2 Korinthiërs 5
Afrikaans PWL
1Ons weet dat, as ons aardse huis, die liggaam, vernietig sal word, ons ’n gebou het wat vanaf God is, ’n huis nie met hande gemaak nie, in die hemel, vir ewig, 2want ook hieroor word ons gemaak om te kreun en verlang ons om ons huis wat vanuit die hemel is, aan te trek 3sodat wanneer ons aangetrek is, ons nie kaal bevind mag word nie, 4want terwyl ons nou nog in díe liggaam is, word ons gemaak om te kreun deur sy gewig en ons wil dit nie uittrek nie, maar oor dit aantrek sodat sy sterflikheid deur die lewe verslind kan word, 5maar Hy wat ons hiervoor voorberei het, is God, wat ook vir ons die deposito van Sy Gees gegee het.

6Omdat ons weet en oortuig is daarvan dat solank as wat ons in die liggaam bly, ons verwyderd is van ons tuiste, van ons Meester, 7want ons leef deur vertroue en nie deur wat ons sien nie, 8vertrou en verlang ons as gevolg hiervan, om uit die liggaam uit te gaan en by ons Meester te wees. 9Ons is toegewyd daaraan om, of ons afwesig of tuis is, Hom tevrede te stel, 10want ons gaan almal staan voor die troon van Die Gesalfde Een sodat elkeen betaling kan ontvang volgens alles wat hy in die liggaam gedoen het; of dit goed is of boos.

11Omdat ons daarom die vrees en respek van ons Meester ken, oortuig ons mense. Voor God is ons openbaar en ek hoop om ook tot julle begrip openbaar te wees, 12want ons prys onsself nie weer aan by julle nie, maar ons gee vir julle ’n geleentheid om te roem oor ons, in die teenwoordigheid van hulle wat hulle op die uiterlike beroem en nie op die verstand, wil en emosie nie, 13want as ons kranksinnig is, is dit vir God en as ons normaal is, is dit vir julle, 14want die liefde van Die Gesalfde Een dring by ons aan om so te redeneer: dat as Een in die plek van elke persoon gesterf het, dan het elke persoon saam met Hom gesterf. 15Hy het in die plek van elke persoon gesterf sodat die wat lewe, nie vir hulleself sal lewe nie, maar vir Hom wat vir elkeen gesterf en opgestaan het.

16Van nou af ken ons niemand meer na die uiterlike nie. Selfs al het ons ook Die Gesalfde Een na die uiterlike geken, ken ons Hom nou nie meer so nie. 17Alles wat daarom in eenheid met Die Gesalfde Een is, is ’n nuwe skepping, die ou orde het daarmee verbygegaan 18en alles het nuut geword vanaf God; Hy wat ons verhouding met Homself herstel het deur Yeshua, Die Gesalfde Een en vir ons die bediening gegee het om dié verhouding te herstel, 19want God, in eenheid met Die Gesalfde Een, het die verhouding van die wêreld met Sy majesteit herstel en nie hulle sondes vir hulle bereken nie en ons eie boodskap van die herstel van die verhouding in ons gesit;

20daarom is ons ambassadeurs namens Die Gesalfde Een, asof God julle uitnooi deur ons; daarom vra ons julle, namens Die Gesalfde Een: laat julle verhouding met God herstel, 21want Hy wat geen sonde geken het nie, het Homself in jou plek ’n sondoffer gemaak sodat ons deur Hom, die onpartydige opregtheid van God kan word.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Corinthians 4
Top of Page
Top of Page