1 Konings 4
Afrikaans PWL
1Koning Shlomo was nou koning oor die hele Yisra’el. 2Hierdie was sy ampsdraers: `Azaryah, die seun van Tzadok, die priester; 3Eligoref en Agiyah, die seuns van Shisha, was sekretarisse; Y’hoshafat, die seun van Agilud, was griffier. 4B’nayah, die seun van Y’hoyada, was oor die leër en Tzadok en Evyatar was priesters. 5`Azaryah, die seun van Natan, was oor die aangesteldes en Zavud, die seun van Natan, ’n priester, was die vriend van die koning. 6Agishar was oor die huishouding en Adoniram, die seun van `Avda, was oor die manne onder dwangarbeid.

7Shlomo het twaalf bestuurders oor die hele Yisra’el gehad wat vir die koning en sy huishouding voorsien het; elke man moes vir ’n maand in die jaar voorsien. 8Hierdie is hulle name: “Ben-Hur in die Bergland van Efrayim; 9Ben-Deker in Makatz, Sha’albim, Beit-Shemesh en Eilon-Beit-Hanan; 10Ben-Hesed in Arubbot, Sokhoh en die hele land Hefer was syne; 11Ben-Avinadav, al die hoogtes van Dor; Tafat, die dogter van Shlomo, was sy vrou. 12Ba’ana, die seun van Agilud: Ta’anakh, Megiddo en die hele Beit-Sh’an wat langs Tzartan, onderkant Yizre’el lê, van Beit-Sh’an af tot by Avel-M’golah, so ver as tot by die anderkant van Yokme’am. 13Ben-Gever in Ramot-Gil’ad; die dorpe van Ya’ir, die seun van M’nasheh, wat in Gil’ad lê was syne; die streek Argov, wat in Bashan lê; sestig groot stede met mure en koper grendels, was syne. 14Aginadav, die seun van `Iddo, in Maganayim. 15Agima’atz in Naftali; hy het ook met Basmat, dogter van Shlomo, getrou. 16Ba’ana, die seun van Hushai, in Asher en B’alot; 17Y’hoshafat, die seun van Paruag, in Yissakhar; 18Shim’i, die seun van Ela, in Binyamin; 19Gever, die seun van Uri, in die land Gil’ad, die land van Sigon, die koning van die Emoriete en van `Og, die koning van Bashan; hy was die enigste bestuurder in die land.

20Y’hudah en Yisra’el was so talryk soos die sand wat aan die seestrand in oorvloed is; hulle het geëet en gedrink en hulle verheug.

21Shlomo het geheers oor al die koninkryke vanaf die Rivier (Eufraat) tot by die land van die F’lishtyne en tot by die grens van Mitzrayim; hulle het belasting gebring en Shlomo gedien al die dae van sy lewe.

22Shlomo se voorsiening vir een dag was dertig mates (6600 liter) fyn meel en sestig mates (13200 liter) meel; 23tien vetgemaakte beeste, twintig veldbeeste, ’n honderd stuks kleinvee, behalwe die takbokke, gaselle, reebokke en vetgemaakte pluimvee, 24want hy het outoriteit gehad oor alles wes van die Rivier, vanaf Tifsag tot by Gazah, oor al die konings wes van die Rivier en hy het vrede gehad aan alle kante rondom hom. 25Y’hudah en Yisra’el het in veiligheid gebly, elke man onder sy wingerdstok en sy vyeboom, van Dan tot by Be’er-Sh’va, al die dae van Shlomo. 26Shlomo het veertig duisend stalle met perde gehad vir sy strydwaens en twaalf duisend perderuiters. 27Daardie bestuurders het elkeen in sy maand vir koning Shlomo voorsien en almal wat na koning Shlomo se tafel toe kom; hulle het niks laat kortkom nie. 28Hulle het ook die gars, die strooi vir die perde en die renperde gebring na die plek waar dit moes wees, elkeen volgens sy kwota.

29God het aan Shlomo wysheid gegee, ’n baie groot onderskeiding en ’n breedte van insig soos die sand wat op die seestrand is. 30Shlomo se wysheid was meer as die wysheid van al die seuns van die Ooste en as al die wysheid van Mitzrayim, 31want hy was wyser as al die mense, as Eitan, die Ezragiet, Heiman, Kalkol en Darda, die seuns van Magol en sy beroemdheid was bekend onder al die nasies rondom. 32Hy het ook drie duisend spreuke uitgespreek en sy liedere was ’n duisend en vyf. 33Hy het van bome gepraat, van die seder wat in die L’vanon is tot by die hisop wat teen die muur groei; hy het ook gepraat van diere, voëls, kruipende diere en visse. 34Mense van al die volke het gekom om na die wysheid van Shlomo te luister, vanaf al die konings van die aarde wat van sy wysheid gehoor het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Kings 3
Top of Page
Top of Page