Mattheus 26
Afrikaans PWL
1Dit was nadat Yeshua al hierdie dinge klaar gesê het dat Hy vir Sy studentevolgelinge sê: 2“Julle weet oor twee dae is die Pesag en die Seun van die mens sal oorgelewer word om gekruisig te word.”

3In daardie tyd het die leierpriesters en die leraars van die wet en die oudstes van die volk in die paleis van die hoofpriester, wat Kayafa genoem word, bymekaargekom 4en hulle het ’n vergadering gehou oor Yeshua om Hom deur misleiding te vang en te vermoor. 5Hulle het gesê: “Nie tydens die fees nie sodat daar nie ’n oproer onder die mense ontstaan nie.”

6Toe Yeshua in Beit-Anyah, in die huis van Shim’on, die pottebakker was, 7kom ’n vrou na Hom toe met ’n fles geparfumeerde olie wat baie duur is en gooi dit op sy kop uit terwyl Hy aan die tafel skuinsgelê het, 8maar toe Sy studentevolgelinge dit sien, was hulle ontsteld en sê: “Hoekom dit mors, 9want dit kon vir baie verkoop en die geld dan aan die armes gegee word?” 10Yeshua het dit geweet en sê vir hulle: “Waarom val julle die vrou lastig omdat sy ’n pragtige daad vir My gedoen het? 11Die bedelaars het julle altyd by julle, maar nie altyd vir My nie, 12want toe sy hierdie aromatiese olie op My liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen asof vir My begrafnis. 13Dit is waar, Ek sê vir julle, oral in die hele wêreld, waar hierdie goeie boodskap van My verkondig sal word, sal ook gepraat word van wat sy gedoen het, tot ’n herinnering aan haar.”

14Toe gaan een van die twaalf, genoem Y’hudah van K’riot, na die leierpriesters 15en sê vir hulle: “Wat is julle gewillig om my te gee en ek sal Hom aan julle oorlewer?” Hulle het hom dertig silwerstukke belowe 16en van toe af het hy ’n geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.

17Toe die eerste dag van onthouding van suurdeeg aanbreek, kom die studentevolgelinge na Yeshua en sê vir Hom: “Waar wil U hê moet ons vir U voorberei om die Pesag te eet?” 18Hy antwoord: “Gaan na die stad, na ’n sekere persoon en sê vir hom: ‘Die Leermeester laat weet: My tyd is naby, Ek sal saam met My studentevolgelinge by jou die Pesag hou’.” 19Die studentevolgelinge het gedoen net soos Yeshua hulle beveel het en hulle het die Pesagmaal voorberei.

20Toe dit aand geword het, het Hy saam met die twaalf studentevolgelinge skuinsgelê by die tafel 21en terwyl hulle eet, sê Hy: “Dit is waar, Ek sê vir julle, een van julle sal My oorlewer.” 22Toe word hulle baie bedroef en elkeen van hulle begin vir Hom vra: “Is dit miskien ek, my Meester?” 23Hy antwoord en sê: “Hy wat sy hand saam met My in die bak in doop, dit is hy wat My sal verraai. 24Die Seun van die mens gaan weg soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens oorgelewer word! Dit sou vir daardie man goed gewees het as hy nie gebore is nie.” 25Y’hudah, wat Hom sou oorlewer, antwoord en sê: “Is dit dan ek, my Meester?” Hy antwoord hom: “Jy self het dit gesê.”

26Terwyl hulle eet, vat Yeshua die brood, dank daarvoor, breek dit en gee dit aan Sy studentevolgelinge en sê: “Neem, eet, dit is My liggaam.” 27Hy vat ook die beker, dank daarvoor, gee dit aan hulle en sê: “Drink almal daaruit, 28want dit is My bloed, van die Nuwe Verbond, wat vir baie uitgestort word tot vryspraak van sondes, 29maar Ek sê vir julle: ‘Ek sal van nou af glad nie weer van hierdie vrug van die wynstok drink, tot op daardie dag wanneer Ek dit nuut saam met julle sal drink in die Koninkryk van My Vader nie’.”

30Hulle het lofliedere gesing en uitgegaan na die Olyfberg.

31Toe sê Yeshua vir hulle: “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot aan My neem, want daar is geskrywe: ‘Ek sal die Skaapwagter slaan en die skape van die kudde sal uitmekaar gejaag word,’ 32maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na die Galil gaan.” 33Kefa antwoord en sê vir Hom: “Al sou almal ook teen U aanstoot neem, ek sal nooit aanstoot neem nie.” 34Yeshua sê vir hom: “Dit is waar, Ek sê vir jou, in hierdie nag, sal jy My drie maal ontken voordat die haan sou kraai.” 35Kefa sê vir Hom: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U nooit ontken nie!” Al die studentevolgelinge het ook so gesê.

36Toe kom Yeshua saam met hulle in ’n plek genoem Gat-Sh’manim en Hy sê vir die studentevolgelinge: “Sit hier terwyl Ek gaan om te bid.” 37Hy vat Kefa en die twee seuns van Zavdai saam en begin bedroef en benoud word. 38Hy sê vir hulle: “My verstand, wil en emosie is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak saam met My.”

39Hy het ’n entjie onttrek en op Sy gesig geval en gebid en gesê: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” 40Hy gaan na die studentevolgelinge en vind hulle aan die slaap en Hy sê vir Kefa: “Kon julle nie een uur saam met My waak nie? 41Waak en bid sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak.”

42Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: “My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat dit wees soos U wil.” 43Hy gaan na hulle toe en vind hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar 44en Hy het weer van hulle af weggegaan en vir die derde maal gaan bid en dieselfde woorde gesê. 45Toe kom Hy by Sy studentevolgelinge en sê vir hulle: “Slaap maar voort en word verfris. Let op, die uur is naby en die Seun van die mens word oorgegee in die hande van sondaars. 46Staan op, laat ons gaan; let op, hy wat My oorlewer is hier.”

47Terwyl Hy nog praat, kom Y’hudah, een van die twaalf vanaf die leierpriesters en oudstes van die volk af en saam met hom ’n groot skare met swaarde en stokke. 48Die een wat Hom oorlewer, Y’hudah, het vir hulle ’n teken gegee en gesê: “Die een wat ek sal soen, dit is Hy, gryp Hom!” 49Hy roep dadelik na Yeshua en sê: “Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid, my Meester” en hy soen Hom, 50maar Yeshua sê vir hom: “Het jy hiervoor gekom, My vriend?” Toe kom hulle nader en slaan die hande aan Yeshua en gryp Hom

51en een wat saam met Yeshua was, het sy hand uitgesteek, sy swaard uitgetrek en hy het die slaaf van die hoofpriester geslaan en sy oor afgesny. 52Toe sê Yeshua vir hom: “Sit jou swaard in sy plek terug, want almal wat die swaard optel, sal deur die swaard doodgemaak word. 53Of dink jy nie dat Ek die vermoë het om op hierdie oomblik tot My Vader te bid en Hy meer as twaalf legioene van engele tot My beskikking sal stel nie? 54Hoe sou die voorspellings van die Skrifte dan vervul word dat dit só moet wees?”

55In dieselfde tyd het Yeshua vir die mense gesê: “Het julle soos teen ’n dief uitgekom met swaarde en stokke om My te vang? Daagliks het Ek langs julle gesit en leer in die tempel en julle het My nie gevang nie,” 56maar dit het alles gebeur sodat die Skrifte van die profete vervul sou word. Toe het al die studentevolgelinge van Hom af weggegaan en gevlug

57en die wat Yeshua gevange geneem het, het Hom weggevat na Kayafa, die hoofpriester, waar die leraars van die wet en die oudstes bymekaar was. 58Shim’on Kefa het Hom van ’n afstand af gevolg tot by die paleis van die hoofpriester en hy het ingegaan en by die wagte gaan sit om die resultaat te sien.

59Die leierpriesters, die oudstes en die hele Joodse Raad het getuienisse teen Yeshua gesoek om Hom dood te maak 60en niks gevind nie. Alhoewel daar baie met onwaar getuienis gekom het, het hulle niks gevind nie. Eindelik kom daar twee 61en sê: “Hierdie man het gesê: ‘Ek is by magte om die tempel van God af te breek en dit in drie dae op te bou’.” 62Die hoofpriester staan op en sê vir Hom: “Het U nie eers een antwoord vir hulle wat teen U getuig nie?” 63Yeshua het egter stilgebly en die hoofpriester antwoord en sê vir Hom: “Ek eis ’n eed van U by die Lewende God dat U vir ons sê of U Die Gesalfde Een, die Seun van God, is?” 64Yeshua antwoord hom: “U het dit gesê, maar Ek sê vir julle: ‘Van nou af aan, sal julle die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van Krag en ook sien kom op die wolke van die hemel’.”

65Toe skeur die hoofpriester sy kleed en sê: “Let op, Hy praat kwaad teen God! Waarom het ons nog getuies nodig? Julle het Sy kwaadpraat teen God gehoor! 66Wat dink julle?” Hulle antwoord en sê: “Hy verdien die dood.”

67Toe het hulle in Sy gesig gespoeg en Hom teen die kop geslaan en ander het Hom geklap 68en gesê: “Profeteer vir ons, Gesalfde Een! Wie is dit wat U slaan?”

69Kefa het buite in die binnehof gesit en ’n slavin het na hom toe gekom en gesê: “Jy was ook saam met Yeshua, die Een vanaf die Galil,” 70maar hy het dit voor almal ontken en gesê: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” 71Terwyl hy uitgaan na die stoep toe, sien ’n ander slavin hom en sê aan dié wat daar was: “Hierdie een was ook by Yeshua, van Natzeret.” 72Met ’n eed ontken hy dit weer: “Ek ken die Man nie.” 73’n Rukkie later kom dié wat daar staan en sê vir Kefa: “Waarlik, jy is ook éen van hulle, want ook deur jou uitspraak is dit duidelik.” 74Toe begin hy vloek en sweer: “Ek ken die Man nie.” Dadelik het die haan gekraai 75en Kefa het die woord van Yeshua onthou wat Hy vir hom gesê het: “Voordat die haan kraai, sal jy My drie maal ontken” en hy het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 25
Top of Page
Top of Page