Lukas 7
Afrikaans PWL
1Nadat Hy klaar gepraat het met die mense, het Hy K’far-Nagum binnegegaan.

2Die slaaf van ’n sekere kaptein oor ’n honderd, wat vir hom kosbaar was, was baie siek en het op sterwe gelê. 3Hy het van Yeshua gehoor en oudstes van die Jode na Hom toe gestuur met die versoek dat Hy moes kom en die lewe van sy slaaf moes red. 4Toe hulle by Yeshua kom, het hulle Hom ernstig versoek en gesê: “Hy is waardig dat U dit vir hom doen, 5want hy het ons volk lief en het self die bymekaarkomplek vir ons gebou.” 6Yeshua het saam met hulle gegaan, maar toe Hy nie ver van die huis af was nie, stuur die kaptein oor ’n honderd vriende na Hom om vir Hom te sê: “My Meester, moenie moeite doen nie, want ek is nie waardig dat U onder my dak inkom nie; 7daarom het ek my ook nie by regte geag om na U te gaan nie, maar sê ’n woord en my dienskneg sal gesond word, 8want ek is ook ’n man wat onder outoriteit gesit is en ek het soldate onder my en vir hierdie een sê ek: ‘Gaan!’ en hy gaan en vir ’n ander een: ‘Kom!’ en hy kom en vir my slaaf: ‘Doen dit!’ en hy doen dit.” 9Toe Yeshua dit hoor, het Hy hom verwonder oor hom en Hy draai Hom om en sê vir die mense wat saam met Hom loop: “Ek sê vir julle, selfs nie in Yisra’el het Ek so ’n groot vertroue gekry nie.” 10Toe die wat gestuur was, teruggaan in die huis, vind hulle die siek slaaf reeds gesond.

11Dit het gebeur dat Hy, Sy studentevolgelinge en ’n skare mense saam met Hom, die volgende dag na ’n dorp met die naam van Na’in gegaan het. 12Toe Hy die poort van die dorp nader, sien Hy daar word ’n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, ’n weduwee en baie mense van die dorp was saam met haar. 13Yeshua het haar gesien en het liefdevol omgegee vir haar en vir haar gesê: “Moenie huil nie!” 14Hy het nadergegaan, die draagbaar aangeraak en die draers het gaan staan en Hy sê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” 15Hy wat dood was het regop gesit, begin praat en Hy het hom vir sy moeder gegee. 16Respekvolle vrees het almal aangegryp en hulle het God vereer, geloof en aanbid en gesê: “’n Groot profeet het tussen ons opgestaan en God het Sy volk besoek.” 17Hierdie boodskap aangaande Hom het uitgegaan in die hele Y’hudah en in die omliggende gebied.

18Die studentevolgelinge van Yoganan het hom oor al hierdie dinge ingelig 19en Yoganan het twee van sy studentevolgelinge na hom toe geroep en hulle na Yeshua gestuur om te vra: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons vir ’n ander een wag?” 20Die manne het by Hom gekom en vir Hom gesê: “Yoganan die Doper het ons na U gestuur en gevra: ‘Is U die Een wat sou kom, of moet ons vir ’n ander Een wag?’” 21In daardie uur het Hy baie mense genees van siektes, plae, bose geeste en aan baie blindes hulle sig gegee. 22Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Gaan vertel aan Yoganan alles wat julle gesien en gehoor het: hulle wat blind was, sien; hulle wat lam was, loop; hulle wat melaats was, word gereinig; hulle wat doof was, hoor; hulle wat dood was, staan op; aan hulle wat arm is, word die goeie boodskap verkondig 23en geseënd is hy wat nie oor My aanstoot neem nie.”

24Nadat die boodskappers van Yoganan weggegaan het, begin Hy om vir die mense aangaande Yoganan te sê: “Wat het julle uitgegaan om in die wildernis te sien? ’n Riet wat deur die wind geskud word? 25Wat het julle egter uitgegaan om te sien? ’n Man aangetrek in sagte klere? Let op, die wat eerbare klere het en in luuksheid leef, is in die huis van ’n koning. 26Andersins, wat het julle uitgegaan om te sien? ’n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, nog baie meer as ’n profeet!

27Dit is hy van wie daar geskrywe is: ‘Let op, Ek stuur My boodskapper voor U Teenwoordigheid uit, wat U pad voor U voorberei.’

28Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Yoganan, die Doper, nie, maar die kleinste in die Koninkryk van God is groter as hy.” 29Al die mense wat dit gehoor het, asook die belastinggaarders, het deurdat hulle hulle laat doop het met die doop van Yoganan, dit as reg verklaar, 30maar die Fariseërs en die leraars van die wet het God se wil verwerp in hulle verstand, wil en emosie, want hulle is nie deur hom gedoop nie.

31“Waarmee sal Ek daarom die mense van hierdie geslag vergelyk en soos wie is hulle?” 32Hulle is net soos seuns wat in die strate sit en na hulle vriende roep en sê: ‘Ons het vir julle gesing en julle het nie gedans nie; ons het vir julle geskreeu en julle het nie gehuil nie,’ 33want Yoganan, die Doper, het gekom en het nie brood geëet of wyn gedrink nie en julle sê: ‘Hy het ’n demoon.’ 34Die Seun van die mens het gekom en Hy eet en drink en julle sê: ‘Let op, dié Mens is ’n vraat en ’n wynsuiper, ’n vriend van belastinggaarders en sondaars.’ 35Wysheid word regverdig deur sy werke.”

36Een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet en Hy het in die huis van die Fariseër gegaan en aan tafel gaan skuinslê. 37’n Vrou in die stad, ’n sondares, wat agtergekom het dat Hy in die Fariseër se huis bly, het ’n albaste fles met geparfumeerde olie gebring 38en agter Hom by sy voete gaan staan en gehuil en Sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare op haar kop en sy het Sy voete gesoen en met gegeurde olie gesalf. 39Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, het hy in homself gedink en gesê: “As Hy ’n profeet was, sou Hy geweet het wie sy, wat Hom aanraak, is en wat haar reputasie as sondares is.”

40Yeshua antwoord en sê vir hom: “Shim’on, Ek het iets om aan jou te sê.” Hy sê vir hom: “Leermeester, sê dit.” 41Yeshua sê vir hom: “Twee skuldenaars het ’n landeienaar geld geskuld; die een het vyf honderd denarii geskuld en die ander een vyftig, 42maar hulle kon dit nie betaal nie en hy het albei vrygeskeld. Wie sê jy, sal daarvolgens, hom die meeste liefhê?” 43Shim’on antwoord en sê: “Ek veronderstel dié een wie hy die meeste vrygeskeld het” en Hy antwoord hom: “Jy het reg geoordeel.” 44Hy draai na die vrou toe en sê vir Shim’on: “Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis ingekom; jy het nie water vir My voete gegee nie, maar sy het met haar trane My voete natgemaak en met die hare van haar kop afgedroog. 45Jy het My nie ’n soen gegee nie, maar let op, vandat sy ingekom het, het sy nie opgehou om My voete te soen nie. 46Jy het nie My kop met olyfolie gesalf nie, maar sy het My voete met gegeurde olie gesalf; 47daarom sê Ek vir jou dat haar baie sondes vergewe is, want sy het baie liefgehad, maar hy vir wie ’n bietjie vergewe is, het minder lief.” 48Hy sê vir daardie vrou: “Jou sondes is vir jou vergewe.” 49Toe begin die wat aan tafel was, in hulleself sê: “Wie is hierdie wat selfs sondes vergewe?” 50Yeshua sê vir die vrou: “Jou vertroue het vir jou lewe gegee; gaan in vrede, vergenoegdheid, gesondheid en voorspoed.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 6
Top of Page
Top of Page