1 Samuel 16
Afrikaans PWL
1יהוה sê vir Sh’mu’el: “Hoe lank sal jy treur oor Sha’ul, aangesien Ek hom as koning oor Yisra’el verwerp het? Vul jou horing met olie en gaan; Ek stuur jou na Yishai, van Beit-Legem, want Ek het vanuit sy seuns vir My ’n koning gekies.” 2Sh’mu’el vra egter: “Hoe kan ek gaan? Wanneer Sha’ul dit hoor, sal hy my doodmaak.” יהוה sê: “Vat ’n verskalf saam met jou en sê: ‘Ek het gekom om aan יהוה te offer.’ 3Jy moet Yishai na die offers toe nooi en Ek sal jou wys wat jy moet doen en jy moet die een vir My salf wat Ek vir jou sal aanwys.” 4Sh’mu’el het gedoen wat יהוה gesê het en by Beit-Legem gekom. Die oudstes van die stad het hom bewend tegemoetgegaan en gevra: “Kom u in vrede?” 5Hy sê: “In vrede! Ek het gekom om aan יהוה te offer. Sonder julle af en kom saam met my na die offers.” Hy het ook vir Yishai en sy seuns afgesonder en hulle na die offers genooi.

6Toe hulle inkom, kyk hy na Eli’av en dink: “Sekerlik is יהוה se gesalfde voor Hom!” 7יהוה sê egter vir Sh’mu’el: “Moenie na sy voorkoms of sy lang gestalte kyk nie, want Ek het hom verwerp, want God kyk nie soos wat die mens sien nie, want die mens kyk na die uiterlike voorkoms, maar יהוה kyk na die verstand, wil en emosie.” 8Toe roep Yishai vir Avinadav en laat hom voor Sh’mu’el verbygaan en hy sê: “יהוה het hierdie een ook nie gekies nie.” 9Volgende laat Yishai vir Shammah verbygaan en hy sê: “יהוה het ook nie hierdie een gekies nie.” 10So het Yishai sewe van sy seuns voor Sh’mu’el laat verbygaan, maar Sh’mu’el het vir Yishai gesê: “יהוה het hierdie nie gekies nie.” 11Sh’mu’el het aan Yishai gevra: “Is hierdie al die seuns?” Hy antwoord: “Die kleinste bly nog oor en let op, hy pas die skape op.” Toe sê Sh’mu’el vir Yishai: “Stuur en bring hom, want ons sal nie sit voordat hy hier kom nie.”

12Hy het gestuur en hom laat inkom. Nou, hy was rooierig, met mooi oë en ’n aantreklike voorkoms en יהוה sê: “Staan op, salf hom, want dit is hy.” 13Toe vat Sh’mu’el die horing met olie en salf hom tussen sy broers en die Gees van יהוה het van dié dag af aan kragtig oor Dawid gekom. Sh’mu’el het opgestaan en na Ramah gegaan.

14Die Gees van יהוה het weggegaan van Sha’ul af en ’n bose gees vanaf die Teenwoordigheid van יהוה het hom geterroriseer. 15Sha’ul se diensknegte sê toe vir hom: “Let nou op, ’n bose gees vanaf die Teenwoordigheid van יהוה terroriseer u. 16Laat ons meester nou u diensknegte wat voor u staan beveel en laat hulle ’n man soek wat ’n bekwame speler op die harp is en dit sal gebeur as die bose gees vanaf voor יהוה op u is, dat hy moet speel met sy hand en u sal beter wees.” 17Sha’ul sê toe vir sy diensknegte: “Voorsien nou vir my ’n man wat goed kan speel en bring hom na my toe.” 18Toe sê een van die diensknegte: “Let op, ek het ’n seun van Yishai, die Beit-Legemiet, gesien wat ’n bekwame musikant is, ’n magtige, dapper man, ’n krygsman, wys in spraak, ’n aantreklike man en יהוה is by hom.” 19Sha’ul het boodskappers na Yishai gestuur en gesê: “Stuur vir my jou seun Dawid wat by die skape is.” 20Yishai vat toe ’n donkie, brood, ’n kruik met wyn en ’n jong bok en stuur dit vir Sha’ul deur Dawid, sy seun. 21Toe het Dawid by Sha’ul gekom en hom bedien en Sha’ul het hom baie liefgehad sodat hy sy wapendraer geword het. 22Sha’ul het na Yishai gestuur en gesê: “Laat Dawid nou voor my staan, want hy het guns in my oë gevind.” 23So het dit gebeur dat wanneer die gees vanaf voor יהוה na Sha’ul toe kom, Dawid die harp vat en met sy hand speel en Sha’ul sal verfris word en beter wees en die bose gees sal van hom af weggaan.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Samuel 15
Top of Page
Top of Page