Levitikus 25
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat op die berg Sinai en gesê: 2“Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘Wanneer julle in die land inkom wat Ek julle gee, moet die land ’n Shabbat hê vir יהוה. 3Ses jaar lank moet jy jou land saai en ses jaar lank jou wingerd snoei en die opbrengs daarvan insamel, 4maar in die sewende jaar moet daar vir die land ’n Shabbatsrus wees, ’n Shabbat vir יהוה; jy mag nie jou land saai of jou wingerd snoei nie. 5Wat vanself groei van jou oes, moet jy nie afoes nie en die druiwe van jou onversorgde wingerdstok nie af sny nie, want dit is ’n jaar van rus vir die land. 6Die Shabbat opbrengs van die land sal julle kos wees; vir jou, jou slaaf, jou slavin, jou huurling en die besoeker wat by jou bly, 7vir jou vee en vir die wild wat in jou land is, sal die hele opbrengs wees om te eet.

8Jy moet vir jouself sewe Shabbatjare tel, sewe maal sewe jaar en die dae van die sewe Shabbatjare sal vir jou nege en veertig jaar wees. 9Dan moet jy die shofar (ramshoring) van die jubeljaar laat blaas in die sewende maand, op die tiende van die maand; op die dag van Toedekking moet julle die ramshoring deur die hele land laat blaas. 10Julle moet die vyftigste jaar afsonder en ’n vrystelling in die hele land verkondig aan al sy bewoners. Dit moet vir julle ’n jubeljaar wees en elkeen van julle moet na sy besittings en elkeen na sy familie teruggaan. 11Die vyftigste jaar moet ’n jubeljaar vir julle wees. Daarin mag julle nie saai nie, ook nie afoes wat self groei of die druiwe van die onversorgde wingerdstok afsny nie, 12want dit is ’n jubeljaar, dit moet vir julle afgesonder wees: jy moet die opbrengs van die land af eet.

13In die jubeljaar moet elkeen na sy besittings teruggaan. 14As jy iets aan jou naaste verkoop of van jou naaste se hand koop, moet julle mekaar nie onderdruk nie. 15Volgens die getal jare ná die jubeljaar moet jy van jou naaste koop; volgens die getal jare dat daar ’n oes is, moet hy dit aan jou verkoop. 16Volgens die groter aantal jare moet jy die koopprys daarvan vermeerder en volgens die kleiner aantal jare moet jy die koopprys daarvan verminder, want hy verkoop aan jou volgens die aantal oeste. 17Julle sal mekaar daarom nie onderdruk nie, maar jy sal jou God respekvol vrees, want Ek is יהוה, julle God.

18So moet julle My reëls doen en My wette onderhou en dit doen en julle sal veilig woon in die land. 19Die land sal sy vrug gee en julle sal volop eet en veilig daarin woon. 20As julle sê: “Wat moet ons in die sewende jaar eet as ons nie mag saai en ons oes nie mag insamel nie?” 21Dan beveel Ek My seën oor julle in die sesde jaar en dit sal ’n oes genoeg vir drie jaar oplewer. 22die agtste jaar moet julle saai en van die ou opbrengs eet tot die negende jaar toe; totdat die opbrengs hiervan inkom, moet julle die ou oes eet.

23Die grond moenie vir altyd verkoop word nie, want die land is Myne, want julle is vreemdelinge en besoekers by My. 24In die hele land van julle besitting, moet julle herstel van besit van die grond toelaat.

25As een van jou broers arm word en van sy besitting verkoop en sy vergoeder, wat familie is, kom, moet hy dit wat sy broer verkoop het, kan terugkoop, 26of as iemand geen vergoeder het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die terugkoping, 27moet hy die jare bereken dat dit verkoop is en die jare wat oorbly moet hy aan die man, aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan, 28maar as hy nie in staat is om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe en in die jubeljaar moet dit vry word en hy moet na sy besitting teruggaan.

29As iemand ’n huis in ’n ommuurde stad verkoop, kan hy dit terugkoop binne ’n volle jaar nadat dit verkoop is; binne ’n volle jaar mag hy dit terugkoop, 30maar as dit nie teruggekoop word voordat ’n hele jaar verby is nie, moet die huis wat in die ommuurde stad is, vir altyd die eiendom van sy koper bly in sy geslagte; dit sal nie vry word in die jubeljaar nie. 31Die huise van die dorpe wat geen muur rondom het nie moet egter soos die veld van die land gereken word. Hulle mag teruggekoop word en sal in die jubeljaar vry word. 32Op die stede van die Leviete en die huise in die stede wat in hulle besit is, moet daar ’n ewige reg tot terugkoping wees vir die Leviete. 33As iemand van die Leviete af die huis terugkoop, moet die huis wat verkoop is, in die stad van sy besitting, in die jubeljaar vry word, want die huise in die stede van die Leviete is hulle besitting onder die seuns van Yisra’el. 34Die algemene veld om hulle stede mag nie verkoop word nie, want dit is ’n ewige besitting vir hulle.

35As een van jou broers by jou arm word en sy land word wankelrig, moet jy hom ondersteun, soos ’n vreemdeling of ’n besoeker sodat hy by jou kan leef. 36Jy moet geen rente of wins van hom vat nie, maar jy moet jou God respekvol vrees sodat jou broer by jou kan leef. 37Jy mag nie jou geld vir hom op rente gee nie of vir hom jou kos teen ’n wins gee nie. 38Ek is יהוה, julle God, wat julle uit die land Mitzrayim uitgelei het om vir julle die land Kena’an te gee en om julle God te wees.

39As een van jou broers wat by jou bly arm word en hom aan jou verkoop, mag jy hom nie dwing om as ’n slaaf te dien nie. 40Soos ’n huurling, soos ’n besoeker, moet hy by jou wees en jou dien tot die jubeljaar toe; 41dan moet hy vry van jou af weggaan, hy en sy kinders saam met hom en hy moet na sy familie terugkeer en na die besitting van sy vaders teruggaan, 42want hulle is My knegte wat Ek uit Mitzrayim uitgelei het; hulle mag nie verkoop word as slawe nie. 43Jy mag nie met hardheid oor hom heers nie, maar jy moet jou God respekvol vrees. 44Aangaande jou slaaf of jou slavin van die nasies wat rondom julle is, van hulle mag julle ’n slaaf of slavin koop, wat aan jou sal behoort. 45Meer nog, van die kinders van die besoekers wat by julle bly; van hulle mag julle koop en van hulle familie wat by julle is, wat gebore is in julle land en dié sal julle besittings wees. 46Julle mag dié aan julle seuns ná julle nalaat om te erf as ’n besitting; vir ewig mag julle hulle laat dien, maar oor julle broers, die seuns van Yisra’el, mag die een nie oor die ander met hardheid heers nie.

47As ’n vreemdeling of besoeker by jou ryk word en jou broer wat by hom bly word arm en hy homself aan ’n vreemdeling of besoeker by jou verkoop, of aan ’n familielid uit die familie van ’n vreemdeling, 48dan moet daar vir hom, nadat hy hom verkoop het, reg tot terugkoping wees; een van sy broers kan hom terugkoop, 49of sy oom of sy oom se seun kan hom terugkoop, of een van sy naaste bloedverwante uit sy familie kan hom terugkoop, of as hy in staat is, kan hy homself terugkoop. 50So moet hy met sy koper bereken: die prys van sy verkope sal wees van die jaar af dat hy hom aan hom verkoop het, tot die jubeljaar toe. Dit sal wees volgens die tyd van ’n huurling vir hom. 51As daar nog baie jare oor is, moet hy volgens hulle sy terugkoopprys uit die geld waarvoor hy gekoop is, teruggee 52en as daar maar min jare tot die jubeljaar toe oor is, moet hy dit met hom bereken; volgens dié jare moet hy sy terugkoopprys teruggee. 53Hy sal van jaar tot jaar by hom wees as ’n gehuurde dienskneg en hy mag nie voor jou oë met hardheid oor hom heers nie. 54As hy nie in dié jare teruggekoop word nie, moet hy in die jubeljaar vrygelaat word, hy en sy kinders saam met hom, 55want die seuns van Yisra’el is diensknegte vir My; hulle is My diensknegte wat Ek uit Mitzrayim uitgelei het. Ek is יהוה, julle God.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 24
Top of Page
Top of Page