2 Samuel 23
Afrikaans PWL
1Nou, hierdie is die laaste woorde van Dawid: “Dawid, die seun van Yishai, verklaar, die man wat hoog opgelig is, verklaar, die gesalfde van die God van Ya’akov en die soet psalmis van Yisra’el:

2die Gees van יהוה praat deur my en Sy woord is op my tong.

3Die God van Yisra’el het gesê, die Rots van Yisra’el het met my gepraat: ‘Hy wat regverdig oor mense heers, wie heers in die respekvolle vrees van God,

4is soos die oggendlig by sonsopkoms, ’n oggend sonder wolke, wanneer grasspruitjies opkom uit die aarde, deur die sonskyn ná die reën.’

5Waarlik, is my huis nie so by God nie? Want Hy het ’n ewige verbond met my gesluit, vasgestel in alle dinge en verseker, want al my redding en begeertes, sal Hy dit nie inderdaad laat groei nie?

6Maar die deugniete, elkeen van hulle sal weggegooi word soos dorings, want hulle kan nie aan die hand gevat word nie,

7maar die man wat hulle aanraak moet bewapen wees met yster en die steel van ’n spies en hulle sal volkome verbrand word met vuur waar hulle is.”

8Hierdie is die name van die magtige manne wat Dawid gehad het: Yoshev-Bashevet, ’n Tag’kmoniet, die hoof van die bevelvoerders; hy is `Adino die Etzniet, genoem omdat hy agt honderd op een slag doodgemaak het; 9ná hom was El’azar, die seun van Dodo, die Agogiet, een van die drie magtige manne by Dawid toe hulle die F’lishtyne geminag het wat daar bymekaar was om te veg en die manne van Yisra’el teruggetrek het. 10Hy het opgestaan en die F’lishtyne geslaan totdat sy hand moeg geword en aan die swaard vasgekleef het en יהוה daardie dag ’n groot oorwinning bewerk het en die manne het teruggekom ná hom net om te buit.

11Ná hom was Shammah, die seun van Age, die Harariet. Die F’lishtyne het bymekaargekom in ’n eenheid waar daar ’n stuk grond was vol lensies en die mense het vir die F’lishtyne gevlug, 12maar hy het gaan staan in die middel van die stuk grond, dit verdedig en die F’lishtyne verslaan en יהוה het ’n groot oorwinning bewerk.

13Drie van die dertig hoofde het afgegaan en teen die oestyd by Dawid, by die grot van `Adullam, gekom terwyl ’n groep F’lishtyne gekamp het in die vallei van Refa’im. 14Dawid was toe in die vesting terwyl die garnisoen van die F’lishtyne in Beit-Legem was. 15Dawid het ’n begeerte gehad en het gesê: “O, dat iemand vir my water sou gee om te drink uit die put van Beit-Legem wat by die poort is?” 16Die drie magtige manne breek toe deur die kamp van die F’lishtyne en skep water uit die put van Beit-Legem wat by die poort was en vat dit na Dawid toe. Nogtans wou hy dit nie drink nie, maar het dit uitgegooi tot eer van יהוה 17en hy het gesê: “Mag dit ver van my wees, יהוה, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed drink van die manne wat in lewensgevaar gegaan het?” Hy wou dit daarom nie drink nie. Hierdie dinge het die drie magtige manne gedoen.

18Avishai, die broer van Yo’av, die seun van Tz’ruyah, was hoof van die dertig. Hy het sy spies teen drie honderd geswaai en hulle doodgemaak en het ’n naam saam met die drie gehad. 19Hy was die mees geëerde onder die dertig; daarom het hy hulle bevelvoerder geword, maar hy het nie by die eerste drie gekom nie.

20Dan B’nayah, die seun van Y’hoyada, die seun van ’n dapper man van Kavtze’el, wat magtige dade gedoen het, het die twee seuns van `Ari’el van Mo’av doodgemaak. Hy het ook afgegaan en ’n leeu binne-in ’n gat doodgemaak op ’n dag wat dit gesneeu het. 21Hy het ’n Mitzrayiet doodgemaak, ’n indrukwekkende man. Die Mitzrayiet het ’n spies in die hand gehad, maar hy het na hom toe afgegaan met ’n staf en die spies uit die hand van die Mitzrayiet geruk en hom met sy eie spies doodgemaak. 22Hierdie dinge het B’nayah, die seun van Y’hoyada, gedoen en hy het ’n naam gehad saam met die drie magtige manne. 23Hy was geëerd onder die dertig, maar hy het nie by die eerste drie gekom nie en Dawid het hom aangestel oor sy lyfwag.

24`Asah’el, die broer van Yo’av, was onder die dertig; Elganan, die seun van Dodo, uit Beit-Legem; 25Shammah, die Harodiet; Elika, die Harodiet; 26Heletz, die Paltiet; `Ira, die seun van `Ikesh, van T’koa; 27Avi’ezer, van `Anatot; M’vunai, die Hushatiet; 28Tzalmon, die Agogiet; Mahrai, die N’tofatiet; 29Helev, die seun van Ba’anah, die N’tofatiet; Ittai, die seun van Rivai, uit Giv’ah, van die seuns van Binyamin; 30B’nayahu, die Pir’atoniet; Hiddai, van die spruite van Ga’ash; 31Avi-`Alvon, die `Arvatiet; `Azmavet, die Bagarumiet; 32Elyagba, die Sha’alvoniet, van die seuns van Yashen; Y’honatan; 33Shammah, die Harariet; Agi’am, die seun van Sharar, die Arariet; 34Elifelet, die seun van Agashbai, die seun van die Ma’akhatiet; Eli’am, die seun van Agitofel, die Gilohniet; 35Hetzrai, die Karmeliet; Pa’arai, die Arbiet; 36Yig’al, die seun van Natan, van Tzovah; Bani, die Gadiet; 37Tzelek, die `Ammoniet en Nagrai, die Be’erotiet, die wapendraers van Yo’av, die seun van Tz’ruyah; 38`Ira, die Yitriet; Garev, die Yitriet 39Uriyah, die Hittiet; almal saam sewe en dertig.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Samuel 22
Top of Page
Top of Page