Handelinge 20
Afrikaans PWL
1Nadat die oproer verby was, het Sha’ul die studentevolgelinge na hom toe laat kom, hulle vertroos, gesoen en na Makedonia vertrek. 2Nadat hy deur daardie streke gegaan en hy hulle met baie boodskappe bemoedig het, het hy in Griekeland gekom, 3waar hy drie maande gebly het. Toe die Jode teen hom saamgesweer het terwyl hy juis na Sirië wou afvaar, het hy besluit om deur Makedonia terug te gaan. 4Tot in Asië het Sopatros van Beroia, hulle van Thessalonike, Aristargos en Sekundos, Timotheos en Gaios van Derbe, saam met hom gegaan, maar Tugikos en Trofimos, vanuit Asië, 5het vooruitgegaan en in Troas op ons gewag. 6Ná die ‘Dae van die Ongesuurde Brode’ het ons van Filippi af geseil en in vyf dae by hulle in Troas gekom, waar ons sewe dae lank gebly het.

7Op die eerste dag van die week, toe ons vergader het om die brood van Yeshua se herdenking te breek, het Sha’ul met hulle gepraat en omdat hy die volgende dag sou vertrek, het hy sy boodskap verleng tot middernag toe. 8Daar was baie lampe wat gebrand het in die boonste vertrek waar ons bymekaargekom het 9en ’n jongman met die naam van Eutugos het in die venster gesit en luister en is oorval met ’n diep slaap toe Sha’ul nog lank gepraat het en in sy slaap het hy vanaf die derde verdieping geval en is dood opgetel. 10Toe gaan Sha’ul ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: “Moenie verontrus wees nie, want sy gees is in hom.” 11Hy het toe boontoe gegaan, brood gebreek en geëet en nadat hy nog ’n geruime tyd gepraat het; tot dagbreek toe; het hy vertrek. 12Hulle het die seun lewend huis toe geneem en hulle saam met hom verheug,

13maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assos, waar ons van plan was om Sha’ul aan boord te neem, want so het hy dit beplan omdat hy self te voet wou gaan. 14Toe hy ons dan in Assos ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitulene gekom. 15Die volgende dag het ons van daar af weggevaar en teenoor Gios gekom en die dag daarna na Samos oorgevaar en in Trogullion oorgebly en die dag daarop by Miletos gekom, 16want Sha’ul het besluit om by Efesos verby te vaar sodat hy nie in Asië tyd sou spandeer nie, want hy het gou gemaak om, as dit vir hom moontlik was, die ‘Fees van Weke’ (Shavu’ot) in Yerushalayim te vier.

17Hy het van Miletos af na Efesos gestuur en die oudstes van die gemeente laat roep. 18Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet self hoe ek, van die eerste dag dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle was 19as slaaf vir God, met alle nederigheid, baie trane en toetse wat oor my gekom het deur die samewerings van die Jode. 20Ek het niks, wat goed vir julle gees is, nagelaat om aan julle te verkondig en julle te leer in die openbaar en in julle huise, nie, 21terwyl ek teenoor die Jode, sowel as die Arameërs, getuig het om terug te draai huis toe: wat in die Teenwoordigheid van God is en na vertroue: wat in ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een is. 22Nou gaan ek gebind deur die Gees na Yerushalayim en wat my daar sal oorkom, weet ek nie, 23behalwe dat die Gees van Afsondering in elke stad getuig en sê dat kettings en vervolging vir my voorberei word. 24Ek beskou nie my lewe vir myself as iets nie sodat ek my wedloop en die dienswerk wat ek van ons Meester Yeshua ontvang het, om te getuig van die goeie boodskap van die onverdiende guns van God, kan voltooi.

25Nou weet ek dat niemand van julle onder wie ek rondgegaan en die Koninkryk verkondig het, my gesig weer sal sien nie; 26daarom getuig ek teenoor julle vandag dat ek skoon is van elkeen van julle se bloed, 27want ek het nie nagelaat om aan julle die hele wil van God te wys nie. 28Gee dan aandag aan julleself en aan die hele kudde waaroor die Gees van Afsondering julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy met Sy bloed gekoop het. 29Ek weet dat ná my vertrek, kragtige wolwe onder julle sal inkom wat geen omgee vir die kudde het nie. 30Uit julleself sal daar manne opstaan wat verdraaide dinge praat om die studentevolgelinge weg te trek agter hulle aan; 31daarom moet julle waaksaam wees en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om een en almal met trane te waarsku nie. 32Nou, broers, dra ek julle op aan God en aan die boodskap van Sy onverdiende guns, wat in staat is om julle op te bou en julle ’n erfdeel te gee saam met al die afgesonderdes. 33Silwer, goud of klere het ek nie begeer nie, 34maar julle weet self dat hierdie hande voorsien het in my en die wat by my was, se behoeftes. 35Ek het julle in alles gewys dat ons, deur so te werk, die swakkes moet help en die boodskap van ons Meester Yeshua moet onthou, dat Hy gesê het: ‘Sy seën is vir hom wat gee, meer as vir hom wat ontvang’.”

36Nadat hy dit gesê het, het hy gekniel en saam met almal wat by hom was, gebid. 37Almal het baie gehuil en Sha’ul om die nek geval en hom gesoen, 38al te meer bedroef oor die boodskap wat hy gebring het dat hulle sy gesig nie weer sou sien nie en hulle het hom tot by die skip begelei.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Acts 19
Top of Page
Top of Page