Psalms 22
Afrikaans PWL
1Vir die musiekleier; op die wysie van: Aiyeleth Hashshahar (Die hert-ooi van die sonsopkoms): ’n gedig van Dawid, met instrumentale musiek.

2My Magtige God, my Magtige God, waarom het U my verlaat, my verlossing is ver van my as gevolg van die woorde van my dwaasheid.

3My God, ek roep bedags, maar U antwoord my nie en snags, maar U bly nie by my nie.

4Tog is U die Afgesonderde en Yisra’el bly onder U Gemanifesteerde Teenwoordigheid!

5Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou en U het hulle bevry.

6Hulle het na U toe uitgeroep en is bevry; in U het hulle vertrou en is nie teleurgestel nie,

7maar ek is ’n wurm en nie ’n man nie, ’n bespotting van die mense en verag deur die volk.

8Almal wat my sien, spot met my; hulle skiet uit met hulle lippe en skud hulle koppe en sê:

9“Hy het in יהוה vertrou, laat Hy hom bevry; laat Hy hom verlos, want Hy is tevrede met hom!”

10Want U is my Vertroue sedert ek uit die baarmoeder gekom het en my Versekerde Verwagting sedert ek aan my moeder se bors was.

11Ek is onder U sorg geplaas van die baarmoeder af; van die skoot van my moeder af is U my God.

12Wees nie ver van my af nie, want moeilikheid is naby, want daar is niemand om te help nie.

13Baie bulle het my omsingel, sterkes van Bashan het my omring.

14Hulle monde gryns teen my soos ’n verskeurende en brullende leeu.

15Ek word uitgegooi soos water; al my beendere is uit lid uit; my binneste is soos was, dit is gesmelt binne-in my.

16My krag is verdroog soos ’n potskerf en my tong kleef aan my verhemelte en U gooi my neer in die stof van die dood,

17want honde het my omsingel; ’n bende boosdoeners het my omring; Open 22:15 hulle het my hande en my voete deurboor.

18My gebeentes is pynlik seer; hulle kyk en staar na my!

19Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my kleed,

20maar U, יהוה, wees nie ver van my nie; o God, my Hulp, hou aan om my te help!

21Red my lewe van die swaard, my uniek enigste uit die hand van die geweldenaar.

22Verlos my uit die bek van die leeu, my swakheid uit die hand van die gierige

23sodat ek U Naam (Karakter en Outoriteit) aan my broers kan verkondig. In die middel van die vergadering sal ek U helder en duidelik prys.

24Julle wat יהוה respekvol vrees, prys Hom helder en duidelik! Al julle nakomelinge van Ya’akov, eer Hom; vrees Hom respekvol, al die nakomelinge van Yisra’el,

25want Hy het nie die teistering van die geteisterde verag of verfoei en Sy gesig nie vir hom verberg nie, maar Hy het gehoor en geluister toe dié na Hom geroep het.

26Vanaf U kom my lofprysing in die groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in die teenwoordigheid van dié wat Hom respekvol vrees.

27Die geteisterdes sal eet en versadig word; húlle wat Hom soek sal יהוה helder en duidelik loof. Mag julle verstand, wil en emosie vir ewig lewe!

28Al die eindes van die aarde sal onthou en na יהוה toe draai en al die families van die nasies sal voor U Teenwoordigheid neerbuig,

29want die Koninkryk behoort aan יהוה en Hy heers oor die nasies.

30Almal wat honger is op die aarde sal eet en neerbuig voor יהוה; almal wat begrawe is sal neerbuig voor Hom; niemand kan uit homself lewe nie.

31’n Nageslag sal Hom dien en hul nageslag sal יהוה verkondig; 32 hulle sal kom en Sy regverdigheid verkondig aan ’n volk wat gebore sal word en vertel van dit wat יהוה gedoen het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 21
Top of Page
Top of Page