Hooglied 2
Afrikaans PWL
1Ek is soos die roos van Sharon en die lelie van die vallei.

2Soos die lelies tussen die dorings, so is my vriendin onder die dogters.

3Soos ’n appelboom tussen die bome van die bos, so is my vriend tussen die jongmanne. Ek sit onder sy skaduwee met groot vreugde en sy vrugte is soet vir my smaak.

4Hy het my na die wynhuis gebring en sy banier oor my is die liefde.

5Hou my in stand met lekkernye, omring my met appels, want ek is siek met liefde.

6Sy linkerhand is onder my kop en sy regterhand omhels my.

7Ek smeek julle, dogters van Yerushalayim, by die gemsbokke of by die jong bokke van die veld, om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat die liefde wil nie.

8Die stem van my vriend, let op, hy kom springend oor die berge, huppelend op die heuwels.

9My vriend lyk soos ’n gasel of soos ’n jong bok. Let op, hy staan agter ons muur, hy kyk deur die vensters, buigend oor die venstertralies.

10My vriend het gepraat en vir my gesê: “Staan op, my vriendin, my mooi een en kom weg,

11want let op, die winter is verby, die reën is oor en verby.

12Die bloeisels verskyn op die land, die snoeityd het aangebreek en die lied van die tortelduif word gehoor in ons land.

13Die vyeboom gee sy groen vye en die wingerdstokke gee geur met sagte lote. Staan op, my vriendin, my mooi een en kom weg.

14O, my duif, wat nes maak in die rotsklowe, in die geheime plekke van die heining, laat my jou gesig sien, laat my jou stem hoor, want jou stem is soet en jou gesig is mooi.

15Laat ons die jakkalse vang, die klein jakkalsies wat die wingerde verniel, want ons wingerde het sagte lote.

16My vriend is myne en ek is syne; hy wei tussen die lelies.

17Totdat die dag afkoel en die skaduwees vlug, vertoef my vriend en is hy soos die gasel of soos die jong bok op die welriekende berge.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Song of Solomon 1
Top of Page
Top of Page