Judas 1
Afrikaans PWL
1Y’hudah, die dienskneg van Yeshua, Die Gesalfde Een en broer van Ya’akov: aan die ander nasies, wat deur God-die-Vader, as húlle vir wie ons lief is, geroep is en deur Yeshua, Die Gesalfde Een, bewaar word: 2mag liefdevolle omgee, vrede, gesondheid, voorspoed, vergenoegdheid en liefde vir julle vermenigvuldig word!

3Julle vir wie ons lief is: terwyl ek in alle erns, oor die lewe wat ons deel, skryf, is ek oortuig om julle deur my skrywe op te roep om ernstig te stry vir die vertroue wat eenmaal aan die afgesonderdes oorgegee is, 4want mense, waaroor lank gelede reeds geskryf is vir hierdie oordeel, het toegang verkry; bose mense wat die onverdiende guns van ons God verdraai tot ’n verwerplikheid en Hom wat die enigste Meester is, God en ons Meester, Yeshua Die Gesalfde Een, ontken.

5Ek wil julle egter herinner, soos julle reeds weet, dat God, toe Hy die volk uit Mitzrayim uitgehaal het, hulle wat nie vertrou het nie, daarna vernietig het 6en die engele, wat nie binne hulle oorspronklike outoriteitssfeer gebly het nie, maar hulle eie lewenswyse verlaat het, vir die groot oordeelsdag in die onbekende duisternis met boeie vasgebind het. 7Net soos S’dom, `Amorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hulle agter seksuele permissiwiteit en ander vleeslikhede aangeloop het, onder ’n demonstrasie van die straf van ewige vuur geplaas is, soos hulle skuldig bevind is tot veroordeling,

8nét so hierdie wat in drome deur begeertes die vlees besmet en outoriteite verwerp en kwaad praat teen die Gemanifesteerde Teenwoordigheid, 9maar toe Mikha’el, die hoofengel, met die teëstander gepraat het oor die liggaam van Moshe, het hy geen oordeel van kwaadpraat teen hom gebring nie, maar hy het gesê: ‘יהוהbestraf jou!’ 10Hierdie mense praat egter kwaad teen alles wat hulle nie verstaan nie en alles wat hulle, soos redelose diere, op natuurlike wyse verstaan, daardeur word hulle vernietig. 11Wee hulle, wat op die pad van Kayin gegaan het en agter die misleiding van Bil’am aan, met blydskap vir geld betower is en vernietig is in die rebellie van Korag. 12Dit is hulle wat tekere gaan by hulle feeste terwyl hulle onrein is en hulleself voed sonder vrees; waterlose wolke deur winde rondgedrywe; dooie bome sonder vrugte, wat twee maal dood is, uitgetrek by die wortels; 13wilde golwe van die see, wat hulle skandes wys deur hulle skuim; dwalende sterre, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig gereserveer word.

14Hanokh, die sewende geslag van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: ‘Let op, יהוהkom met ’n tallose menigte van Sy afgesonderdes, 15om oordeel te vel oor almal en al die mense te straf; die wat boosheid gedoen het vir hulle dade en oor al die harde woorde wat die bose sondaars gesê het.’ 16Dit is hulle wat murmureer en kla oor alles terwyl hulle volgens hulle eie begeertes leef en met hulle mond skuld uitspreek en mense vlei ter wille van voordeel,

17maar julle, vir wie ons lief is, onthou die boodskappe wat vroëer verkondig is deur die afgevaardigdes van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een, 18wat vir julle gesê het: ‘In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie begeertes agter boosheid aangaan.’ 19Dit is hulle wat die natuurlike mens uitlig, want die Gees is nie by hulle nie. 20Julle egter, vir wie ons lief is, wees bemoedig in julle afgesonderde vertroue van bo af deur die Gees van Afsondering terwyl julle bid. 21Laat ons onsself in die liefde van God hou terwyl ons uitkyk vir die aktiewe omgee van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een tot ons ewige lewe 22en sommige van die wat in die vuur is uitruk. 23Wanneer hulle erken, berou het en wegdraai, wys liefdevolle omgee aan hulle met respek terwyl julle selfs die klere haat wat deur die sondige natuur bevlek is.

24Aan Hom wat in staat is om ons te bewaar sonder oortreding en sonder ontering en ons in vreugde voor Sy Gemanifesteerde Teenwoordigheid sonder vlek laat staan, 25Hy alleen is God, ons Verlosser, deur Yeshua, Die Gesalfde Een, ons Meester; aan Hom kom toe die lofprysing, die danksegging, die eer en die majesteit, nou en tot in alle tye! Dit is waar.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
3 John 1
Top of Page
Top of Page