2 Konings 3
Afrikaans PWL
1Y’horam, die seun van Ag’av, het koning geword oor Yisra’el in Shomron in die agttiende jaar van Y’hoshafat, koning van Y’hudah en hy het twaalf jaar regeer. 2Hy het boos gedoen in die oë van יהוה, alhoewel nie soos sy vader en sy moeder nie, want hy het die pilaar van Ba’al verwyder wat sy vader gemaak het. 3Nogtans het hy vasgehou aan die sondes van Yarov’am, die seun van N’vat, waarmee hy Yisra’el laat sondig het; hy het nie van hulle afgewyk nie.

4Mesha, die koning van Mo’av, was ’n skaapboer en het aan die koning van Yisra’el ’n honderd duisend lammers en ’n honderd duisend ramme se wol betaal. 5Toe Ag’av gesterf het, het die koning van Mo’av egter teen die koning van Yisra’el rebelleer. 6Koning Y’horam het in daardie tyd uit Shomron uitgegaan en die hele Yisra’el opgeroep. 7Toe het hy woord gestuur na Y’hoshafat, koning van Y’hudah, en gesê: “Die koning van Mo’av het teen my gerebelleer. Sal u saam met my teen Mo’av gaan veg?” Hy antwoord: “Ek sal opgaan; ek is soos u is, my volk soos u volk, my perde soos u perde.” 8Hy vra: “Met watter pad sal ons opgaan?” Hy antwoord: “Die pad van die wildernis van Edom.”

9So het die koning van Yisra’el saam met die koning van Y’hudah en die koning van Edom gegaan en hulle het ’n roete van sewe dae gereis en daar was geen water vir die leër of vir die beeste wat hulle gevolg het nie. 10Toe sê die koning van Yisra’el: “Helaas, יהוה het hierdie drie konings geroep om hulle in die hand van Mo’av te gee!” 11Y’hoshafat vra egter: “Is hier nie ’n profeet van יהוה dat ons deur hom by יהוה navraag kan doen nie?” Een van die koning van Yisra’el se diensknegte antwoord en sê: “Elisha, die seun van Shafat, wat water op die hande van Eliyahu gegooi het, (hom gedien het) is hier.” 12Y’hoshafat sê: “Die woord van יהוה is by hom.” So het die koning van Yisra’el, Y’hoshafat en die koning van Edom na hom toe afgegaan.

13Elisha het vir die koning van Yisra’el gesê: “Wat het ek met u te doen? Gaan na die profete van u vader en die profete van u moeder!” Die koning van Yisra’el antwoord hom: “Nee, want יהוה het hierdie drie konings geroep om hulle in die hand van Mo’av te gee.” 14Elisha sê: “So waar as יהוה-Tzva’ot leef voor wie se Teenwoordigheid ek staan, as dit nie was dat ek die teenwoordigheid van Y’hoshafat, die koning van Y’hudah, geag het nie, sou ek nie na u gekyk of u raakgesien het nie, 15maar bring nou vir my ’n musikant.” Dit het gebeur toe die musikant speel dat die hand van יהוה op hom gekom het. 16Hy het gesê: “So sê יהוה: ‘Maak hierdie vallei vol slote,’ 17want so sê יהוה: ‘Julle sal geen wind of reën sien nie; tog sal hierdie vallei gevul word met water sodat julle sal drink, beide julle, julle beeste en julle ander diere. 18Hierdie is maar ’n geringe ding in die oë van יהוה; Hy sal ook die Mo’aviete in julle hand gee. 19Dan moet julle elke versterkte stad en elke uitgesoekte stad slaan en elke goeie boom afkap, al die waterfonteine toestop en elke goeie stuk grond met klippe bederf.’” 20Dit het die volgende oggend omtrent die tyd dat hulle die offer bring, gebeur dat, let op, water van die kant van Edom af kom en die land is gevul met water.

21Al die Mo’aviete het gehoor dat die konings opgekom het om teen hulle te veg en almal wat in staat was om die wapenrusting aan te trek en ouer, is opgeroep en hulle het op die grens gestaan. 22Hulle het vroeg die oggend opgestaan en die son het op die water geskyn en die Mo’aviete het die water oorkant hulle so rooi soos bloed gesien. 23Toe sê hulle: “Dit is bloed; die konings het sekerlik teen mekaar baklei en die een het die ander neergeslaan. Nou, daarom, Mo’av na die buit!” 24Toe hulle egter by die kamp van Yisra’el kom, het die Yisra’eliete opgestaan en die Mo’aviete verslaan sodat hulle voor hul gevlug het en hulle het vorentoe gegaan, in die land in en die Mo’aviete neergeslaan. 25So het hulle die stede vernietig en elkeen het op elke goeie stuk grond ’n klip gegooi en dit vol gemaak. So het hulle elke waterfontein toegestop en elke goeie boom afgekap totdat hulle in Kir-Hareset die mure gelos het; die slingeraars het egter om dit gegaan en dit getref. 26Toe die koning van Mo’av sien dat die geveg vir hom te swaar is, het hy sewe honderd man wat die swaard uittrek, saam met hom gevat om na die koning van Edom deur te breek, maar hulle kon nie. 27Toe vat hy sy eersgebore seun, wat in sy plek moes heers en offer hom as brandoffer op die muur. Daar het ’n groot toorn teen Yisra’el gekom en hulle het van hom af weggetrek en na hulle land teruggekeer.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Kings 2
Top of Page
Top of Page