Mattheus 17
Afrikaans PWL
1Ná ses dae het Yeshua vir Kefa, Ya’akov en Yoganan, sy broer, teen ’n hoë berg opgevat in afsondering 2en Yeshua het voor hulle van voorkoms verander en Sy gesig het geskyn soos die son, maar Sy klere het stralend wit geword 3en Moshe en Eliyahu het aan hulle verskyn, in gesprek met Hom. 4Kefa antwoord en sê vir Yeshua: “My Meester, dit is goed dat ons hier is; as U wil, sal ons hier drie afskortings opslaan: een vir U en een vir Moshe en een vir Eliyahu.” 5Terwyl hy nog praat, let op, ’n helder verligte wolk oordek hulle en ’n Stem sê uit die wolk: “Dit is My Seun wat Ek liefhet, met wie Ek baie tevrede is. Luister na Hom!” 6Toe die studentevolgelinge dit hoor, het hulle op hul gesigte neergeval en was baie bang 7en Yeshua het nadergekom en hulle aangeraak en gesê: “Staan op, julle moenie bang wees nie.” 8Hulle lig hulle oë op, maar sien niemand meer nie, behalwe Yeshua alleen

9en terwyl hulle van die berg afklim, het Yeshua hulle beveel en vir hulle gesê: “Julle mag voor niemand iets van die visioen sê totdat die Seun van die mens uit die dood uit opgestaan het nie.” 10Sy studentevolgelinge vra Hom en sê: “Waarom sê die leraars van die wet dan dat Eliyahu eers moet kom?” 11Yeshua antwoord en sê: “Eliyahu kom eers sodat alles mag eindig, 12maar Ek sê vir julle, let op, Eliyahu het alreeds gekom en hulle het hom nie erken nie, maar aan hom alles gedoen wat hulle wou. Net só sal die Seun van die mens ook deur hulle ly.” 13Toe verstaan die studentevolgelinge dat Hy met hulle van Yoganan, die Doper, gepraat het.

14Toe hulle by die skare kom, kom daar ’n man na Hom toe en kniel voor Hom 15en sê vir Hom: “My Meester, ontferm U oor my seun, want hy is waansinnig en ly baie, want hy val dikwels in die vuur en in die water 16en ek het hom na U studentevolgelinge gebring en hulle kon hom nie gesond maak nie.” 17Yeshua antwoord en sê: “O vertrouelose en misleide geslag, tot wanneer sal Ek by julle wees, tot wanneer sal Ek julle verdra? Bring hom hier na My toe.” 18Yeshua bestraf die demoon en hy het uit hom uitgegaan en die seun het gesond geword van daardie oomblik af.

19Toe kom die studentevolgelinge afsonderlik na Yeshua toe en sê: “Waarom kon ons hom nie uitdryf nie?” 20Yeshua antwoord hulle: “Deur julle gebrek aan vertroue. Dit is waar wat Ek vir julle sê, as julle vertroue in julle het soos ’n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: ‘Beweeg weg van hierdie plek af ’ en hy sal beweeg en niks sal vir julle moeilik wees nie, 21maar hierdie soort gaan nie uit, behalwe deur gebed en vas nie.”

22Terwyl hulle in die Galil reis, het Yeshua vir hulle gesê: “Die Seun van die mens sal oorgegee word in die hande van die mense, 23hulle sal Hom vermoor en op die derde dag sal Hy opstaan” en dit het hulle baie bedroef gemaak.

24Toe hulle in K’far-Nagum kom, het die wat die tempelbelasting (dubbel dragma) ontvang, na Kefa gegaan en vir hom gesê: “Betaal julle Leermeester nie die tempelbelasting nie?” 25Hy sê vir hulle: “Ja.” Toe Kefa in die huis inkom, spring Yeshua hom voor en sê vir hom: “Wat dink jy, Shim’on? Van wie neem die konings van die aarde tol of belasting: van hulle seuns of van ander?” 26Shim’on sê vir Hom: “Van die ander.” Yeshua sê vir hom: “Dan is die seuns vry, 27maar sodat ons hulle geen aanstoot mag gee nie, gaan na die see toe, gooi ’n hoek uit en neem die eerste vis wat opkom en as jy sy bek oopmaak, sal jy ’n shekel kry; neem dit en gee dit aan hulle vir My en vir jou.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 16
Top of Page
Top of Page