Afrikaans PWL 1Sha’ul het die vergadering stip aangekyk en gesê: “Broers, ek het met ’n volkome goeie gewete voor God geleef tot op hierdie dag.”
2Die hoofpriester, Gananyah, het dié wat langs hom staan, beveel om hom op die mond te slaan.
3Toe sê Sha’ul vir hom: “God sal jou slaan, wit gewaste muur! Jy sit om my volgens die wet te beoordeel en beveel jy, in stryd met die wet, dat ek geslaan moet word?”
4Die wat langs hom staan, sê: “Beskuldig jy die priester van God?”
5Sha’ul sê: “Ek het nie geweet, broers, dat hy priester is nie, want daar staan geskrywe: ‘Van ’n heerser van jou mense mag jy nie kwaad praat nie’.” 6Toe Sha’ul besef dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: “Broers, ek is ’n Fariseër, die seun van ’n Fariseër en oor die versekerde verwagting van die opstanding van die wat dood is, word ek geoordeel.” 7Toe hy dit sê, het daar ’n stryery ontstaan tussen die Fariseërs en die Sadduseërs en die mense het verdeeld geraak, 8want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie en ook geen engel of gees nie, maar die Fariseërs bely dit alles. 9Daar was ’n groot geraas en die leraars van die wet, van die party van die Fariseërs, het opgestaan en met hulle geargumenteer en gesê: “Ons vind geen boosheid in hierdie man nie en as ’n gees of ’n engel met hom gepraat het, wat daarvan?” 10Toe daar ’n groot stryery ontstaan het en die bevelvoerder oor ’n duisend bang was dat Sha’ul deur hulle verskeur sou word, het hy die Romeinse soldate beveel om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp in te bring. 11Toe dit nag was, het ons Meester by Sha’ul gestaan en gesê: “Wees sterk, want net soos jy aangaande My in Yerushalayim getuig het, net so moet jy ook in Rome getuig.” 12Met dagbreek het sommige van die Jode bymekaargekom en hulleself met ’n eed verbind deur te sê dat hulle nie sou eet of drink voordat hulle Sha’ul doodgemaak het nie. 13Daar was meer as veertig wat hierdie verbond met ’n eed gesweer het. 14Hulle het na die priesters en die oudstes toe gegaan en gesê: “Ons het ons met ’n eed tot vervloeking verbind om niks te eet totdat ons Sha’ul doodgemaak het nie. 15Vra nou, saam met die leiers van die Raad, aan die bevelvoerder oor ’n duisend om hom môre af te bring na u toe, asof u sy optrede noukeuriger wil ondersoek en ons is gereed om hom dood te maak voordat hy by u kom.” 16Die seun van Sha’ul se suster het van die hinderlaag gehoor en het in die kamp ingegaan en dit aan Sha’ul vertel. 17Sha’ul het een van die kapteins oor ’n honderd nader geroep en gesê: “Vat hierdie jongman na die bevelvoerder oor ’n duisend, want hy het iets om hom te vertel.” 18Daarop vat hy hom saam en bring hom by die bevelvoerder oor ’n duisend en sê: “Die gevangene, Sha’ul, het my geroep en gevra om hierdie jongman na u toe te bring omdat hy iets het om aan u te vertel.” 19Daarop vat die bevelvoerder oor ’n duisend hom by die hand en gaan eenkant toe en vra: “Wat het jy om aan my te vertel?” 20Die jongman sê vir hom: “Die Jode het ooreengekom om u te vra om Sha’ul môre af te bring na die Raad, asof hulle hom meer noukeurig wil ondervra. 21U moet hulle nie vertrou nie, want let op, meer as veertig man onder hulle, wat hulleself met ’n eed verbind het om nie te eet of te drink totdat hulle hom dood gemaak het nie, lê hom voor en let op, hulle is nou gereed en wag op u belofte.” 22Die bevelvoerder oor ’n duisend het die jongman laat gaan en hom beveel: “Vertel aan niemand dat jy my ingelig het nie.” 23Hy het twee van die kapteins oor ’n honderd na hom toe geroep en gesê: “Kry twee honderd soldate en sewentig ruiters en twee honderd regshandige skuts, gereed om die derde uur (nege-uur) vanaand na Kaisareia te gaan, 24asook pakdiere sodat hulle Sha’ul daarop kan sit en veilig deurkry na Felix, die goewerneur.” 25Hy het in ’n brief, wat hy vir hulle wat by hom was, gegee het, as volg geskryf: 26“Klaudios Lusias aan die hoogedele goewerneur Felix: Groete! 27Hierdie man is deur die Jode gevang om hom dood te maak en ek het hom met die soldate gehelp en hom gered toe ek verneem dat hy ’n Romein is. 28Toe ek te wete wou kom wat die aanklag was waarvan hulle hom beskuldig, het ek hom na hulle Raad afgebring 29en uitgevind dat hy beskuldig word oor strydvrae van hulle wet, maar dat hy nie aangekla word van iets wat die dood of gevangeskap verdien nie. 30Omdat aan my gerapporteer is dat daar ’n komplot teen die man gesmee word deur die Jode, het ek hom dadelik na u gestuur en ook sy aanklaers gevra om, wat hulle teen hom het, voor u te bring. Gesondheid!” 31Daarop het die soldate vir Sha’ul gevat, soos hulle beveel is en hom in die nag na Antipatris gebring. 32Die volgende dag het die ruiters die voetsoldate teruggestuur kamp toe 33en hulle het hom afgebring na Kaisareia toe, die brief aan die goewerneur oorhandig en Sha’ul voor hom gebring. 34Toe die goewerneur die brief lees, vra hy uit watter provinsie hy was en toe hy verneem dat hy uit Kilikia is, 35sê hy vir hom: “Ek sal jou aanhoor wanneer jou aanklaers ook aangekom het.” Toe gee hy bevel dat hy in die paleis van Herodes bewaak moes word. Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission. Bible Hub |