u om ons eenvoudigheid kortliks aan te hoor, 5want ons het gevind dat hierdie man ’n verleier en ’n opstoker is van moeilikheid onder al die Jode in die wêreld, ’n leier is van die sekte van die Natzereners 6en probeer het om ons tempel te onteer. Ons het hom gevang en wou hom volgens ons wet oordeel, 7maar Lusias, die bevelvoerder oor ’n duisend, het gekom, hom met groot geweld uit ons hande gevat, na u gestuur 8en beveel dat sy aanklaers voor u moet kom. U sal self, ná ondervraging, kan leer van al hierdie dinge waarvan ons hom beskuldig.” 9Toe het die Jode ook saam uitgeroep en gesê: “Hierdie dinge is so.”

10Nadat die goewerneur vir hom gewys het om te praat, het Sha’ul geantwoord: “Omdat ek weet dat u al baie jare lank oor hierdie nasie regter is, verdedig ek my saak met blydskap. 11Soos u mag weet, is dit nie meer as twaalf dae sedert ek opgekom het na Yerushalayim om te aanbid nie 12en hulle het my ook nie in die tempel gekry, besig om met iemand te praat of ’n skare bymekaar te maak in hulle bymekaarkomplekke of in die stad nie. 13Hulle het ook nie die dinge waarvan hulle my nou beskuldig, voor u bewys nie, 14tog erken ek voor u dat ek volgens die leer waarvan hulle praat, die God van my vaders dien terwyl ek voortgaan om alles te vertrou wat volgens die wet is en wat in die profete geskryf is, 15terwyl ek ’n versekerde verwagting van God het, wat hulle self ook verwag, dat daar ’n opstanding sal wees van dié wat dood is, beide van onskuldiges sowel as die bose; 16daarom oefen ek my ook voortdurend om altyd voor God en die mense ’n rein gewete te hê, 17maar ná baie jare het ek gekom om ’n omgeegeskenk (aalmoes) aan my nasie te bring en om te offer. 18Hiermee was ek besig, nie met mense of met ’n oproer nie, toe sekere Jode uit Asië my in die tempel gekry het nadat ek gereinig is. 19As hulle, die Jode van Asië, mense opgestook het, behoort hulle hier voor u te wees om aanklagte in te bring as hulle iets teen my het. 20Of laat hierdie manne self sê of hulle enige verkeerde dade in my gekry het toe ek voor hulle Raad gestaan het, 21behalwe oor hierdie een stelling wat ek uitgeroep het terwyl ek tussen hulle gestaan het, naamlik: ‘Oor die opstanding van die dode word ek vandag voor u geoordeel’!”

22Omdat Felix die dinge aangaande hierdie Lewenswyse ten volle geken het, het hy uitgestel en gesê: “Wanneer die bevelvoerder oor ’n duisend afkom, sal ek julle saak aanhoor.” 23Hy het ook die kaptein oor ’n honderd beveel om Sha’ul te bewaak, met vryheid en dat hy niemand van sy eie mense moes verhinder om hom te bedien nie.

24’n Paar dae later het Felix, saam met Drousilla, sy vrou, wat ’n Jodin was, gekom en Sha’ul laat haal en na hom, aangaande die vertroue in Die Gesalfde Een, geluister, 25maar toe hy praat oor onpartydige opregtheid, afgesonderdheid en die komende oordeel, het Felix baie bang geword en geantwoord: “Gaan weg vir nou en as ek ’n kans kry, sal ek jou laat roep.” 26Hy het ook gehoop dat Sha’ul hom geld sou gee om hom los te laat; daarom het hy hom ook gereeld laat haal en met hom gepraat, 27maar twee jaar het verbygegaan en toe kry Felix vir Porkios Festos as opvolger en omdat Felix aan die Jode ’n guns wou bewys, het hy Sha’ul as gevangene agtergelaat.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 23
Top of Page
Top of Page