Openbaring 9
Afrikaans PWL
1Die vyfde het geblaas en ek sien ’n ster wat uit die lug uit op die aarde geval het en aan hom is die sleutel van die bodemlose put gegee. 2Daar het rook opgekom uit die put, soos die rook van ’n groot hoogoond wat warm gemaak is en die son en die lug is deur die rook uit die put verduister 3en vanuit die rook het daar sprinkane oor die aarde uitgegaan en aan hulle is die krag gegee wat die skerpioene van die aarde het. 4Vir hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid of enige boom mag beskadig nie, maar slegs die mense wat nie die seël van God tussen hulle oë het nie 5en dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word en hulle pyniging was soos die pyniging van ’n skerpioen, wanneer hy ’n mens aanval. 6In dié dae sal die mense die dood soek en dit nie kry nie en hulle sal begeer om dood te gaan en die dood sal van hulle af wegvlug.

7Die sprinkane het gelyk soos perde wat voorberei is vir die oorlog; op hulle koppe was iets wat gelyk het soos krone van goud en hulle gesigte was soos die gesigte van mense; 8hulle het hare gehad soos dié van vroue, hulle tande was soos dié van leeus, 9hulle het borsplate gehad soos van yster, die klank van hulle vlerke was soos die klank van baie strydwaens met perde, wat hardloop na die geveg 10en hulle het sterte gehad wat lyk soos dié van skerpioene; die angels in hulle sterte en hulle outoriteit was om die mense vyf maande lank seer te maak. 11Hulle het as koning oor hulle die engel van die bodemlose put. Sy naam in Hebreeus is Abdo (werker) en in Aramees het hy die naam Shra (sterk of getrou).

12Die eerste ‘wee’ het verbygegaan. Let op, hierna kom daar nog twee ‘weë!’

13Na hierdie dinge het die sesde engel geblaas en ek het ’n stem gehoor vanuit die vier horings van die goue altaar wat voor God is 14en dié het aan die sesde engel met die ramshoring gesê: “Maak die vier engele los wat vasgebind is by die groot rivier, die Eufrates;” 15en die vier engele is losgemaak, wat gereed gemaak is vir dié uur, dag, maand en jaar, om ’n derde van die mense dood te maak. 16Die getal van die berede soldate was tweehonderd miljoen (200 000 000)! Ek het hulle getal gehoor. 17Op hierdie manier het ek in die visioen die perde gesien en die wat op hulle sit, met borsplate van vuur, jakinth en swael. Die koppe van die perde was soos leeukoppe en vuur, swael en rook het uit hulle bekke uitgegaan. 18Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense doodgemaak deur die vuur, die rook en die swael wat uit hulle bekke uitgegaan het, 19want die outoriteit van die perde is in hulle bekke en in hulle sterte.

20Die res van die mense, wat nie deur hierdie plae doodgemaak is nie, het ook nie weggedraai van die werke van hulle hande nie, of om demone en afgode van goud, silwer, koper, hout en klip, wat nie kan sien, hoor of beweeg, te aanbid nie 21en nie weggedraai van hulle moorde, hulle toordery, heksery en van hulle seksuele immoraliteit nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Revelation 8
Top of Page
Top of Page