Mattheus 24
Afrikaans PWL
1Yeshua het uit die tempel uitgegaan om te vertrek en Sy studentevolgelinge het nadergekom en vir Hom die argitektuur van die tempel gewys, 2maar Hy sê vir hulle: “Sien julle al hierdie dinge? Waarlik Ek sê vir julle, daar sal op hierdie plek sekerlik geen klip op ’n ander gelos word, wat nie afgebreek sal word nie.”

3Ook toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die studentevolgelinge alleen na Hom toe en sê: “Vertel vir ons, wanneer sal hierdie dinge wees en wat is die teken van U koms en van die einde van die wêreld?”

4Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Pas op dat niemand julle mislei nie,

5want baie sal in My Naam (Karakter en Outoriteit) kom en sê: ‘Ek is Die Gesalfde Een’ en hulle sal baie mislei. 6Julle sal hoor van oorloë en van verslae van oorloë. Onderskei, moenie bang word nie, want dit is nodig vir al daardie dinge om te gebeur, maar dit is nog nie heeltemal die einde nie, 7want nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk en daar sal hongersnode wees en plae en aardbewings op verskillende plekke, 8maar al hierdie dinge is die begin van smarte.

9Dan sal hulle julle oorgee om te ly en julle doodmaak en julle sal onder al die nasies gehaat word ter wille van My Outoriteit en Karakter 10en dan sal baie omgekeer word en hulle sal mekaar verraai en mekaar haat. 11Baie vals profete sal opstaan en baie mense mislei 12en deur die oorvloed van wetsoortreding, sal die liefde van baie afkoel, 13maar wie vasstaan tot die einde toe, hy sal die lewe hê. 14Hierdie goeie boodskap van die Koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot getuienis vir al die nasies en dan sal die einde kom.

15Wanneer julle dan die teken van die verwerplikheid van afgodery, waarvan gepraat is deur die profeet Dani’el, sien staan in die plek wat afgesonder is, moet die leser verstaan, 16dan moet dié wat in Y’hudah is, vlug na die berge; 17wie op die dak is, moenie afkom om iets uit sy huis weg te vat nie 18en wie in die veld is, moenie terugdraai om sy klere te vat nie. 19Wee die vroue wat swanger is en die wat nog borsvoed in daardie dae, 20maar bid dat julle ontvlugting nie in die winter of op die Shabbat sal wees nie, 21want daar sal dan groot lyding wees soos daar van die begin van die aarde af tot nou toe nie was nie en ook nie sal wees nie. 22As daardie dae nie verkort sou word nie, sou geen liggaam gered word nie, maar ter wille van die wat gekies is, sal daardie dae verkort word. 23Wanneer iemand dán vir julle sê: ‘Let op, hier is Die Gesalfde Een!’ of, ‘Daar!’ moet dit nie glo nie, 24want daar sal vals gesalfdes en profete van leuens opstaan en hulle sal groot tekens gee om, as dit moontlik was, ook die wat gekies is te mislei. 25Let op, Ek sê dit vir julle vooruit.

26As hulle dan vir julle sê: ‘Kyk, Hy is in die wildernis,’ moenie gaan nie; of let op, ‘Hy is in ’n geheime kamer;’ moet dit nie glo nie, 27want net soos die weerlig uitslaan in die ooste en tot in die weste sigbaar is, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 28Waar die karkas ook al lê, daar sal die aasvoëls versamel

29en dadelik ná die lyding van daardie dae sal die son verduister word, die maan sal sy lig nie gee nie, die sterre sal uit die hemel val, die magte van die hemele sal omgekrap word 30en dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn en dan sal al die stamme van die aarde treur en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met baie wonderwerke en eer, grootheid en lofprysinge. 31Hy sal Sy boodskappers uitstuur met groot ramshorings en hulle sal Sy verkorenes bymekaarmaak uit die vier windstreke, van die een uiterste van die hemele af tot by die ander uiterste daarvan.

32Leer van die vyeboom hierdie vergelykende storie: teen die tyd dat sy tak sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is. 33Net so verstaan julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat Hy naby is, voor die deur. 34Dit is waar, Ek sê vir julle, hierdie volksfamile sal nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie. 35Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar My boodskappe sal nie verbygaan nie,

36maar wat betref daardie dag en die uur weet niemand nie, selfs nie die boodskappers van die hemel nie, maar slegs die Vader alleen, 37maar net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees, 38want net so was hulle voor die vloed; hulle het geëet en gedrink, vroue en mans gevat, tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het 39en nie verstaan het voordat die vloed gekom en almal weggevat het nie. Net so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. 40Dan sal daar twee in die veld wees; die een sal weggelei word en die een sal gelos word. 41Twee vroue sal in die meulhuis maal; die een sal weggelei word en die een sal gelos word.

42Word dan wakker omdat julle nie weet watter uur julle Meester kom nie, 43maar weet dit: as die huiseienaar geweet het watter tyd die dief sou kom, sou hy wakker gewees het en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie; 44daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom daardie uur wat julle dit nie verwag het nie.

45Wie is dan die getroue en wyse slaaf vir wie sy meester oor sy huishouding aangestel het om hulle hul kos op die regte tyd te gee? 46Geseënd is daardie slaaf vir wie sy meester, as hy kom, só besig sal vind. 47Dit is waar, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel, 48maar as daardie slaaf boos is en in sy gedagtes sê: ‘My meester neem lank om te kom’ 49en hy sy medeslawe begin slaan en saam met die dronkaards eet en drink, 50dan sal die meester van daardie slaaf op ’n dag kom dat hy dit nie verwag nie en op ’n uur wat hy nie weet nie 51en hy sal hom vreeslik slaan en sy deel sit by die toneelspelers van vals karakters. Daar sal ’n gehuil wees en gekners van tande.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 23
Top of Page
Top of Page