Sagaria 8
Afrikaans PWL
1Toe het die boodskap van יהוה-Tzva’ot gekom en gesê: 2“So sê יהוה-Tzva’ot: ‘Ek is uitermate jaloers oor Tziyon, ja, met ’n groot toorn is Ek jaloers oor haar.’ 3So sê יהוה: ‘Ek sal terugkeer na Tziyon en sal midde-in Yerushalayim bly. Dan sal Yerushalayim genoem word: Die stad van Waarheid en die berg van יהוה-Tzva’ot: Die Afgesonderde Berg.’ 4So sê יהוה-Tzva’ot: “Ou manne en ou vroue sal weer in die strate van Yerushalayim sit, elke man met sy staf in sy hand as gevolg van ouderdom. 5Die strate van die stad sal vol wees met seuns en dogters wat in die strate speel.’ 6So sê יהוה-Tzva’ot: ‘As dit te moeilik is in die oë van die wat van hierdie volk oorgebly het in daardie dae, sal dit ook te moeilik wees in My oë?’ verklaar יהוהTzva’ot. 7So sê יהוה-Tzva’ot: ‘Let op, Ek gaan My volk verlos uit die land van die ooste en uit die land van die weste 8en hulle bring en hulle sal midde-in Yerushalayim bly en hulle sal My volk wees en Ék sal hulle God wees, in waarheid en onpartydige opregtheid.”

9So sê יהוה-Tzva’ot: ‘Laat julle hande onveranderlik sterk wees, julle wat in hierdie dae na die boodskappe uit die mond van die profete luister op die dag toe die fondasie van die huis van יהוה-Tzva’ot gelê is sodat die tempel gebou kon word, 10want vóór daardie dae was daar geen loon vir die mense of enige loon vir die diere nie en vir die wat uit- of ingegaan het was daar geen rustigheid as gevolg van sy vyande nie en Ek het al die mense die een teen die ander opgestel. 11Nou sal Ek egter nie die wat oorgebly het van die volk behandel soos in vroeër dae nie,’ verklaar יהוה-Tzva’ot, 12‘want daar sal vrede wees vir die saad: die wingerdstok sal sy vrug gee en die land sy opbrengs lewer en die hemel sal sy dou gee en Ek sal die wat oorgebly het van die volk al hierdie dinge laat erf. 13Dit sal gebeur dat net soos julle ’n vloek was onder die nasies, o huis van Y’hudah en huis van Yisra’el, so sal Ek julle red sodat julle ’n seën kan word. Moenie vrees nie, laat julle hande onveranderlik sterk wees,’

14want so sê יהוה-Tzva’ot: ‘Net soos Ek beplan het om julle kwaad aan te doen, toe julle vaders My uitgetart het tot toorn,’ sê יהוה-Tzva’ot ‘en Ek nie bedaar het nie, 15so het Ek weer beplan in hierdie dae om goed te doen aan Yerushalayim en aan die huis van Y’hudah. Moenie vrees nie! 16Hierdie is die dinge wat julle moet doen: praat die waarheid met mekaar; oordeel met waarheid en regverdigheid vir vrede in julle poorte! 17Laat niemand van julle ook boosheid beplan in sy verstand, wil en emosie teen ’n ander nie en moenie lief wees om ’n vals eed af te lê nie, want dit is alles wat Ek haat,’ verklaar יהוה.”

18Toe het die boodskap van יהוה-Tzva’ot tot my gekom en gesê: 19“So sê יהוה-Tzva’ot: ‘Die vas van die vierde, die vas van die vyfde, die vas van die sewende en die vas van die tiende maand sal vir die huis van Y’hudah ’n vreugde, ’n blydskap en vrolike feeste wees; wees daarom lief vir waarheid en vrede.’

20So sê יהוה-Tzva’ot: ‘Volke sal kom, die inwoners van baie stede. 21Die inwoners van een sal gaan na ’n ander en sê: “Laat ons dadelik gaan om die onverdiende guns van יהוה te vra en om יהוה-Tzva’ot te soek; ek sal ook gaan!” 22So sal baie volke en magtige nasies kom om יהוה-Tzva’ot in Yerushalayim te soek en om die onverdiende guns van יהוה af te smeek.’ 23So sê יהוה-Tzva’ot: ‘In daardie dae sal tien man vanuit al die nasies die kleed van ’n man van Y’hudah vasgryp en sê: “Laat ons saam met julle gaan, want ons het gehoor dat God by julle is.”’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Zechariah 7
Top of Page
Top of Page