Sagaria 7
Afrikaans PWL
1In die vierde jaar van koning Daryavesh het die boodskap van יהוה tot Z’kharyah gekom, op die vierde dag van die negende maand, Kislev. 2Beit-El het vir Sar’etzer en Regem-Melekh met hulle manne gestuur om die guns van יהוה te soek, 3deur met die priesters wat behoort aan die huis van יהוה-Tzva’ot en met die profete te praat en te sê: “Moet ek in die vyfde maand huil en vas soos wat ek hierdie baie jare gedoen het?” 4Toe het die boodskap van יהוה-Tzva’ot tot my gekom en gesê: 5“Sê vir al die mense van die land en vir die priesters: ‘Wanneer julle hierdie sewentig jaar lank in die vyfde en in die sewende maand gevas en getreur het, was dit werklik vir My dat julle gevas het? 6Wanneer julle eet en drink, eet julle nie vir julleself en drink julle nie vir julleself nie? 7Is dit nie die boodskap wat יהוה deur die vroeëre profete verkondig het, toe Yerushalayim en sy omliggende stede bewoond en voorspoedig was en die Suidland (Negev) en die voetheuwels bewoond was, nie?’”

8Toe het die boodskap van יהוה tot Z’kharyah gekom en gesê: 9“So het יהוה-Tzva’ot gesê: ‘Deel eerlike vonnis uit en beoefen goedheid en liefdevolle omgee, elkeen vir sy broer 10en moenie die weduwee of die wees, die vreemdeling of die arme onderdruk nie en moenie boosheid in julle verstand, wil en emosie teen mekaar beplan nie.’ 11Hulle het egter geweier om aandag te gee en ’n hardnekkige skouer gedraai en hulle ore toegestop om nie te hoor nie. 12Hulle het hul harte soos vuursteen gemaak sodat hulle nie die wet of die boodskap wat יהוה-Tzva’ot deur Sy Gees deur die vroeëre profete gestuur het, kon hoor nie; daarom het groot toorn vanaf יהוה-Tzva’ot gekom. 13Net soos wat Ek geroep het en hulle nie wou luister nie, so het hulle geroep en Ek wou nie luister nie,” sê יהוה-Tzva’ot, 14“maar Ek het hulle met ’n stormwind verstrooi onder al die nasies wat hulle nie geken het nie. So is die land verlate agter hulle sodat niemand heen en weer gegaan het nie, want hulle het die aangename land verlate gemaak.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Zechariah 6
Top of Page
Top of Page