1 Johannes 4
Afrikaans PWL
1Julle, vir wie ons lief is, vertrou nie elke gees nie, maar onderskei die geeste of hulle vanuit God is, want baie vals profete het uitgegaan die wêreld in. 2Hieraan word die Gees van God geken: elke gees wat erken dat Yeshua, Die Gesalfde Een, in die vlees gekom het, is vanuit God 3en elke gees wat nie erken dat Yeshua, Die Gesalfde Een, in die vlees gekom het nie, is nie vanuit God nie, maar dit is die gees van die vals gesalfde, waarvan julle gehoor het dat hy kom en van nou af in die wêreld is. 4Julle is kinders vanuit God en het hulle oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is. 5Hulle is vanuit die wêreld; daarom praat hulle vanuit die wêreld en die wêreld gehoorsaam hulle. 6Ons is vanuit God. Hy wat God ken, luister na ons en gehoorsaam ons. Hy wat nie vanuit God is nie, luister nie na ons nie en gehoorsaam ons nie. Hierdeur onderskei ons die Gees van waarheid en die gees van misleiding.

7Julle vir wie ons lief is, laat ons mekaar liefhê, want liefde is vanuit God en elkeen wat lief het, is vanuit God gebore en ken God 8omdat God liefde is en elkeen wat nie liefhet nie, ken God nie. 9Hierin is die liefde van God vir ons openbaar: dat God Sy enigste uniekgebore Seun in die wêreld ingestuur het sodat dit deur Hom kan lewe. 10Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en Sy Seun, die Vryspraak en Toedekking van ons sondes, gestuur het. 11Julle, vir wie ons lief is, as God ons so liefhet, is ons dit verskuldig om mekaar lief te hê. 12Niemand het God ooit gesien nie. As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het Sy liefde in ons volmaak geword. 13Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: dat Hy ons Sy Gees gegee het 14en ons het gesien en ons getuig dat die Vader Sy Seun as Verlosser van die wêreld gestuur het.

15Elkeen wat bely dat Yeshua die Seun van God is; in hom bly God en hy in God. 16Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het, want God is Liefde en elkeen wat in die liefde bly, bly in God. 17Hierin het die liefde by ons volmaak geword: dat ons vrymoedigheid kan hê in die oordeelsdag, want net soos Hy is, so is ons ook in hierdie wêreld. 18Daar is geen vrees in die liefde nie, maar die volmaakte liefde gooi die vrees buitekant weg, want die vrees is in agterdog en hy wat nie vrees nie, is ontwikkeld in liefde. 19Ons moet God daarom liefhê omdat Hy ons eerste liefgehad het. 20As iemand sê: ‘Ek het God lief ’ en sy broer haat, is hy ’n leuenaar, want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, hoe kan hy God liefhê, wat hy nie kan sien nie? 21Hierdie opdrag het ons van Hom ontvang: dat elkeen wat God liefhet, ook sy broer moet liefhê.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 John 3
Top of Page
Top of Page