1 Kronieke 17
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur terwyl Dawid in sy huis gebly het, dat Dawid vir die profeet Natan gesê het: “Let op, ék bly in ’n huis wat bedek is met sederhout, maar die ark van die verbond van יהוה rus in ’n tent van bokhaar.” 2Toe sê Natan vir Dawid: “Gaan en doen alles wat in jou verstand, wil en emosie is.”

3Dit het gebeur in dieselfde nag dat die woord van יהוה tot Natan, die profeet kom en sê: 4“Gaan en sê vir Dawid, my dienskneg: “Jy mag nie vir My ’n huis bou om in te bly nie, 5want ek het nie in ’n huis gebly vanaf die dag dat Ek Yisra’el uit Mitzrayim laat kom het, tot vandag toe, nie, maar Ek het van tent tot tent gegaan. 6Let op, waar Ek ook al saam met die hele Yisra’el beweeg het, het Ek ooit ’n woord gepraat met een van die heersers van Yisra’el, wat Ek beveel het om My volk, Yisra’el, te lei en gesê: ‘Waarom het jy nie vir My ’n huis gebou wat met seders bedek is nie?’ 7Jy moet daarom nou so aan My dienskneg Dawid sê: ‘So sê יהוה-Tzva’ot: Ek het jou uit die skaapkraal, agter die skape in die veld, gevat om koning te wees oor My volk Yisra’el 8en Ek was by jou oral waar jy gegaan het en het jou vyande voor jou uitgeroei en Ek het van jou ’n groot naam gemaak, soos die naam van die groot manne wat op die aarde is. 9Ek sal vir My volk Yisra’el ’n plek vasstel en hulle laat vestig en hulle sal in hul plek bly en nie weer beweeg word nie en die bose manne sal hulle ook nie weer gevange wegvat soos vroeër nie. 10Vandat Ek jou oor My volk Yisra’el aangestel het, het Ek jou rus gegee van al jou vyande. Verder het יהוה aan jou verklaar dat die koninkryk vir ewig vasgestel is. 11Dit sal gebeur wanneer jou dae volledig is en jy by jou vaders is, dat Ek jou nageslag sal opwek wat uit jou liggaam kom en hom in jou koninkryk bevestig. 12Hy sal vir My Naam (Karakter en Outoriteit) ’n huis bou en Ek sal die troon van sy koninkryk vir ewig bevestig. 13Ék sal sy Vader wees en hy sal My seun wees en Ek sal nie My liefdevolle omgee van hom af wegvat, soos ek dit van Sha’ul af weggevat het, wat voor jou was, nie, 14maar Ek sal hom ’n heerser maak in My huis en in My koninkryk vir ewig en sy troon sal vir ewig vasgestel word.” 15Volgens al hierdie woorde en volgens hierdie visioen, so het Natan met Dawid gepraat.

16Koning Dawid het gekom en in die Teenwoordigheid van יהוה gaan sit en gesê: “Wie is ek in U Teenwoordigheid, יהוה-God en wat is my huis, dat U my tot hierdie verhewe plek gebring het? 17Tog was dit iets kleins in U oë, o יהוה-God sodat U ook aangaande die huis van U dienskneg gepraat het tot ver in die toekoms, want almal wat U dien met hulle hele verstand, wil en emosie, bring U uit die duisternis in die lig, o יהוה-God! 18Wat kan Dawid nog roem om in U Teenwoordigheid te praat, want die werke van U dienskneg is bekend, o יהוה-God? 19U weet wat in die verstand, wil en emosie van U dienskneg is, dat U vir hom al hierdie grootheid gedoen het deur U dienskneg groot te maak; 20daarom weet ek, o יהוה-God, dat daar niemand is soos U nie en dat daar geen God is behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het. 21Watter ander nasie op aarde is verenig soos U volk, Yisra’el? U het Uself vanaf die hemele openbaar en hulle gered en om hulle ontwil het U groot en wonderbaarlike wonders gedoen en ernstige plae op die Mitzrayiete gebring totdat U hulle onder hulle uitgebring het, 22want U het U volk Yisra’el U ewige volk gemaak en U, o יהוה, het hulle God geword.

23Laat daarom nou, o יהוה, die woord wat U aangaande U kneg en sy huis gepraat het, vasgestel word vir ewig en doen soos U gesê het 24en laat U werke vir ewig bevestig word en U Naam vir ewig in die wêreld opgelig word sodat die mense sal sê: ‘יהוה-Tzva’ot is die God van Yisra’el’ en laat die huis van Dawid, U dienskneg, vir ewig voor U bevestig word, 25want U, my God, het U geheim aan U dienskneg openbaar en vir hom gesê: ‘Bou vir jouself ’n huis;’ daarom het U dienskneg in sy binneste besluit om hierdie gebed in U Teenwoordigheid te bid. 26Nou, o יהוה, U is God en al U woorde is waar, waarmee U al hierdie goedheid aan U dienskneg belowe het. 27Openbaar Uself dan nou deur die huis van U dienskneg te seën, dat dit altyd voor U sal wees, want U, o יהוה, het gepraat en deur U seëning sal al die huise van regverdiges altyd geseënd wees.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
1 Chronicles 16
Top of Page
Top of Page