Afrikaans PWL 1Dit was op die Shabbat dat Yeshua deur die graan geloop het. Sy studentevolgelinge het are gepluk en met hulle hande uitgevryf en geëet.
2Sommige van die Fariseërs sê vir hulle: “Hoekom doen julle dit wat nie toegelaat is om op die Shabbat gedoen te word nie?”
3Yeshua antwoord hulle en sê: “Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het toe hy honger was nie, hy en die wat by hom was,
4hoe hy in die huis van God ingegaan en die brode van die tafel van יהוה gevat en geëet het en ook aan die wat by hom was, gegee het, wat nie reg was dat hulle dit mag eet nie, maar net die priesters alleen?”
5Hy sê vir hulle: “Die Seun van die mens is die Meester van die Shabbat.” 6Dit het gebeur op ’n ander Shabbat dat Hy weer in die bymekaarkomplek ingegaan en geleer het en daar was ’n man en sy regterhand was uitgedroog. 7Die leraars van die wet en die Fariseërs het Hom dopgehou, of Hy op die Shabbat sou gesond maak sodat hulle Hom kon beskuldig, 8maar Hy het hulle planne geken en sê vir die man met die verdorde hand: “Kom hier na die middel toe” en hy het daar kom staan. 9Yeshua sê vir hulle: “Ek vra vir julle wat is reg om op die Shabbat te doen: om goed te doen of kwaad; om ’n lewe te red of te vernietig?” 10Hy het na hulle almal gekyk en vir hom gesê: “Maak reguit jou hand en hy steek dit uit en sy hand is herstel, soos die ander een, 11maar hulle is met jaloesie vervul en het onder mekaar bespreek wat hulle met Yeshua moet doen. 12Dit het in daardie dae gebeur dat Yeshua uitgegaan het na ’n berg om te bid en Hy was die hele nag in gebed tot God 13en toe dit dag geword het, het Hy Sy studentevolgelinge na Hom toe geroep en twaalf uit hulle gekies, wat Hy afgevaardigdes genoem het: 14Shim’on, wat Hy Kefa genoem het en Andréas, sy broer; Ya’akov en Yoganan; Filippos en die seun van (Bar-)Talmai; 15Mattityahu en T’oma; Ya’akov die seun van Halfai en Shim’on wat Yweraar genoem word; 16Y’hudah, die seun van Ya’akov en Y’hudah van K’riot, wat die verraaier geword het. 17Yeshua het saam met hulle afgeklim en in die vallei gaan staan en daar was ’n menigte van Sy studentevolgelinge en ’n groot menigte mense van die hele Y’hudah, Yerushalayim en van die kus van Tzor en Tzidon af 18wat gekom het om Sy boodskap te hoor en van hulle siektes gesond gemaak te word en ook die wat lastig geval was deur onrein geeste, is genees. 19Al wat die skare begeer het, was om aan Hom te raak omdat krag voortdurend uit Hom uitgegaan en almal gesond gemaak het. 20Toe slaan Hy sy oë op oor Sy studentevolgelinge en sê: “Uitermate gelukkig is julle, armes, want aan julle behoort die Koninkryk van God. 21Uitermate gelukkig is julle wat nou huil, want julle sal lag. Uitermate gelukkig is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. 22Uitermate gelukkig is julle wanneer die mense julle haat en wanneer hulle julle verdeel, uitsluit, onteer en julle karakter en outoriteit verwerp as sleg, ter wille van die Seun van die mens. 23Verheug jou in daardie dag en spring op van vreugde, want julle beloning is groot in die hemel, want hulle vaders het net so aan die profete gedoen! 24Wee julle, rykes, want julle het jul vertroosting ontvang. 25Wee julle wat versadig is, want julle sal honger ly. Wee julle wat nou lag, want julle sal treur en huil. 26Wee julle wanneer die mense alles wat goed is van julle praat, want hulle vaders het die vals profete net so behandel, 27maar Ek sê vir julle wat luister, julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan dié wat julle haat. 28Seën dié wat julle vervloek en bid oor die wat julle met geweld wegvat. 29Aan hom wat jou op die wang slaan, moet jy ook die ander een aanbied en aan hom wat jou klere vat, moet jy ook die bo-kleed nie weier nie. 30Gee aan almal wat jou iets vra en eis jou goed nie terug van hom wat dit vat nie. 31Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle ook aan hulle doen. 32As julle dié liefhet wat julle liefhet, watter goedheid het julle, want die sondaars het ook dié lief wat vir hulle liefhet? 33As julle goed doen aan die wat julle goed behandel, watter goedheid het julle, want die sondaars doen ook dieselfde? 34As julle leen aan dié van wie julle hoop om terug te ontvang, watter soort goedheid het julle? Selfs die sondaars leen ook aan die sondaars, om dieselfde terug te ontvang. 35Julle moet julle vyande liefhê en hulle goed behandel, uitleen en nie iemand se verwagting afsny nie en julle beloning sal groot wees en julle sal kinders van die Allerhoogste (Ha’Elyon) wees, want Hyself is welwillend teenoor ongelowiges en hulle wat boos is. 36Gee liefdevol om, net soos julle Vader ook liefdevol omgee. 37Julle moenie oordeel nie, dan sal julle nie geoordeel word nie. Julle moenie veroordeel nie, dan sal julle nie veroordeel word nie. Spreek vry en julle sal vrygespreek word. 38Gee en aan julle sal gegee word, ’n goeie maat wat ingestamp en oorlopend is, sal hulle in julle skoot gee, want met dieselfde maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.” 39Hy het vir hulle ’n vergelykende storie vertel: “Is dit moontlik vir ’n blinde om ’n blinde te lei? Sal albei van hulle nie in ’n sloot val nie? 40Daar is nie ’n studentevolgeling groter as sy leermeester nie. Elkeen wat volmaak gemaak is, sal soos sy leermeester wees. 41Hoekom merk jy die splinter op in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog, is nie vir jou duidelik nie? 42Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘My broer, laat my toe om die splinter wat in jou oog is, uit te haal,’ maar let op, die plank wat in jou oog is, sien jy nie? Toneelspelers van ’n vals karakter, haal eers die plank uit jou oog uit, dan sal vir jou die vermoë gegee word om die splinter uit jou broeder se oog uit te haal. 43Dit is nie ’n goeie boom wat slegte vrugte dra nie en ook nie ’n slegte boom wat goeie vrugte dra nie, 44want elke boom word geken aan sy vrugte omdat hulle nie vye pluk van dorings nie en hulle pluk ook nie druiwe van ’n bos nie. 45Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy verstand, wil en emosie te voorskyn wat goed is en die bose mens bring uit die bose skat van sy verstand, wil en emosie te voorskyn wat boos is, want uit die volheid van die verstand, wil en emosie praat die lippe. 46Hoekom noem julle My: ‘My Meester, my Meester,’ en doen nie wat Ek sê nie? 47Elke persoon wat na My toe kom, My boodskap gehoor het en dit doen; Ek sal julle wys soos wie hy is: 48hy is soos ’n man wat ’n huis bou, wat diep gegrawe en die fondament op die rots gelê het en toe daar ’n vloed kom slaan die vloed teen die huis aan en kon dit nie skud nie, want sy fondament was op die rots. 49Hy wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos ’n man wat ’n huis sonder fondament op die grond bou en toe die rivier daarteen slaan, het dit in ’n oomblik geval en die val van daardie huis was groot.” Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission. Bible Hub |