Spreuke 30
Afrikaans PWL
1Hierdie is die woorde van Agur, die seun van Yakeh, wat geprofeteer en krag ontvang het. Hy het vir Iti’el en vir Ukhal gesê:

2“Sekerlik, ek is swak van verstand en het nie die insig van mense nie.

3Ek ken nie wysheid nie en het ook nie die kennis van die afgesonderde manne geleer nie.

4Vertel my: Wie het opgegaan na die hemel en afgekom? Wie het die wind in Sy vuiste versamel? Wie het die waters in ’n doek vasgebind? Wie het al die grense van die aarde vasgestel? Wat is Sy Naam (Karakter en Outoriteit) en wat is die Naam (Karakter en Outoriteit) van Sy Seun, as jy weet?

5Elke woord van God is rein; Hy is ’n Skild vir hulle wat hulle vertroue in Hom plaas.

6Voeg niks by Sy woorde by nie sodat Hy jou nie teregwys en jy as ’n leuenaar gevind word nie.

7Twee dinge het ek van U gevra; weier my dit nie voordat ek sterf nie:

8verwyder sinnelose boosheid en leuens ver van my af; gee vir my nie armoede of rykdom nie, gee vir my voldoende lewe

9sodat ek nie, as ek versadig is, lieg en sê: “Wie is יהוה,” of as ek arm is en steel, die Naam (Karakter en Outoriteit) van my God verkeerd gebruik, nie.

10Moenie ’n slaaf oorgee aan sy meester nie sodat hy jou nie vloek en jy skuldig bevind word nie.

11Daar is ’n geslag wat hulle vaders vervloek en hulle moeders nie seën nie,

12’n geslag wat rein is in hulle eie oë en tog nie van hulle vuilheid gewas is nie;

13’n geslag; hoe trots is hulle oë en hoe hoog is hul ooglede opgetrek!

14’n Geslag wie se tande soos swaarde is, hulle tande is soos messe, om die armes van die aarde af te verteer en die behoeftiges van tussen die mense.

15Die bloedsuier het drie dogters, daar is drie dinge wat nooit versadig word nie; ja, ’n vierde wat nooit sê: “Dit is genoeg,” nie:

16Sh’ol en die onvrugbare baarmoeder, die aarde wat nie bevredig word met water nie en die vuur wat nooit sê: “Dit is genoeg,” nie!

17Die oog wat spot met sy vader en die ouderdom van sy moeder verag, sal deur die kraaie van die vallei uitgepik word en die jong aasvoëls sal dit eet.

18Daar is drie dinge wat vir my weggesteek is, ja, vier wat ek nie ken nie:

19die manier van die arend in die lug, die manier van ’n slang op ’n rots, die manier van ’n skip in die middel van die see en die manier van ’n man in sy jeug.

20Dit is die lewenswyse van ’n vrou wat owerspel pleeg: sy eet en vee haar mond af en sê: “Ek het geen boosheid gedoen nie.”

21Onder drie dinge bewe die aarde en onder vier kan hy nie uithou nie:

22onder ’n slaaf wanneer hy heers en ’n dwaas wanneer hy vol is van brood;

23onder ’n haatlike vrou as sy trou en onder ’n slavin as sy haar meesteres se erfenis oorneem.

24Daar is vier dinge wat klein is op die aarde, maar hulle is wyser as wyse manne:

25die miere wat geen krag het nie en tog voorsien hulle hul kos in die somer;

26die klipdassies kom krag kort en tog maak hulle hul huise in die rots;

27die sprinkane wat geen koning het nie en tog vergader hulle almal saam;

28die geitjie met klouende pote wat jy maklik vang, maar in konings se paleise is.

29Daar is drie dinge wat goed stap, ja, vier wat statig is in hulle stap:

30die leeu wat die magtigste is onder diere en wat nie vrees of omdraai voor enige wilde dier nie;

31die haan wat trots loop tussen die kuikens; die bokram wat voor die trop uitloop en ’n koning wat tussen die mense praat.

32Begeer nie sodat jy nie tereggewys word nie; moenie jouself voed met dinge wat verkeerdelik verkry is nie.

33Deur die karring van die melk kom botter voort en die draai van die neus bring bloed; so bring die forsering van woede stryd voort.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Proverbs 29
Top of Page
Top of Page