Openbaring 1
Afrikaans PWL
1Die openbaring van Yeshua, Die Gesalfde Een, wat God aan Hom gegee het om aan Sy diensknegte te wys, wát gegee is om gou te gebeur en wat Hy simbolies verduidelik het toe Hy dit deur Sy engel aan Sy dienskneg Yoganan gestuur het; 2hy wat getuig het van die boodskap van God en van die getuienis van Yeshua, Die Gesalfde Een; alles wat hy gesien het. 3Sy seën aan dié een wat die boodskap van dié profesie lees en aan dié wat dit hoor en doen wat daarin geskryf is, want die tyd is naby.

4Yoganan, aan sewe gemeentes in Asië: onverdiende guns vir julle en vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid van Hom wat is en wat was en wat kom, van die sewe Geeste wat voor Sy troon is 5en van Yeshua, Die Gesalfde Een, die betroubare getuie, die Eersgeborene uit die dood en die Heerser oor die konings van die aarde; Hy wat ons liefhet, ons van ons sondes losgemaak het deur Sy bloed 6en ons ’n koninkryk van priesters gemaak het vir God, Sy Vader; aan Hom die eer, lof, aanbidding en die heerskappy vir tydlose ewigheid! Dit is waar. 7Let op, Hy kom met die wolke en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het en al die families van die aarde sal oor Hom rou. Ja, dit is waar!

8“Ek is die Alef en ook die Tau,” sê יהוה-God; Hy wat is en wat was en wat kom; Hy wat alles vashou.

9Ek is Yoganan, julle broer en deelgenoot in die lyding en in die volharding wat in Yeshua is. Ek was op die eiland wat Patmos genoem word as gevolg van die boodskap van God en as gevolg van die getuienis van Yeshua, Die Gesalfde Een. 10Ek was in die Gees op die eerste dag van die week en ek het agter my ’n harde Stem gehoor, soos van ’n ramshoring, 11wat sê: “Skryf wat jy sien in ’n rol en stuur dit vir sewe gemeentes: na Efesos, Smurna, Pergamos, Thuateira, Sardeis, Filadelfeia en Laodikeia.”

12Ek het omgedraai om uit te vind watter Stem met my gepraat het en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelare 13en tussen die kandelare, Een wat lyk soos ’n mens, met ’n skouerkleed aan en met ’n goue gordel om die bors. 14Sy kop en hare was wit, soos wol en soos sneeu; Sy oë soos vlamme van vuur; 15Sy voete soos brons vanaf L’vanon wat gesuiwer is in ’n oond en Sy stem soos die klank van baie water. 16Hy hou sewe sterre vas in Sy regterhand; ’n skerp swaard het uit Sy mond Yes 49:1-3 uitgegaan en ek het Hom gesien soos die son wat verskyn in sy volle krag.

17Toe ek Hom sien, val ek soos ’n dooie aan Sy voete en Hy het Sy regterhand op my gelê en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, want Ek is die Eerste en die Finale 18en die Lewende en Ek was dood en let op, Ek leef vir tydlose ewigheid. Dit is waar. Ek het die sleutels van Sh’ol en van die dood. 19Skryf daarom neer alles wat jy gesien het, dié wat reeds is, sowel as dié wat hierna gaan gebeur. 20Die geheim van daardie sewe sterre wat jy in My regterhand gesien het en die sewe goue kandelare: die sewe sterre is die boodskappers van sewe gemeentes en die sewe kandelare wat jy gesien het, is sewe gemeentes.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jude 1
Top of Page
Top of Page