2 Kronieke 33
Afrikaans PWL
1M’nasheh was twaalf jaar oud toe hy begin heers het en hy het vyf en vyftig jaar lank in Yerushalayim regeer. 2Hy het gedoen wat boos was in die oë van יהוה volgens die werke van die nasies wat יהוה voor die seuns van Yisra’el vernietig het. 3Hy het weer die altare gebou wat Hizkiyahu, sy vader, afgebreek het en hoë plekke opgerig vir die afgode en beelde gemaak van luiperds en hulle aanbid. 4Verder het hy ook al die hemelse magte aanbid in die twee voorhowe van die huis van יהוה. 5Hy het ook altare gebou vir al die magte van die hemel in die twee voorhowe van die huis van יהוה. 6Hy het ook sy seun deur die vuur laat gaan in die groot vallei en hy het voorbodes, waarsêery en towery gepraktiseer en geestesopwekkers en heksery geraadpleeg. Hy het baie booshede in die oë van יהוה gedoen om Hom tot woede te tart. 7Hy het die beeld van die afgod wat vier gesigte het, wat hy gemaak het, in die huis van יהוה opgestel waarvan יהוה aan Dawid en sy seun Shlomo gesê het: “In hierdie huis en in Yerushalayim, wat Ek uit al die stamme van Yisra’el vir Myself gekies het, sal Ek vir ewig My Naam (Karakter en Outoriteit) vestig 8en Ek sal die volk Yisra’el ook nie weer van hierdie land af verwyder wat Ek aan hulle vaders gegee het nie; as hulle maar net aandag wil gee om alles te doen wat Ek hulle beveel het, volgens die hele wet en die instellings en oordele wat My dienskneg Moshe hulle beveel het.” 9M’nasheh het Y’hudah en die inwoners van Yerushalayim laat wegdwaal om bose dade te doen soos die nasies wat יהוה voor die seuns van Yisra’el vernietig het.

10יהוה het met M’nasheh en met Sy volk gepraat, maar hulle het nie geluister nie; 11daarom het יהוה die bevelvoerders van die leër van die koning van Ashur teen hulle gebring, wat M’nasheh lewendig gevang en hom met kettings geboei en na Bavel gevat het. 12In sy benoudheid het hy tot יהוה, sy God, gebid en יהוה, God van sy vaders, baie respekvol gevrees. 13Hy het tot יהוה gebid en Hy het sy stem en gebed gehoor en hom na Yerushalayim in sy koninkryk teruggebring. Toe het M’nasheh geweet dat יהוה God is.

14Na hierdie dinge het hy ’n buitemuur om die stad van Dawid gebou, vanaf die westekant van die spruit van Gigon tot by die ingang na die Vispoort en het die hele Yerushalayim omring met ’n buitemuur en dit hoog gemaak en hy het bevelvoerders van die leërmag in al die versterkte stede van Y’hudah aangestel. 15Hy het die vreemde gode en die afgodsbeeld uit die huis van יהוה verwyder en ook al die altare wat hy op die hoogte van die huis van יהוה en in Yerushalayim gebou het en hulle buitekant die stad gegooi. 16Hy het die altaar van יהוה weer gebou en brandoffers, vredesoffers en dankoffers daarop gebring en Y’hudah beveel om יהוה, die God van Yisra’el, se feeste te hou 17en nie weer te offer tot vreemde gode nie of brandoffers aan hulle te bring nie, maar tot יהוה, hulle God, alleen.

18Die res van die dade van M’nasheh, sy gebed tot sy God en die woorde van die profete wat aangaande hom geprofeteer het in die Karakter en Outoriteit (Naam) van יהוה, die God van Yisra’el, let op, dit is opgeskryf in die Boek van die konings van Yisra’el en Y’hudah; 19sy gebed ook en hoe יהוה sy gebed gehoor het, ook al sy sondes en oortredings en die plekke waar hy altare gebou en priesters aangestel het en die hoë plekke wat hy vir die afgodsbeelde gebou het, let op, hulle is opgeskryf saam met die woorde van Hoza’i. 20M’nasheh is neergelê by sy vaders en hulle het hom in sy eie huis begrawe, in die tuin. Sy seun Amon het in sy plek regeer.

21Amon was twee en twintig jaar oud toe hy begin heers het en hy het twee jaar lank in Yerushalayim regeer. 22Hy het dit gedoen wat boos was in die oë van יהוה, soos sy vader, M’nasheh, gedoen het, want Amon het aan al die beelde en afgode wat sy vader M’nasheh gemaak het, geoffer en hulle gedien. 23Hy het hom nie verneder voor יהוה, sy God, soos sy vader M’nasheh hom verneder het voor יהוה, sy God, nie, maar Amon het meer en meer sonde gedoen. 24Sy diensknegte het teen hom saamgesweer en hom in sy eie huis doodgemaak, 25maar die volk van die land het almal doodgeslaan wat teen koning Amon saamgesweer het en die volk van die land het sy seun, Yoshiyahu, in sy plek koning gemaak.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 32
Top of Page
Top of Page