1 Samuel 19
Afrikaans PWL
1Sha’ul het vir sy seun Y’honatan en vir al sy diensknegte gesê om Dawid dood te maak, maar Y’honatan, Sha’ul se seun, het baie van Dawid gehou. 2Y’honatan het dit vir Dawid vertel en gesê: “ Sha’ul, my vader, soek om jou dood te maak. Wees daarom asseblief waaksaam in die oggend en bly in ’n geheime plek en steek jou weg. 3Ek sal uitgaan en langs my vader staan in die veld waar jy is en ek sal met my vader oor jou praat; as ek iets uitvind, sal ek jou vertel.” 4Toe het Y’honatan goed van Dawid gepraat by Sha’ul, sy vader en vir hom gesê: “Moenie dat die koning sondig teen sy dienskneg Dawid nie, aangesien hy nie teen u gesondig het nie en omdat sy dade baie voordelig vir u is, 5want hy het sy lewe in sy hand geneem en die F’lishtyne neergeslaan en יהוה het vir die hele Yisra’el ’n groot oorwinning besorg. U het dit gesien en was verheug. Waarom sal u dan teen onskuldige bloed sondig deur Dawid sonder rede dood te maak?” 6Sha’ul het na die stem van Y’honatan geluister en Sha’ul het ’n eed geneem: “Soos יהוה leef, hy sal nie gedood word nie!” 7Toe het Y’honatan vir Dawid geroep en Y’honatan het al hierdie woorde vir hom vertel. Y’honatan het Dawid na Sha’ul gebring en hy was in sy teenwoordigheid soos vroeër.

8Toe daar weer oorlog was, het Dawid uitgegaan en teen die F’lishtyne geveg en hulle verslaan met ’n groot slagting sodat hulle voor hom uit gevlug het. 9Daar was ’n bose gees vanaf voor יהוה op Sha’ul terwyl hy in sy huis sit met sy spies in sy hand en Dawid die harp met sy hand speel. 10Sha’ul het probeer om Dawid met die spies teen die muur vas te pen, maar hy het uit Sha’ul se teenwoordigheid weggeglip sodat hy die spies in die muur ingegooi het. Dawid het gevlug en daardie nag ontsnap.

11Toe het Sha’ul boodskappers na Dawid se huis gestuur om hom te bewaak om hom in die oggend dood te maak, maar Dawid se vrou, Mikhal, het hom vertel en gesê: “As jy nie vannag jou lewe red nie, sal jy môre doodgemaak word.” 12Mikhal het Dawid deur ’n venster laat afsak en hy het uitgegaan, gevlug en ontsnap. 13Mikhal het die huishoudelike afgod gevat, dit op die bed neergelê, ’n kussing van bokhaar by sy kop gesit en dit bedek met klere. 14Toe Sha’ul boodskappers stuur om Dawid te vat, het sy gesê: “Hy is siek.” 15Toe stuur Sha’ul die boodskappers om Dawid te sien met die opdrag: “Bring hom na my toe op sy bed sodat ek hom kan doodmaak.” 16Toe die boodskappers inkom, let op, was die huishoudelike afgod op die bed en ’n kussing van bokhaar by sy kop! 17Sha’ul sê vir Mikhal: “Waarom het jy my so bedrieg en my vyand laat gaan sodat hy ontsnap het?” Mikhal het Sha’ul geantwoord: “Hy het vir my gesê: ‘Laat my gaan, of ek maak jou dood.’”

18Dawid het gevlug en ontsnap en by Sh’mu’el in Ramah gekom en hom alles vertel wat Sha’ul aan hom gedoen het. Hy en Sh’mu’el het in die blyplekke van die profete gaan bly. 19Dit is vir Sha’ul vertel en gesê: “Let op, Dawid is in die blyplekke by Ramah.” 20Toe stuur Sha’ul boodskappers om Dawid te gaan haal, maar toe hulle die groep profete sien profeteer, met Sh’mu’el wat staan en hulle lei, het die Gees van God oor die boodskappers van Sha’ul gekom en hulle het ook geprofeteer. 21Toe dit aan Sha’ul vertel is, het hy ander boodskappers gestuur en hulle het ook geprofeteer. Sha’ul het weer, die derde keer, boodskappers gestuur en hulle het ook geprofeteer. 22Toe het hy self na Ramah gegaan en tot by die groot put gekom wat by Sekhu is en gevra en gesê: “Waar is Sh’mu’el en Dawid?” Iemand antwoord: “ Let op, hulle is by die blyplekke in Ramah.” 23Hy het aangegaan tot by die blyplekke in Ramah en die Gees van God het ook oor hom gekom sodat hy saam geloop en aanhoudend geprofeteer het totdat hy by die blyplekke in Ramah gekom het. 24Hy het ook sy klere uitgetrek en hy het ook voor Sh’mu’el geprofeteer en kaal gelê daardie hele dag en die hele nag; daarom sê hulle: “Is Sha’ul ook onder die profete?”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 18
Top of Page
Top of Page