1 Samuel 4
Afrikaans PWL
1So het die boodskap van Sh’mu’el tot die hele Yisra’el gekom. Yisra’el het uitgegaan om die F’lishtyne in geveg te ontmoet en langs Even-ha`Ezer gekamp terwyl die F’lishtyne by Afek gekamp het. 2Die F’lishtyne het opgestel in gevegsorde om Yisra’el te ontmoet. Toe die geveg ontwikkel, is Yisra’el voor die F’lishtyne verslaan, wat ongeveer vier duisend man op die gevegsterrein doodgeslaan het. 3Toe die manskappe die laer inkom, sê die oudstes van Yisra’el: “Waarom het יהוה ons vandag voor die F’lishtyne verslaan? Laat ons die ark van die verbond van יהוה vanaf Shiloh na ons toe bring dat dit tussen ons inkom en ons verlos van die krag van ons vyande.” 4Die mense het na Shiloh gestuur en hulle het die ark van die verbond van יהוה van die leërskare, wat bo die gérubs bly, daarvandaan gedra en die twee seuns van `Eli, Hofni en Pin’gas, was daar by die ark van die verbond van God.

5Soos die ark van die verbond van יהוה die laer inkom, het die hele Yisra’el uitgeroep met ’n groot geskreeu van vreugde sodat die aarde weergalm het. 6Toe die F’lishtyne die klank van die geskreeu hoor, het hulle gesê: “Wat beteken die geluid van die groot geskreeu in die laer van die Hebreërs?” Toe verstaan hulle dat die ark van יהוה in die kamp ingekom het. 7Die F’lishtyne was bang, want hulle het gesê: “God het in die kamp ingekom!” Hulle het ook gesê: “Wee ons, want so iets het nog nie vroeër gebeur nie. 8Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie magtige gode? Hierdie is die gode wat die Mitzrayiete met allerhande plae getref het en wonderwerke in die wildernis gedoen het. 9Wees dapper en wees manne, F’lishtyne, of julle sal slawe word vir die Hebreërs soos hulle vir julle slawe was; daarom, wees manne en veg.”

10So het die F’lishtyne geveg, Yisra’el is verslaan en elke man het na sy tent toe gevlug en die slagting was baie groot, want daar het dertig duisend voetsoldate van Yisra’el geval. 11Die ark van God is ook gevat en die twee seuns van `Eli, Hofni en Pin’gas, het gesterf.

12’n Man van Benyamin het van die gevegslyn af gehardloop en dieselfde dag in Shiloh aangekom met sy klere geskeur en stof op sy kop. 13Toe hy kom, let op, `Eli het op sy sitplek langs die pad gesit, ywerig wagtend, want hy was besorg oor die ark van God. Die man het gekom om dit in die stad te vertel en die hele stad het uitgeroep. 14Toe `Eli dan die geluid van die geskreeu hoor, sê hy: “Wat beteken die geraas van hierdie oproer?” Toe het die man haastig gekom en `Eli vertel. 15`Eli was agt en negentig jaar oud en sy oë het styf gestaan sodat hy nie kon sien nie. 16Die man het vir `Eli gesê: “Ek is die een wat vanaf die gevegslyn gekom het. Waarlik, ek het vandag van die gevegslyn af ontvlug.” Hy vra: “Hoe het dinge gegaan, my seun?” 17Toe het die een wat die nuus gebring het, geantwoord: “Yisra’el het voor die F’lishtyne gevlug en daar was ook ’n groot slagting onder die manne en u twee seuns, Hofni en Pin’gas, is dood en die ark van God is gevat.” 18Toe hy die ark van God noem, val `Eli agteroor van die stoel af langs die poort; sy nek was gebreek en hy het gesterf, want hy was oud en swaar. So het hy Yisra’el veertig jaar lank gerig.

19Sy skoondogter, die vrou van Pin’gas, was verwagtend en op die punt om geboorte te gee en toe sy die tyding hoor dat die ark van God gevat is en dat haar skoonvader en haar man gesterf het, het sy neergekniel en geboorte gegee, want haar pyn het haar oorval. 20Op die tyd van haar dood, sê die vroue wat by haar staan: “Moenie bang wees nie, want jy het geboorte gegee aan ’n seun,” maar sy het nie geantwoord of aandag gegee nie. 21Sy het die seun I-Khavod genoem en gesê: “Die eer en lof het uit Yisra’el uit weggegaan” omdat die ark van God weggevat is en as gevolg van haar skoonvader en haar man. 22Sy het gesê: “Die eer en lof is weg uit Yisra’el uit omdat die ark van God gevat is.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 3
Top of Page
Top of Page