Psalms 33
Afrikaans PWL
1Sing van vreugde in יהוה, o regverdiges! Lofprysing pas by die opregtes.

2Loof en dank יהוה met die harp en siter; sing en maak musiek vir Hom met die tiensnarige harp.

3Sing vir Hom ’n nuwe lied; speel bekwaam met vreugdevolle klanke,

4want die Boodskap van יהוה is opreg en al Sy dade word in waarheid gedoen.

5Hy het onpartydige opregtheid en regverdige oordeel lief; die aarde is vol van die goedheid van יהוה.

6Deur die Woord van יהוה is die hemele gemaak en deur die asem van Sy mond hulle hele leërmag.

7Hy maak die waters van die seë bymekaar soos in ’n hoop watersakke; Hy bêre die waterdieptes weg in stoorkamers.

8Laat die hele aarde יהוה vrees; laat al die bewoners van die wêreld met respekvolle vrees voor Hom staan,

9want Hy het gepraat en dit is gedoen; Hy het beveel en dit het vas gestaan.

10יהוה bring die raad van die nasies tot niks, Hy verbied die planne van die volke.

11Die raadgewing van יהוה staan vir ewig, die gedagtes van Sy verstand, wil en emosie in alle geslagte.

12Geseënd is die nasie wie se God יהוה is, die volk wat Hy vir Homself as erfenis gekies het.

13יהוה kyk van die hemel af; Hy sien al die seuns van die mens.

14Vanaf Sy troon kyk Hy af op al die inwoners van die aarde.

15Hy vorm hulle hele verstand, wil en emosie, beoordeel al hulle dade.

16Die koning word nie gered deur die menigte van die leërmag, die sterk manne nie deur groot krag nie.

17Die perd is ’n vals hoop vir oorwinning en red niemand deur sy groot krag nie.

18Let op, die oog van יהוה is op dié wat Hom respekvol vrees, op dié wat met versekerde verwagting op Sy onverdiende guns wag,

19om hulle lewe te red van die dood en hulle aan die lewe te hou in hongersnood.

20Ons wag op יהוה; Hy is ons Hulp en ons Skild,

21want ons verstand, wil en emosie is verheug in Hom omdat ons vertrou in Sy Afgesonderde Karakter en Outoriteit.

22Laat U goedheid, יהוה, oor ons wees volgens ons aktiewe verwagting in U!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 32
Top of Page
Top of Page