1 Samuel 18
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur nadat hy met Sha’ul gepraat het dat Y’honatan se lewe verkleef geraak het aan Dawid se lewe en Y’honatan het hom liefgekry soos sy eie lewe. 2Sha’ul het hom daardie dag gevat en hom nie na sy vader se huis laat terugkeer nie. 3Toe sluit Y’honatan ’n verbond met Dawid omdat hy hom liefgehad het soos homself. 4Y’honatan het sy mantel, wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, met sy pantser, insluitend sy swaard, sy boog en sy gordel.

5Dawid het uitgegaan na waar ook al Sha’ul hom gestuur het en was voorspoedig en Sha’ul het hom oor die krygsmanne aangestel. Dit was goed in die oë van al die mense en ook in die oë van die diensknegte van Sha’ul.

6Dit het gebeur toe hulle gekom het, toe Dawid teruggekeer het nadat hy die F’lishtyne doodgemaak het, dat die vroue uit al die stede van Yisra’el singend en dansend gekom het om koning Sha’ul met tamboeryne, vreugde en musiekinstrumente te ontmoet.

7Die vroue het gesing terwyl hulle speel en gesê: “Sha’ul het sy duisende neergeslaan, maar Dawid sy tienduisende!”

8Toe word Sha’ul baie kwaad, want hierdie woord het hom ontevrede gemaak en hy sê: “Hulle het aan Dawid tienduisende toegeken, maar aan my het hulle duisende toegeken. Wat meer kan hy nou kry as net die koningskap!” 9Sha’ul het van dié dag af aan met agterdog na Dawid gekyk.

10Dit het gebeur op die volgende dag dat ’n bose gees vanaf voor יהוה kragtig op Sha’ul gekom het sodat hy in verrukking was binne-in die huis terwyl Dawid soos gewoonlik met sy hand die harp speel en Sha’ul het ’n spies in sy hand gehad. 11Sha’ul het die spies gegooi, want hy het gedink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen!” Dawid het egter twee maal uit sy teenwoordigheid ontsnap.

12Sha’ul was bang vir Dawid, want יהוה was by hom en het van Sha’ul af weggegaan. 13Sha’ul het hom daarom uit sy teenwoordigheid verwyder en hom aangestel as sy bevelvoerder oor ’n duisend en hy het uitgegaan en ingekom voor die manne. 14Dawid was voorspoedig in al sy weë, want יהוה was by hom. 15Toe Sha’ul sien dat hy baie voorspoedig was, het hy hom gevrees, 16maar die hele Yisra’el en Y’hudah het Dawid liefgehad en hy het voor hulle uitgegaan en ingekom.

17Toe het Sha’ul vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter, Merav, ek sal haar vir jou as vrou gee; wees net ’n dapper man vir my en veg die oorloë van יהוה,” want Sha’ul het gedink: “My hand sal nie teen hom wees nie, maar laat die hand van die F’lishtyne teen hom wees.” 18Dawid het egter vir Sha’ul gesê: “Wie is ek en wat is my lewe of my vader se familie in Yisra’el dat ek die koning se skoonseun sou wees?” 19So het dit gebeur teen die tyd dat Merav, die dogter van Sha’ul, vir Dawid gegee moes word, dat sy vir Adri’el, die Megolati, as vrou gegee is.

20Mikhal, Sha’ul se dogter, het Dawid liefgehad. Toe hulle dit vir Sha’ul vertel, het hy dit goedgekeur. 21Sha’ul het gedink: “Ek sal haar vir hom gee dat sy vir hom ’n strik kan wees en dat die hand van die F’lishtyne teen hom kan wees.” Sha’ul het daarom vir Dawid gesê: “Jy kan vir die tweede keer my skoonseun word, op hierdie dag!” 22Toe het Sha’ul sy diensknegte beveel: “Praat met Dawid in die geheim en sê: ‘Let op, die koning het vreugde oor jou en al sy diensknegte het jou lief; nou daarom, word die koning se skoonseun.’” 23Die diensknegte van Sha’ul het toe hierdie woorde vir Dawid gesê, maar Dawid het gevra: “Is dit ’n kleinigheid in julle oë om die skoonseun van die koning te word, aangesien ek ’n arm man is wat min geag word?” 24Die diensknegte van Sha’ul het aan hom rapporteer volgens die woorde wat Dawid gesê het. 25Toe sê Sha’ul: “So moet julle vir Dawid sê: “Die koning vereis geen ander bruidsprys as tweehonderd voorhuide van die F’lishtyne nie, om wraak te neem op die koning se vyande.” Sha’ul het beplan om Dawid te laat val deur die hand van die F’lishtyne. 26Toe sy diensknegte hierdie woorde vir Dawid vertel, was Dawid tevrede om die koning se skoonseun te word. Voordat die dae verstreke was, 27het Dawid opgestaan en hy en sy manne het gegaan en tweehonderd man onder die F’lishtyne doodgeslaan. Toe het Dawid hulle voorhuide gebring en hulle het die volle getal aan die koning gegee sodat hy die koning se skoonseun kon word. Sha’ul het Mikhal, sy dogter, vir hom as vrou gegee. 28Toe Sha’ul sien en verstaan dat יהוה met Dawid was en dat Mikhal, die dogter van Sha’ul, hom liefhet, 29het Sha’ul nog banger geword vir Dawid. So was Sha’ul Dawid se konstante vyand.

30Toe het die bevelvoerders van die F’lishtyne uitgegaan en dit het gebeur so dikwels as hulle uitgaan, dat Dawid wyser opgetree het as al die diensknegte van Sha’ul. Sy naam (karakter en outoriteit) is hoog geëer.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 17
Top of Page
Top of Page