Spreuke 14
Afrikaans PWL
1’n Wyse vrou bou haar huis, maar die dwase breek dit met haar eie hande af.

2Hy wat in opregtheid lewe, vrees יהוה respekvol, maar hy wat pervers is in sy lewenswandel, verag Hom.

3In die mond van die dwaas is uittarting en oneer, maar die lippe van die wyse sal hom bewaar.

4Waar daar geen beeste is nie, is die krippe skoon, maar deur die krag van die os kom oorvloedige oeste.

5’n Betroubare getuie sal nie bedrieg nie, maar ’n valse getuie sal leuens vertel.

6Die bose man soek wysheid en kry dit nie, maar kennis is maklik vir die man van insig.

7Alles is ’n hindernis vir ’n dwase man, maar die lippe van die wyse man is soos ’n wapen.

8Die wysheid van die skrandere is om sy lewenswyse te verstaan, maar die lewenswyse van dwase is bedrog.

9Waarlik, die huise van die dwase benodig reiniging, maar die huishouding van die regverdiges is aanvaarbaar.

10Dwase doen sonde, maar die seuns van die opregte het welwillendheid.

11Die verstand, wil en emosie wat insig het, ken sy eie bitterheid en ’n vreemdeling deel nie in sy vreugde nie. Die huis van die bose sal vernietig word, maar die tent van die opregte sal floreer.

12Daar is ’n lewenswyse wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is die lewenswyse van die dood,

13selfs onder gelag is die verstand, wil en emosie vol pyn en die einde van blydskap is depressie.

14Die parmantige in verstand, wil en emosie sal versadig word met die vrug van sy lewenswyse en die goeie man sal tevrede wees met die respek wat hy ontvang.

15Die eenvoudige vertrou elke woord, maar die skrandere onderskei tussen goed en boos.

16Die wyse man is versigtig en gaan weg van boosheid, maar die dwaas peuter daarmee met selfvertroue.

17’n Man, haastig in alles wat hy doen, soek nooit raad nie, maar ’n wyse man is gematig.

18Dwase erf dwaasheid, maar die skranderes deel kennis uit.

19Bose manne sal plat neerbuig voor die goeies en die bose sal kom om te bedel by die poorte van die regverdige.

20Die arme word selfs deur sy eie naaste gehaat, maar die rykes het baie vriende.

21Wie sy naaste verag, doen sonde, maar hy wat omgee vir die armes, hy is gelukkig.

22Die bose fouteer wanneer hulle boosheid beplan, maar manne van liefdevolle omgee en waarheid, doen allerhande goedheid. Die werkers van boosheid verstaan nie die waarheid en onverdiende guns nie; liefdevolle goedheid en waarheid is by die werkers van die goeie.

23In al jou werke is daar wins, maar hy wat jonk is, is sonder sorge en op sy gemak. יהוה genees elke wond, maar die praat van die lippe van die dwaas neig net na armoede.

24Die kroon van die wyse is hulle rykdom, maar die boosheid van die dwase is hul verstandeloosheid.

25’n Ware getuie bevry lewens, maar ’n bedrieglike getuie praat valsheid.

26In respekvolle vrees vir יהוה lê ’n sterk versekerdheid en sy kinders sal ’n plek van skuiling hê.

27Respekvolle vrees vir יהוה is ’n fontein van lewe vir hulle wat wegdraai van die strikke van die dood.

28In die menigte van die bevolking is die eer van die koning, maar in die vernietiging van die mense is die ondergang van die koning.

29Hy wat stadig is om kwaad te word, het groot insig, maar hy wat kort van humeur is, is uitsonderlik dwaas.

30Hy wat sy woede afkoel, is ’n geneesheer van sy eie verstand, wil en emosie, maar woede is die verrotting van die gebeente.

31Hy wat die arme onderdruk, tart sy Maker, maar hy wat יהוה eer, het onverdiende guns vir die behoeftiges.

32Die bose word deur sy boosheid omvergewerp, maar hy wat oortuig is dat hy sonder sonde is, is ’n regverdige man.

33Wysheid sal rus in die verstand, wil en emosie van die regverdige, maar in die verstand, wil en emosie van dwase sal dit nie bekend gemaak word nie.

34Onpartydige opregtheid verhoog ’n volk, maar sonde is ’n bespotting vir enige nasie.

35Die koning se guns is tot ’n wyse dienskneg, maar die bose sal omvergewerp word deur sy eie planne. Woede vernietig selfs wyse manne.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Proverbs 13
Top of Page
Top of Page