Filippense 4
Afrikaans PWL
1My broers vir wie ek lief is; my blydskap en kroon, staan daarom op dié manier vas in ons Meester.

2Ek doen ’n beroep op Euodia en Suntuge om een van gedagte te wees in ons Meester 3en ek vra jou, wat opreg die juk saam met my dra; help hierdie wat saam met my gestoei het in die goeie boodskap; saam met Klemes en my ander medewerkers wie se name in die boekrol van die lewe geskryf is.

4Verheug julle in eenheid met ons Meester; ek sê weer: verheug julle! 5Laat alle mense julle nederigheid sien. Ons Meester is naby. 6Wees oor niks bekommerd nie, maar maak julle begeertes elke keer deur gebed, versoeke en danksegging by God bekend 7en die vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed van God, Hy wat ver bo alle kennis en begrip is, sal julle gedagtes, wil, emosie en julle begrip beskerm in eenheid met Yeshua, Die Gesalfde Een;

8daarom, my broers: voed julleself met alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat onskuldig en opreg is, alles wat skoon is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is en daardie werke van lof en eer, wat geprys word. 9Hierdie dinge wat julle geleer, ontvang, gehoor en in my gesien het, doen dit en die God van vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed sal by julle wees.

10Ek het my baie in ons Meester verbly dat julle voortgegaan het om om te gee vir my; net soos julle nog altyd omgegee het, maar nie ten volle in staat was nie. 11Nie dat ek dit sê omdat ek behoefte het nie, want ek het geleer dat, wat ek ook al het, vir my genoeg sal wees. 12Ek weet wat dit is om verneder te word; ek weet wat dit is om oorvloed in alles te hê en in alles leer ek: ook om versadig te wees, ook om honger te ly, in oorvloed en in armoede, 13want ek is kragtig opgewasse teen alles, deur Die Gesalfde Een wat my krag gee. 14Nogtans het julle goed gedoen deur deel te hê in my laste,

15maar weet ook, julle Filippense, dat by die aanvang van die goeie boodskap, toe ek van Makedonia af vertrek het, geen gemeente deel gehad het in my rekening van gee en ontvang nie, behalwe julle alleen 16en ook in Thessalonike het julle, dit wat ek nodig gehad het, een of twee maal vir my gestuur. 17Nie dat ek geskenke soek nie, maar dat julle vrug mag vermeerder. 18Ek het alles ontvang en daar is oorvloed en ek het meer as genoeg noudat ek van Epafroditos ontvang het wat deur julle gestuur is, ’n soet reukoffer, aanvaarbaar, wat God tevrede stel. 19My God sal al julle behoeftes vervul deur Sy rykdom in die goedheid en rykdom van Yeshua, Die Gesalfde Een. 20Aan God ons Vader die eer, lof en aanbidding vir tydlose ewigheid! Dit is waar!

21Groet al die afgesonderdes wat in eenheid met Yeshua, Die Gesalfde Een is. Die broers wat saam met my is, groet julle. 22Al die afgesonderdes, maar veral die wat aan die keiserlike huis behoort, groet julle.

23Die onverdiende guns van ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een bly by julle almal! Dit is waar.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Philippians 3
Top of Page
Top of Page