Mattheus 27
Afrikaans PWL
1Met dagbreek het die Raad al die leierpriesters en die oudstes van die volk bymekaar gekry en teen Yeshua vergader oor hoe om Hom dood te maak 2en hulle het Hom vasgebind en weggevat en Hom oorgelewer aan Pilatos, die goewerneur.

3Toe Y’hudah, die een wat Hom oorgelewer het, sien dat Hy veroordeel is, het hy berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die leierpriesters en die oudstes 4en gesê: “Ek het gesondig deur onskuldige bloed oor te lewer,” maar hulle sê: “Wat gaan dit ons aan wat jy ontdek?” 5Hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en onttrek, weggegaan en homself opgehang, 6maar die leierpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: “Dit is nie reg volgens die wet om dit in die offerande te gooi nie omdat dit geld is wat bloed gekoop het.” 7Die raad het besluit dat hulle die stuk grond van ’n pottebakker daarmee koop as ’n begraafplaas vir vreemdelinge; 8daarom is dié stuk grond Bloedgrond genoem, tot vandag toe. 9Toe is vervul wat deur die profeet gesê is: “Ek het dertig silwerstukke gevat van die kinders van Yisra’el; die waarde van die Kosbare Een, waarop hulle ooreengekom het 10en ek het dit vir hulle gegee vir die grond van die pottebakker, soos יהוה my beveel het.”

11Yeshua het voor die goewerneur gestaan en die goewerneur het Hom gevra en gesê: “Is U die Koning van die Jode?” Yeshua antwoord hom: “U sê dit.” 12Terwyl Hy deur die leierpriesters en die oudstes beskuldig word, het Hy niks geantwoord nie. 13Toe sê Pilatos vir Hom: “Hoor U nie hoeveel hulle teen U getuig nie?” 14Hy het hom op geen enkele woord geantwoord nie sodat die goewerneur hom baie bewonder het.

15By elke fees was die goewerneur gewoond om een gevangene, die mense se keuse, vir hulle vry te laat 16en in daardie tyd het hulle ’n prominente gevangene gehad wat Bar-Abba genoem is. 17Omdat hulle dan byeengekom het, sê Pilatos vir hulle: “Wie wil julle hê moet ek vir julle vrylaat: ‘Bar-Abba, of Yeshua wat genoem word ‘Die Gesalfde Een’?” 18Hy het geweet dat hulle Hom uit afguns oorgelewer het.

19Terwyl hy op die regstoel sit, het sy vrou na hom toe gestuur en gesê: “Moet niks te doen hê met dié Onskuldige Een nie, want ek het vandag in ’n droom baie gely as gevolg van Hom.” 20Die leierpriesters en die oudstes het die skare oortuig dat hulle Bar-Abba moes vra, maar Yeshua vernietig. 21Die goewerneur antwoord en sê vir hulle: “Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle vrylaat?” Hulle antwoord: “Bar-Abba!” 22Pilatos sê vir hulle: “Wat moet ek dan met Yeshua, wat genoem word ‘Die Gesalfde Een,’ doen?” Hulle sê almal vir hom: “Hang Hom aan ’n kruis!” 23Die goewerneur sê: “Watter boosheid het Hy dan gedoen?” Hulle skreeu egter harder en sê: “Laat Hom gekruisig word!”

24Toe Pilatos besef dat niks help nie, maar eerder ’n oproer veroorsaak word, het hy water gevat en sy hande voor die skare gewas en gesê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie Onskuldige Een; soos julle kan sien” 25en die hele volk antwoord en sê: “Sy bloed is op ons en op ons kinders!” 26Toe laat hy Bar-Abba vir hulle vry, maar Yeshua het hy laat gésel met swepe en oorgelewer om gekruisig te word.

27Daarop neem die goewerneur se soldate Yeshua met hulle saam in die paleiswag se kwartiere in en bring die hele afdeling soldate rondom Hom bymekaar, 28trek Sy klere uit en gooi ’n skarlaken rooi mantel om Hom. 29Hulle vleg ’n kroon van dorings en sit dit op Sy kop en ’n riet in Sy regterhand en kniel voor Hom en spot Hom en sê: “Wees gegroet, Koning van die Jode” 30en hulle spoeg op Hom en gryp die riet en slaan Hom op Sy kop. 31Nadat hulle Hom gespot het, trek hulle die mantel uit en trek Sy klere vir Hom aan en vat Hom weg om gekruisig te word.

32Terwyl hulle uitgaan, vind hulle ’n man van Kurene, met die naam van Shim’on en dwing hom om Sy kruis te dra

33en hulle het gekom by ’n plek wat Gulgolta genoem word; dit beteken: Plek van die Kopbeen. 34Hulle het vir Hom asyn, met ’n doofmiddel gemeng, gegee om te drink en toe Hy dit proe, wou Hy nie drink nie,

35maar toe hulle Hom gekruisig het, het hulle Sy klere verdeel deur die lot te werp. 36Hulle het gaan sit om daar oor Hom wag te hou 37en bokant sy kop het hulle sy oortreding neergeskryf: HY IS YESHUA, DIE KONING VAN DIE JODE.

38Saam met Hom is twee diewe gekruisig, een aan die regter- en een aan die linkerkant. 39Die verbygangers het Hom beledig terwyl hulle hul koppe skud 40en sê: “U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom van die kruis af!” 41Net so het ook die leierpriesters, saam met die leraars van die wet, die oudstes en die Fariseërs, gespot en gesê: 42“Ander het Hy gered, Homself kan Hy nie red nie. As Hy die Koning van Yisra’el is, laat Hom nou van die kruis afkom en ons sal in Hom vertrou.” 43“Hy het op God vertrou; laat Hy Hom nou red as Hy so wil; want Hy het gesê: ‘Ek is die Seun van God’.” 44Net so ook het die diewe wat saam met Hom gekruisig is, Hom ook beledig.

45Van die sesde uur (twaalf uur middag) af het daar duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur (drie uur) toe 46en omtrent die negende uur het Yeshua met ’n harde stem uitgeroep en gesê: “My Magtige God! My Magtige God! Waarom spaar U my nog (duur dit voort)?” 47Sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: “Hy roep vir Eliyahu.” 48Toe hardloop daar dadelik een van hulle en vat ’n spons, maak dit vol asyn, sit dit op ’n riet en gee vir Hom om te drink, 49maar die ander sê: “Neem dit weg, laat ons sien of Eliyahu kom om Hom te verlos,” 50maar Yeshua het weer met ’n harde stem uitgeroep en Sy Gees het Hom verlaat. 51Onmiddellik het die gordyn in die tempel in twee geskeur, van bo na onder, die aarde het gebewe, die rotse het oopgebreek, 52die grafte het oopgegaan en baie liggame van die afgesonderdes, het opgestaan. 53Hulle het weggegaan van die grafte af en ná Sy opstanding het hulle in die afgesonderde stad ingekom en aan baie verskyn. 54Toe die hoofman oor ’n honderd en die wat saam met hom by Yeshua waggehou het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Waarlik, hierdie is die Seun van God.”

55Daar was baie vroue wat van ver af gekyk het, wat vir Yeshua van die Galil af gevolg en Hom versorg het. 56Tussen hulle was daar Miryam van Migdala en Miryam, die moeder van Ya’akov en Yosef en die moeder van die seuns van Zavdai.

57Toe dit aand geword het, het daar ’n ryk man van Ramatayim gekom met die naam van Yosef, wat self ook ’n studentevolgeling van Yeshua was. 58Hy het na Pilatos gegaan en die liggaam van Yeshua gevra en Pilatos het beveel dat die liggaam aan hom oorgegee moes word. 59Yosef het die liggaam geneem en dit met skoon linne toegedraai 60en dit in sy nuwe graf gesit, wat hy in die rots uitgekap het, ’n groot steen teen die ingang van die graf gerol en weggegaan. 61Miryam van Migdala en die ander Miryam was daar en hulle het oorkant die graf gesit.

62Die volgende dag, ná die voorbereiding, gaan die leierpriesters en die Fariseërs saam na Pilatos 63en sê: “Ons meester, ons onthou dat dié misleier, toe Hy gelewe het, gesê het: ‘Ek sal na drie dae opstaan’.” 64“Gee dan bevel dat die graf bewaak word tot die derde dag toe dat Sy studentevolgelinge nie miskien in die nag kom, Hom steel en vir die mense sê Hy het opgestaan uit die dood uit nie, want die laaste misleiding sal erger wees as die eerste.” 65Pilatos sê vir hulle: “Daar is vir julle wagte, gaan bewaak dit volgens wat julle verstaan” 66en hulle het weggegaan om die graf te bewaak en saam met die wag ’n seël op die steen gesit.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 26
Top of Page
Top of Page