1 Samuel 29
Afrikaans PWL
1Die F’lishtyne het al hulle leërmagte by Afek versamel terwyl Yisra’el gekamp het by die fontein wat in Yizre’el is. 2Die meesters van die F’lishtyne het opgetrek in honderde en in duisende en Dawid en sy manne het in die agterhoede saam met Akhish opgetrek. 3Toe vra die bevelvoerders van die F’lishtyne: “Wat soek hierdie Hebreërs?” Akhish sê vir die bevelvoerders van die F’lishtyne: “Is dit nie Dawid, die dienskneg van Sha’ul, die koning van Yisra’el, wat al ’n jaar en ’n paar maande by my is nie, sonder dat ek iets fout in hom gevind het van die dag af dat hy oorgeloop het, tot vandag toe?” 4Die bevelvoerders van die F’lishtyne was kwaad vir hom en die bevelvoerders van die F’lishtyne het vir hom gesê: “Laat die man teruggaan sodat hy kan teruggaan na die plek wat u vir hom gegee het en laat hom nie saam met ons in die geveg afgaan nie, of hy sal in die geveg ons teëstander word, want waarmee kan hierdie man hom aanvaarbaar maak by sy meester? Sal dit nie wees met die koppe van hierdie manne nie?

5Is dit nie Dawid nie, van wie hulle in die koordanse gesing en gesê het: “Sha’ul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende?”

6Toe het Akhish vir Dawid geroep en vir hom gesê: “So waar as יהוה leef, jy was opreg en jou uitgang en jou ingang in die leër saam met my, is goed in my oë, want ek het geen kwaad in jou gevind van die dag af dat jy na my gekom het tot vandag toe nie. Nogtans, is u nie aanvaarbaar in die oë van die bevelvoerders nie. 7Draai daarom nou terug en gaan in vrede dat u nie die bevelvoerders van die F’lishtyne ontevrede maak nie.” 8Dawid sê vir Akhish: “Maar wat het ek gedoen? Of wat het u in u dienskneg gevind van die dag af dat ek voor u gekom het tot vandag toe dat ek nie mag gaan veg teen die vyande van my meester die koning nie?” 9Akhish het Dawid egter geantwoord: “Ek weet dat jy goed is in my oë soos ’n engel van God, nogtans het die bevelvoerders van die F’lishtyne gesê: ‘Hy mag nie saam met ons opgaan in die geveg nie.’ 10Nou dan, staan vroeg op saam met die diensknegte van jou meester wat saam met jou gekom het en vertrek met dagbreek.” 11Dawid het vroeg opgestaan, hy en sy manne, om in die oggend weg te gaan, om terug te gaan na die land van die F’lishtyne. Die F’lishtyne het opgegaan na Yizre’el.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 28
Top of Page
Top of Page