2 Kronieke 30
Afrikaans PWL
1Hizkiyahu het gestuur na die hele Yisra’el en Y’hudah en het ook briewe geskryf aan Efrayim en M’nasheh, dat hulle sou kom na die huis van יהוה in Yerushalayim, om die Pesag tot eer van יהוה, die God van Yisra’el, te hou, 2want die koning en sy prinse en die hele vergadering van Yisra’el het in Yerushalayim besluit om die Pesag tot יהוה, die God van Yisra’el, in die tweede maand te hou, 3want hulle kon dit nie op die vasgestelde tyd hou nie omdat die priesters hulle nie afgesonder het nie en die volk se leermeesters hulle nie in Yerushalayim laat saamkom het nie. 4Die saak was reg in die oë van die koning en in die oë van die hele volk van Yisra’el. 5Hulle het die opdrag bevestig om dit uit te voer en ’n aankondiging gemaak deur die hele Yisra’el, vanaf Be’er-Sh’va tot by Dan, dat hulle moes kom om die Pesag tot eer van יהוה, die God van Yisra’el, in Yerushalayim te hou, want hulle het dit vir ’n lang tyd nie gehou, soos voorgeskryf is nie. 6Die hardlopers het met die briewe uit die hand van die koning en sy prinse deur die hele Yisra’el en Y’hudah gegaan en volgens die bevel van die koning gesê: “Seuns van Yisra’el, draai julle weer terug na יהוה, die God van Avraham, Yitz’gak en Yisra’el en Hy sal Hom draai tot julle, die wat oorgebly en ontsnap het uit die hand van die konings van Ashur 7en wees nie soos julle vaders en julle broers wat oortree het teen יהוה, die God van ons vaders sodat Hy hulle oorgegee het aan verlatenheid nie, soos julle sien. 8Wees nou nie hardnekkig, soos julle vaders was nie, maar kom in die Afgesonderde Plek wat Hy vir ewig afgesonder het en dien יהוה, julle God, dat die erns van Sy woede van julle af kan wegdraai, 9want Hy het Homself aan julle openbaar, aan julle seuns en broers en Hy sal aan julle liefdevolle omgee bewys deur die wat julle gevange weggevoer het en julle terugbring na hierdie land, want יהוה, julle God, is vol onverdiende guns en omgee en Hy sal nie Sy gesig wegdraai van julle as julle na Hom toe terugdraai nie.”

10Die hardlopers van koning Hizkiyahu het van stad tot stad deur die land van Efrayim en M’nasheh gegaan en selfs tot by Z’vulun, 11maar sommige van die bose manne uit die stam van Asher, Efrayim, M’nasheh en Z’vulun het hulle uitgelag en gespot. 12Nogtans het die res van die manne van hierdie stamme hulle verneder en na Yerushalayim gekom saam met die stam van Y’hudah. Die hand van God was op hulle, om vir hulle ’n eensgesinde verstand, wil en emosie te gee om die opdrag van die koning en sy prinse volgens die woord van יהוה uit te voer.

13Daar het in Yerushalayim baie mense bymekaargekom om die Fees van die Ongesuurde Brode in die tweede maand te hou, ’n baie groot vergadering. 14Hulle het opgestaan en die altare verwyder wat in Yerushalayim was en ook al die wierookaltare van afgode verwyder en in die spruit van Kidron gegooi. 15Toe het hulle die Pesag gevier op die veertiende van die tweede maand en die priesters en die Leviete het hulleself afgesonder en brandoffers in die huis van יהוה ingebring. 16Hulle het op hulle plekke gaan staan, volgens hulle ordes, soos dit geskryf is in die wet van Moshe, die profeet van יהוה; die priesters het die bloed gesprinkel wat hulle uit die hand van die Leviete ontvang het, 17want daar was baie in die vergadering van Yisra’el wat hulleself nie afgesonder het nie; daarom het die Leviete beheer gehad van die slagting van die Pesaglammers en hulle het toegesien dat elkeen rein was, om hulle aan יהוה af te sonder. 18Daar was ’n groot hoeveelheid mense van Efrayim, M’nasheh, Yissakhar en Z’vulun, wat hulleself nie gereinig het nie, tog het hulle die Pesaglam, nie volgens die wet nie, geëet, maar Hizkiyahu het vir hulle gebid en gesê: “Mag יהוה wat goed is, die hele Yisra’el vryspreek, 19want ons het ons verstand, wil en emosies voorberei om tot יהוה, die God van ons vaders, te bid en afsondering sou ons nie meer gereinig het nie.” 20יהוה het na die stem van Hizkiyahu geluister en die volk genees. 21Die seuns van Yisra’el wat in Yerushalayim was, het die Fees van die Ongesuurde Brode vir sewe dae lank met groot blydskap gevier en die Leviete en die priesters het יהוה dag vir dag geprys en liedere van lofprysing gesing. 22Hizkiyahu het met al die Leviete gepraat wat goeie liedere voor יהוה gesing het en hulle het regdeur die fees, sewe dae lank geëet terwyl hulle vredesoffers geslag en belydenis gedoen het tot יהוה, die God van hulle vaders.

23Die hele vergadering het aangebly om nog sewe dae fees te hou en hulle het die ander sewe dae met vreugde gevier, 24want Hizkiyahu, koning van Y’hudah, het vir die vergadering van Yisra’el sewe duisend keur jong bulle, groot en klein en ’n duisend keur bulle en tien duisend skape gegee en ’n groot hoeveelheid priesters het hulleself afgesonder. 25Die hele vergadering van Y’hudah, saam met die priesters en die Leviete en die hele vergadering van die wat uit Yisra’el gekom het, asook die proseliete wat uit die land van Yisra’el gekom het en die wat in Y’hudah gebly het, het hulle verheug. 26Daar was groot blydskap in Yerushalayim, want sedert die dae van Shlomo, die seun van Dawid, koning van Yisra’el, was daar nie so iets in Yerushalayim nie. 27Toe het die Leviete en die priesters opgestaan en die volk geseën en יהוהhet hulle stem gehoor en hulle gebed het opgegaan tot by Sy afgesonderde blyplek, tot in die hemele.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
2 Chronicles 29
Top of Page
Top of Page