1 Kronieke 18
Afrikaans PWL
1Na hierdie dinge het dit gebeur dat Dawid die F’lishtyne verslaan, hulle vernietig en die krag uit hulle hande gevat het en hy het Gat met sy dorpies rondom uit die hand van die F’lishtyne geneem. 2Hy het ook vir Mo’av verslaan en die Mo’aviete het Dawid se diensknegte geword, wat belasting betaal het.

3Dawid het ook vir Hadar’ezer, die koning van Tzovah, verslaan terwyl hy gegaan het om sy outoriteit tot by die Eufraatrivier te bevestig. 4Dawid het ’n duisend strydwaens en sewe duisend perderuiters van hom afgevat en Dawid het al die strydwaens se perde se hakskeensenings afgesny, maar ’n honderd strydwaens laat oorbly.

5Toe die Edomiete en Arameërs van Dammesek gekom het om Hadad`ezer, koning van Tzovah, te help, het Dawid twee en twintig duisend van die Edomiete verslaan. 6Toe het Dawid goewerneurs in Dammesek aangestel en die Arameërs het Dawid se diensknegte geword en belasting betaal. So het יהוה vir Dawid bewaar en oral waar hy gegaan het, die oorwinning gegee. 7Dawid het die goue skilde gevat wat aan Hadad`ezer se diensknegte se perde gehang het en dit na Yerushalayim gebring. 8Net so ook uit Betag en Berotai, stede van Hadad`ezer, het Dawid ontsaglik baie koper weggevat, waarmee Shlomo die koper see, die pilare van koper en die koper gereedskap in oorvloed gemaak het.

9To’i, die koning van Hamat, het gehoor dat Dawid die hele leërmag van Hadad`ezer, koning van Tzovah, verslaan het 10en hy het vir Yoram, sy seun, na koning Dawid gestuur om na sy welstand te vra en hom geluk te wens omdat hy teen Hadad`ezer geveg en hom verslaan het, want Hadad`ezer was ’n dapper soldaat. Yoram het allerhande voorwerpe van goud, silwer en koper by hom gehad. 11Koning Dawid het ook sommige hiervan tot יהוה afgesonder saam met al die silwer en goud wat hy van al die nasies afgevat het wat hy onderwerp het: vanaf die Edomiete, vanaf die Mo’aviete, vanaf die seuns van `Ammon, vanaf die F’lishtyne en van die `Amalekiete.

12Verder het Avishai, die seun van Tz’ruyah, broer van Yo’av, agttien duisend Edomiete in die Vallei van Sout verslaan. 13Dawid het goewerneurs oor die Edomiete aangestel en al die Edomiete het Dawid se diensknegte geword. So het יהוה vir Dawid bewaar, oral waar hy gegaan het.

14Dawid het oor die hele Yisra’el regeer en regverdige oordeel en regverdigheid uitgeoefen vir die hele volk. 15Yo’av, die seun van Tz’ruyah, was oor die weermag en Y’hoshafat, die seun van Agilud, was griffier. 16Tzadok, die seun van Agituv en Avimelekh, die seun van Evyatar, was die priesters en S’rayah was skrywer. 17B’nayahu, die seun van Y’hoyadah, was oor die persoonlike wagte en die boodskappers en die seuns van Dawid was prinse in die ryk.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Chronicles 17
Top of Page
Top of Page