1 Konings 3
Afrikaans PWL
1Shlomo het ’n huweliks ooreenkoms met Farao, die koning van Mitzrayim, gesluit en die dogter van Farao gevat en haar in die stad van Dawid ingebring totdat hy met die bou van sy eie huis, die huis van יהוה en die muur van Yerushalayim rondom klaar was. 2Die mense het steeds op die hoë plekke geoffer omdat tot en met daardie dae daar geen huis vir die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה gebou was nie.

3Shlomo het יהוה liefgehad en geloop in die instellings van sy vader Dawid, behalwe dat hy op die hoogtes geoffer en wierook laat opgaan het. 4Die koning het na Giv’on gegaan om daar te offer omdat dit die grootste hoë plek was; Shlomo het ’n duisend brandoffers op daardie altaar geoffer. 5In Giv’on het יהוה in ’n droom in die nag aan Shlomo verskyn en God het gesê: “Vra wat Ek aan jou moet gee.”

6Toe sê Shlomo: “U het aan u kneg, my vader Dawid, baie liefdevolle omgee gewys, soos wat hy voor U Teenwoordigheid geloop het in waarheid, in onpartydige opregtheid en in opregtheid van verstand, wil en emosie teenoor U en U het vir hom hierdie groot liefdevolle omgee bewaar dat U vir hom ’n seun gegee het om op sy troon te sit, soos dit vandag is. 7Nou, יהוה, my God, U het U kneg koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog ’n jong seun; ek weet nie hoe om uit of in te gaan nie. 8U kneg is tussen U volk wat U gekies het, ’n groot volk wat te veel is om getel of genommer te kan word. 9Gee vir U dienskneg ’n begripvolle verstand, wil en emosie om U volk te oordeel; om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie is in staat om hierdie groot volk van U te regeer?”

10Dit was goed in die oë van יהוה dat Shlomo dit gevra het. 11God het vir hom gesê: “Omdat jy hierdie gevra het en nie vir jouself ’n lang lewe gevra het nie en ook nie rykdom vir jouself gevra het nie en ook nie die lewe van jou vyande gevra het nie, maar vir jouself onderskeiding gevra het om wat reg is te verstaan, 12let op, Ek het volgens jou woorde gedoen. Let op, Ek het vir jou ’n wyse en onderskeidende verstand, wil en emosie gegee sodat daar geen een soos jy vóór jou was en een soos jy ná jou sal opstaan nie. 13Ek het ook vir jou gegee wat jy nie gevra het nie, beide rykdom en eer sodat daar onder die konings niemand soos jy sal wees nie, al jou dae. 14As jy in My paaie loop, My wette en opdragte onderhou, soos jou vader Dawid geloop het, dan sal Ek jou dae verleng.”

15Toe word Shlomo wakker en let op, dit was ’n droom! Hy het in Yerushalayim gekom en voor die ark van die verbond van יהוה gaan staan en brandoffers gebring en vredesoffers voorberei en ’n feesmaal vir al sy diensknegte voorberei.

16Toe kom daar twee vroue, wat prostitute was, na die koning en staan voor hom. 17Die een vrou het gesê: “Ag, my meester, hierdie vrou en ek woon in dieselfde huis en ek het geboorte gegee aan ’n kind terwyl sy in die huis was. 18Dit het op die derde dag na ek geboorte gegee het, gebeur dat hierdie vrou ook geboorte gegee het en ons was saam. Daar was niemand anders by ons in die huis nie, slegs ons twee in die huis. 19Hierdie vrou se seun het in die nag gesterf omdat sy op hom gelê het. 20Sy staan toe in die middel van die nag op en vat my seun van langs my weg terwyl u dienares slaap en sit hom aan haar bors en lê haar dooie seun aan my bors. 21Toe ek die oggend opstaan om my seun te versorg, let op, hy is dood, maar toe ek in die oggend versigtig na hom kyk, let op, hy was nie my seun, waaraan ek geboorte gegee het nie!” 22Toe sê die ander vrou: “Dit is nie so nie, want die lewendige een is my seun en die dooie is jou seun.” Die eerste vrou sê egter: “Nee, want die dooie een is jou seun en die lewendige een is my seun.” So het hulle voor die koning gepraat.

23Die koning het gesê: “Die een sê: ‘Hierdie is my seun wat lewe en jou seun is die dooie een;’ en die ander sê: ‘Nee, want die dooie een is jou seun en my seun die lewendige een.’ 24Toe sê die koning: “Bring vir my ’n swaard!” Hulle het ’n swaard voor die koning gebring. 25Die koning het gesê: “Verdeel die lewendige seun in twee en gee die helfte vir die een en die helfte vir die ander.” 26Toe praat die vrou, wie se kind lewendig was, met die koning, want sy was diep ontroerd oor haar seun en sê: “Ag, my meester, gee vir haar die lewendige kind en maak hom nie dood nie!” Die ander een het egter gesê: “Hy sal nie myne of joune wees nie; verdeel hom!” 27Toe sê die koning: “Gee die lewendige kind aan die eerste vrou en maak hom in geen geval dood nie. Sy is die moeder.” 28Toe die hele Yisra’el hoor van die oordeel wat die koning uitgespreek het, was hulle bang vir die koning, want hulle het gesien dat die wysheid van God, om reg te laat geskied, in hom was.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Kings 2
Top of Page
Top of Page