Mattheus 23
Afrikaans PWL
1Toe het Yeshua met die mense en met Sy studentevolgelinge gepraat 2en vir hulle gesê: “Die leraars van die wet en die Fariseërs het gaan sit op die stoel van Moshe; 3daarom moet julle alles wat hulle vir julle sê om te onderhou, onderhou en doen, maar moenie doen soos hulle doen nie, want hulle praat en doen nie, 4want hulle bind swaar laste en sit dit op die skouers van die mense, maar hulle is nie gewillig om hulle vinger te verroer en daaraan te raak nie, 5maar alles wat hulle doen, doen hulle om deur die mense gesien te word. Hulle maak hul gebedskassies breed en die blou draad in hul tossels aan hulle klere lank. 6Hulle is lief vir die eersteklas sitplekke by feeste en die eersteklas sitplekke in bymekaarkomplekke, 7die groetwense op die stadsplein en om deur die mense ‘my groot een’ genoem te word, 8maar julle, laat julle nie ‘my groot een’ noem nie, want daar is net Een wat Groot is en julle is almal broers. 9Julle moenie julleself op die aarde vader noem nie, want een is julle Vader: Hy wat in die hemel is. 10Julle moet julle ook nie leiers laat noem nie, want een is julle Leier: Die Gesalfde Een. 11Hy wat groot is onder julle moet julle dienskneg wees 12en enige een wat homself verhoog, sal verneder word en wie homself verneder, sal verhoog word,

13maar wee julle, leraars van die wet en Fariseërs, toneelspelers van vals karakters, wat die huise van die weduwees verteer deur ’n offer van lang herhaling van woorde in julle gebede; as gevolg hiervan sal julle ’n groter oordeel ontvang. 14Wee julle, leraars van die wet en Fariseërs, toneelspelers van vals karakters, want julle maak die Koninkryk van die hemel toe voor die mense; omrede julle self nie ingaan nie, laat julle nie toe dat hulle wat wil, ingaan nie.

15Wee julle, leraars van die wet en Fariseërs, toneelspelers van vals karakters, want julle loop rond oor see en land om een bekeerling te maak en as hy dit geword het, maak julle hom ’n kind van die hel, twee maal erger as julleself.

16Wee julle, blinde gidse, wat sê: ‘Wie ’n eed sweer by die tempel; dit is niks nie, maar wie ’n eed sweer by die goud van die tempel, hy is onder verpligting.’ 17Julle dwase en blindes, want wat is meer: die goud, of die tempel wat die goud afsonder? 18‘Wie ’n eed sweer by die altaar; dit is niks nie, maar wie ’n eed sweer by die offerande bo-op dit, hy is onder verpligting.’ 19Julle dwase en blindes, want wat is meer: die offerande, of die altaar wat die offer afsonder? 20Wie dus ’n eed sweer by die altaar, sweer ’n eed dáárby en by alles wat daarop is 21en wie ’n eed sweer by die tempel, sweer ’n eed dáárby en by Hom wat daarin woon 22en wie ’n eed sweer by die hemel, sweer ’n eed by die troon van God en by Hom wat daarop sit.

23Wee julle, leraars van die wet en Fariseërs, toneelspelers van vals karakters, want julle gee tiendes van kruisement, anys en koljander en die meer gewigtige dinge van die wet laat julle ná: die regverdige oordeel, die omgee en die vertroue. Hierdie dinge is nodig vir julle om te doen; moenie daardie dinge nalaat nie. 24Blinde gidse, wat die muggies uitsif, maar die kamele insluk!

25Wee julle, leraars van die wet en Fariseërs, toneelspelers van vals karakters, want julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar binnekant is dit vol uitbuitery en onregverdigheid. 26Blinde Fariseërs, maak eers die binnekant van die beker en die bord skoon sodat die buitekant daarvan ook skoon kan wees.

27Wee julle, leraars van die wet en Fariseërs, toneelspelers van vals karakters, want julle is net soos wit gekalkte grafte wat van buite af mooi lyk, maar van binne vol dooies se bene en alle korrupsie is 28en net so lyk julle ook wel onskuldig van buite vir die mense, maar van binne is julle wetteloos en toneelspelers van vals karakters.

29Wee julle, leraars van die wet en Fariseërs, toneelspelers van vals karakters, want julle bou die grafte van die profete en versier die grafstene van die onskuldiges 30en julle sê: ‘As ons in die dae van ons vaders geleef het, sou ons geen deel met hulle gehad het aan die bloed van die profete nie.’ 31Dus getuig julle teen julleself dat julle kinders is van die wat die profete vermoor het 32en julle voltooi die kwota van julle vaders! 33Slange, kinders van adders, hoe sal julle ontsnap van die oordeel van die hel?

34Let op, om hierdie rede stuur Ek profete, wyse manne en leraars van die wet na julle toe en julle sal van hulle doodmaak en kruisig en van hulle in julle bymekaarkomplekke gésel en van stad na stad die ander vervolg 35sodat oor julle al die onskuldige bloed wat vergiet is op die aarde kan kom, vanaf die bloed van die onskuldige Hevel tot by die bloed van Z’kharyah, die seun van Berekhyah, wat julle tussen die tempel en die altaar vermoor het. 36Dit is waar, Ek sê vir julle, al hierdie dinge sal oor hierdie geslag kom.

37Yerushalayim, Yerushalayim, jy wat die profete vermoor en dié wat na jou toe gestuur is, stenig, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ’n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak en julle wou nie! 38Let op, julle huis word verlaat en vir julle woes gelaat, 39want Ek sê vir julle: julle sal My van nou af nie weer sien nie totdat julle sal sê: ‘Geseënd is Hy wat kom in die Outoriteit en Karakter (Naam) van יהוה!’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 22
Top of Page
Top of Page