1 Samuel 2
Afrikaans PWL
1Toe het Hannah gebid en gesê: “My verstand, wil en emosie juig in יהוה, my horing is opgelig in יהוה, my mond praat vrymoediglik teen my vyande, want ek verheug my in U verlossing.

2Daar is niemand afgesonderd soos יהוה nie; inderdaad, daar is niemand buiten U en ook is daar geen Rots soos ons God nie.

3Moenie meer so trots grootpraat nie; moenie dat arrogansie uit julle mond kom nie, want יהוה is ’n God van kennis en by Hom word die dade geweeg.

4Die boë van die magtiges is verbreek, maar die swakkes is met krag omgord.

5Die wat versadig was, het hulleself vir brood uitverhuur, maar die wat honger gehad het, het opgehou. Selfs die onvrugbare het aan sewe geboorte gegee, maar sy wat baie kinders het, kwyn weg.

6יהוה maak dood en maak lewend; Hy laat neerdaal na Sh’ol en laat opstaan.

7יהוה maak arm en ryk; Hy verneder, Hy verhoog ook.

8Hy lig die arme op uit die stof, uit die ashoop lig Hy die behoeftige op, om hulle te laat sit by die edeles en ’n erestoel te laat erf, want aan יהוה behoort die pilare van die aarde en Hy het die wêreld daarop gevestig.

9Hy bewaar die voete van Sy Godvresendes, maar die bose oortreders word stil gemaak in duisternis, want ’n mens sal nie deur krag oorleef nie.

10Die wat met יהוה stry, sal verpletter word; teen hulle donder Hy in die hemele; יהוה sal die eindes van die aarde oordeel, Hy sal krag gee aan Sy koning en die horing van Sy gesalfde oplig.”

11Toe het Elkanah na sy huis in Rama gegaan, maar die seun het tot יהוה bedien voor `Eli, die priester.

12Nou, die seuns van `Eli was bose manne; hulle het nie ’n verbondsverhouding met יהוה gehad 13of die priesters se gebruike met die mense geken nie. As enige iemand ’n offer gebring het, dan kom die dienskneg van die priester terwyl die vleis kook, met ’n drietand-vurk in sy hand 14en steek dit in die kastrol, pot, pan of skottel; alles wat die vurk optrek, vat die priester vir homself. So het hulle in Shiloh gedoen met al die Yisra’eliete wat daarheen gekom het. 15Ook, voordat hulle die vet verbrand, sal die dienskneg van die priester kom en aan die man wat offer sê: “Gee vir die priester vleis om te braai, want hy sal nie gekookte nie, maar net rou vleis van jou vat.” 16As die man vir hom sê: “Hulle moet sekerlik eers die vet verbrand, vat dan soveel as wat jy begeer,” dan sal hy sê: “Nee, maar jy moet dit nou gee en so nie sal ek dit met geweld vat.” 17So was die sonde van die jongmanne baie groot voor יהוה, want die manne het die offer aan יהוה verag.

18Sh’mu’el het as seun bedien voor die Teenwoordigheid van יהוה, omgord met ’n linne skouerkleed. 19Sy moeder het jaar na jaar vir hom ’n klein kledingtukkie gemaak en dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man opgaan om die jaarlikse offer te bring. 20Dan sal `Eli vir Elkanah en sy vrou seën en sê: “Mag יהוה jou seuns gee uit hierdie vrou in die plek van die een wat sy aan יהוה toegewy het.” Hulle het na hulle huis toe gegaan.

21יהוה het Hannah besoek en sy is bevrug en het geboorte gegee aan drie seuns en twee dogters. Die seun Sh’mu’el het groot geword voor יהוה.

22`Eli was baie oud en hy het alles wat sy seuns aan die hele Yisra’el doen en hoe hulle by die vroue, wat dien by die ingang van die Tent van Ontmoeting, gelê het, gehoor. 23Hy het vir hulle gesê: “Waarom doen julle sulke dinge, die bose dinge wat ek van al hierdie mense hoor? 24Nee, my seuns, die verslag wat ek hoor is nie goed nie, want julle dryf die mense weg van יהוה af. 25As een mens teen ’n ander sondig, sal God vir hom intree, maar as ’n mens teen יהוה sondig, wie kan vir hom tussenbeide tree?” Hulle wou egter nie na die stem van hul vader luister nie, want יהוה het begeer om hulle dood te maak.

26Nou die seun Sh’mu’el het gegroei in grootte en in guns by יהוה, sowel as by die mense.

27Toe het ’n man van God by `Eli gekom en vir hom gesê: “So sê יהוה: ‘Het Ek My nie sekerlik openbaar aan die huis van jou vader toe hulle in Mitzrayim in die huis van Farao was nie? 28Het Ek hulle nie vir My as priester gekies vanuit al die stamme van Yisra’el om op te klim na My altaar, om reukwerk aan die brand te steek en om ’n skouerkleed voor My te dra nie en het Ek nie aan die huis van jou vader al die vuuroffers van die seuns van Yisra’el gegee nie? 29Waarom het julle geskop na (hanteer julle verkeerd) My offers en vrywillige offers wat Ek in die wildernis beveel het en eer jy jou seuns bo My, deur julleself vet te maak met die beste van elke offer van My volk Yisra’el?’ 30יהוה, die God van Yisra’el verklaar daarom: ‘Ek het sekerlik gesê dat jou huis en die huis van jou vader vir altyd voor My aangesig sal loop,’ maar nou verklaar יהוה: ‘Dit is ver van My, want die wat My eer, sal Ek eer en die wat My verag, sal min geag wees. 31Let op, die dae kom dat Ek jou sterkte en die sterkte van jou vader se huis sal breek sodat daar nie ’n ou man in jou huis sal wees nie. 32Jy sal die benoudheid van My huis aanskou, ten spyte van al die goed wat Ek vir Yisra’el doen en vir ewig sal daar nie ’n ou man in jou huis wees nie. 33Tog sal Ek nie al jou manne afsny van My altaar nie sodat jou oë nie sal huil en jou verstand, wil en emosie treur nie en al die vermeerdering van jou huis, sal in die fleur van die lewe sterf. 34Hierdie sal vir jou die teken wees wat oor jou twee seuns, oor Hofni en Pingas, sal kom: op een dag sal hulle altwee sterf. 35Ek sal egter vir My ’n getroue priester opwek wat sal doen volgens wat in My Gees en in My verstand, wil en emosie is en Ek sal vir hom ’n standhoudende huis bou en hy sal altyd voor My gesalfdes loop.’ 36Almal wat in jou huis oorbly, sal kom om voor hom neer te buig vir ’n stukkie silwer of ’n brood en sê: ‘Stel my asseblief aan as een van die priesters sodat ek ’n stukkie brood kan eet’.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 1
Top of Page
Top of Page