Openbaring 8
Afrikaans PWL
1Toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel soos vir ’n halfuur lank 2en ek het sewe engele gesien, hulle wat in God se Teenwoordigheid staan, aan wie sewe ramshorings gegee is.

3’n Ander engel het gekom en met ’n goue wierookbak by die altaar gaan staan en baie wierook is aan hom gegee om saam met die gebede van al die afgesonderdes, voor die troon, op die goue altaar te gooi 4en die rook van die wierook het, saam met die gebede van die afgesonderdes, uit die hand van die engel opgegaan voor God. 5Die engel het die wierookbak gevat en dit met vuur van die altaar af volgemaak en dit oor die aarde gegooi en daar was donderslae, stemme, weerlig en aardbewings.

6Die sewe engele met die sewe ramshorings het hulle gereed gemaak om te blaas.

7Die eerste het geblaas en daar was hael en vuur, met water gemeng, wat op die aarde gegooi is en ’n derde van die aarde, ’n derde van die bome en al die groen gras het verbrand.

8Die tweede het geblaas en iets, soos ’n groot brandende berg, het in die see geval en ’n derde van die see het bloed geword. 9’n Derde van alles wat in die see geskep is en lewe, het gesterf en ’n derde van die skepe is vernietig.

10Die derde het geblaas en ’n groot ster, wat soos ’n fakkel brand, het uit die hemel geval en dit het op ’n derde van die riviere en op die waterfonteine geval. 11Die naam van die ster word Wilde-als (Apsythna) genoem en ’n derde van die waters het soos als(em)kruid geword en baie mense het doodgegaan van die water omdat dit bitter geword het.

12Die vierde het geblaas en ’n derde van die son, ’n derde van die maan en ’n derde van die sterre is verslind sodat ’n derde van hulle donker geword het en ’n derde van die dag het nie verskyn nie en net so van die nag.

13Ek het ’n arend wat in die lug vlieg gehoor wat sê: “Wee, wee, wee aan die wat op die aarde bly, as gevolg van die klank van die ramshorings van die drie engele wat nog sal blaas!”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Revelation 7
Top of Page
Top of Page