2 Konings 6
Afrikaans PWL
1Die profete-seuns het vir Elisha gesê: “Let nou op, die plek voor u waar ons bly, is te beperk vir ons. 2Laat ons asseblief na die Yarden gaan en elkeen ’n balk daarvandaan gaan haal sodat ons daarvan vir ons ’n plek kan maak waar ons bly. Hy het gesê: “Gaan.” 3Toe sê een: “Gaan asseblief saam met u diensknegte.” Hy antwoord: “Ek sal gaan.” 4Hy het saam met hulle gegaan en toe hulle by die Yarden kom, het hulle bome afgekap, 5maar terwyl een ’n balk kap, val die bylkop in die water en hy roep uit en sê: “Ag, my meester, dit was geleen!” 6Toe vra die man van God: “Waar het dit geval?” Toe hy hom die plek wys, het hy ’n stok afgesny en dit daar gegooi en die yster bo laat dryf. 7Hy het gesê: “Haal dit self uit!” Hy het sy hand uitgesteek en dit gevat.

8Die koning van Aram het oorlog gevoer teen Yisra’el en hy het met sy diensknegte beraadslaag en gesê: “Op dié en dié plek sal my kamp wees.” 9Die man van God het die koning van Yisra’el laat weet: “Pas op dat u nie deur daardie plek trek nie, want die Arameërs kom daar deur.” 10Die koning van Yisra’el het na die plek gestuur waaroor die man van God met hom gepraat het; so het hy hom meer as een of twee keer gewaarsku sodat hy daar op sy hoede was.

11Die verstand, wil en emosie van die koning van Aram was briesend hieroor en hy roep sy diensknegte en sê vir hulle: “Kan julle my vertel wie van ons vir die koning van Yisra’el is?” 12Een van sy diensknegte antwoord: “Nee, my meester, o koning, Elisha, die profeet wat in Yisra’el is, vertel aan die koning van Yisra’el die woorde wat u in u slaapkamer praat.” 13Hy het gesê: “Gaan kyk waar hy is sodat ek kan stuur en hom laat vang.” Dit is vir hom vertel en gesê: “Let op, hy is in Dotan.” 14Hy het perde, strydwaens en ’n groot leër daarheen gestuur en hulle het in die nag gekom en die stad omsingel.

15Toe die lyfbediende van die man van God vroeg opgestaan en uitgegaan het, let op, het ’n leër met perde en strydwaens om die stad beweeg. Sy dienskneg sê vir hom: “Ag, my meester, wat sal ons doen?” 16Hy antwoord: “Moenie vrees nie, want dié wat by ons is, is meer as dié wat by hulle is.” 17Toe het Elisha gebid en gesê: “יהוה, ek bid, maak sy oë oop sodat hy kan sien.” יהוה het die dienskneg se oë oopgemaak en hy het gesien en let op, die berg was vol perde en strydwaens van vuur reg rondom Elisha. 18Toe hulle na hom toe afkom, het Elisha tot יהוה gebid en gesê: “Ek bid, slaan hierdie mense met blindheid.” Hy het hulle volgens die woord van Elisha met blindheid geslaan. 19Toe sê Elisha vir hulle: “Dit is nie die pad nie en ook nie die stad nie; volg my en ek sal julle na die man toe bring wat julle soek.” Hy het hulle na Shomron gebring.

20Toe hulle Shomron ingekom het, sê Elisha: “יהוה, maak hulle oë oop sodat hulle kan sien.” יהוה het hulle oë oopgemaak en hulle het gesien en let op, hulle was binne-in Shomron! 21Toe hy hulle sien, vra die koning van Yisra’el vir Elisha: “My vader, moet ek hulle doodmaak? Moet ek hulle doodmaak?” 22Hy antwoord: “U mag nie doodmaak nie. Sou u hulle doodmaak wat u met u swaard en u boog as gevangenes weggevoer het? Sit aan hulle brood en water voor sodat hulle kan eet en drink en na hulle meester toe gaan.” 23Hy het ’n groot fees vir hulle voorberei en nadat hulle geëet en gedrink het, stuur hy hulle weg en hulle het na hul meester gegaan. Die plunderende bendes van die Arameërs het nie weer in die land van Yisra’el ingekom nie.

24Dit het later gebeur dat Ben-Hadad, die koning van Aram, sy hele leër bymekaargemaak en opgegaan en Shomron beleër het. 25Daar was ’n groot hongersnood in Shomron en let op, hulle het dit beleër totdat ’n donkiekop verkoop het vir tagtig sikkels silwer en ’n kwart-kab duiwemis vir vyf sikkels silwer. 26Terwyl die koning op die muur verbygaan, roep ’n vrou uit na hom en sê: “Help, my meester, o koning!” 27Hy antwoord: “As יהוה jou nie help nie, waarvandaan sal ek jou help? Van die dorsvloer of van die parskuip?” 28Die koning sê vir haar: “Wat is jou probleem?” Sy antwoord: “Hierdie vrou het vir my gesê: ‘Gee jou seun sodat ons hom vandag kan eet en ons sal môre my seun eet.’ 29Ons het dus my seun gekook en hom geëet en ek het die volgende dag vir haar gesê: ‘Gee jou seun sodat ons hom kan eet,’ maar sy het haar seun weggesteek.” 30Toe die koning die woorde van die vrou hoor, skeur hy sy klere, (hy het op die muur verbygeloop) en die mense het gekyk en let op, hy het ’n roukleed onder aan, teen sy liggaam. 31Toe het hy gesê: “Mag God so aan my doen en meer nog, as die kop van Elisha, die seun van Shafat, vandag op hom sal bly.”

32Elisha het in sy huis gesit en die oudstes het by hom gesit. Die koning het ’n man vanuit sy teenwoordigheid gestuur, maar voordat die boodskapper by hom kom, sê hy vir die oudstes: “Sien julle hoe hierdie seun van ’n moordenaar gestuur het om my kop af te kap? Kyk, wanneer die boodskapper kom, sluit die deur en hou die deur teen hom toe. Is die klank van sy meester se voetstappe nie agter hom nie?” 33Terwyl hy nog met hulle praat, let op, kom die boodskapper af na hom toe en die koning sê: “Let op, hierdie boosheid kom van יהוה; hoekom sou ek langer op יהוה wag?”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Kings 5
Top of Page
Top of Page