2 Kronieke 8
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur aan die einde van die twintig jaar waarin Shlomo die huis van יהוה en die paleis gebou het, 2dat Shlomo die stede wat Hiram aan hom gegee het, herbou en die seuns van Yisra’el daar laat bly het.

3Shlomo het na Hamat-Tzovah gegaan, dit aangeval en vernietig. 4Hy het Tadmor, wat woes gelaat is soos die wildernis, asook al die voorraadstede gebou 5en vir Beit-Horon-Bo en Beit-Horon-Onder gebou 6en al die voorraadstede wat Shlomo gehad het, asook al die strydwa-stede en die stede vir die perderuiters. Alles wat Shlomo begeer het om te bou in Yerushalayim en in L’vanon en in die hele land van sy heerskappy, het hy gebou.

7Al die mense wat oorgebly het van die Hittiete, Emoriete, P’riziete, Hiviete en Y’vusiete, wat nie van Yisra’el was nie, 8van hulle seuns wat ná hulle oorgebly het in die land, wat die seuns van Yisra’el nie uitgewis het nie, dié het Shlomo arbeiders vir homself gemaak sowel as werkers en belastingpligtiges, tot vandag toe, 9maar van die seuns van Yisra’el het Shlomo geen slawe gemaak in sy koninkryk nie, maar hulle was krygsmanne en bevelvoerders van sy strydwaens en sy perderuiters. 10Hierdie was die goewerneurs en toesighouers van koning Shlomo, vyf honderd en vyftig, wat outoriteit oor die mense, wat die werk gedoen het, uitgevoer het.

11Shlomo het die dogter van Farao uit die stad van Dawid gebring na die huis wat hy vir haar gebou het, want hy het gesê: “Geen vrou sal saam met my bly in die huis van Dawid, die koning van Yisra’el, nie, want die plek waarin die ark van יהוה gekom het, is afgesonderd.”

12Toe het Shlomo brandoffers en vredesoffers aan יהוה gebring op die altaar van יהוה wat hy voor die stoep gebou het. 13Volgens die voorskrifte van elke dag, het hy geoffer volgens die opdrag van Moshe, op die Shabbatte en op die nuwemane en op die vasgestelde feeste, drie maal per jaar, tydens die Fees van Ongesuurde brode, die Fees van Weke en op die Fees van Hutte.

14Hy het volgens die voorskrif van sy vader, Dawid, die afdelings van die priesters vir hulle dienswerk ingedeel, die Leviete vir hulle ampspligte, om voor die priesters te prys en te dien, volgens wat elke dag vereis en vir die poortwagters volgens hulle afdelings om die poorte elke dag te bewaak, want so het Dawid, die man wat God koning gemaak het, beveel. 15Hy het van niks afgewyk wat koning Dawid hom beveel het aangaande die priesters, die Leviete en ten opsigte van al die dienste van die huis, nie.

16So is al die werk van Shlomo in volgorde gedoen vanaf die dag dat die fondasies van die huis van יהוה gelê is totdat al sy werk voltooi is.

17Toe het Shlomo na `Etzyon-Gever gegaan, die dorp oorkant Elot, aan die seekus in die land van Edom. 18Hiram het sy diensknegte per skip gestuur, bekwame seemanne wat weet hoe om skepe in die see te navigeer en hulle het saam met Shlomo se diensknegte na die stad van Ofir gegaan en omtrent vier honderd talente goud gevat en na koning Shlomo gebring.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 7
Top of Page
Top of Page