Afrikaans PWL 1Avimelekh, die seun van Yeruba’al, het na Sh’khem, na die familie van sy moeder gegaan en hy het met hulle en met die hele geslag van sy moeder se familie gepraat en gesê:
2“Praat, nou, voor die ore van al die leiers van Sh’khem: wat is vir julle beter: dat sewentig man, al die seuns van Yeruba’al, oor julle heers, of dat een man oor julle heers? Onthou ook dat ek julle vlees en bloed is.”
3Sy moeder se familie het namens hom al hierdie woorde ten aanhore van al die leiers van Sh’khem gepraat en hulle was geneig om Avimelekh te volg, want hulle het gesê: “Hy is ons familie.”
4Hulle het vir hom sewentig sikkels silwer uit die huis van Ba’al-B’rit gegee, waarmee Avimelekh waardelose en ligsinnige manne gehuur het en hulle het hom gevolg.
5Toe het hy na die huis van sy vader gegaan, in `Ofrah en sy broers, die seuns van Yeruba’al, sewentig man, op een klip vermoor, maar Yotam, die jongste seun van Yeruba’al, het oorgebly, want hy het weggekruip.
6Al die manne van Sh’khem en die hele Beit-Millo het saam vergader en Avimelekh gaan koning maak by die eikeboom van die pilaar wat by Sh’khem is. 7Toe hulle dit vir Yotam vertel, het hy gegaan en op die top van berg G’rizim gaan staan en sy stem opgelig en uitgeroep en so het hy vir hulle gesê: “Luister na my, manne van Sh’khem sodat God na julle kan luister. 8Eendag het die bome gegaan om ’n koning oor hulle te salf en vir die olyfboom gesê: ‘Heers oor ons!’ 9Die olyfboom het egter vir hulle gesê: ‘Sou ek my vettigheid opgee waarmee hulle gode en mense vereer en oor die bome gaan swewe?’ 10Toe sê die bome vir die vyeboom: ‘Kom jy, heers oor ons!’ 11Die vyeboom het egter vir hulle gesê: ‘Sou ek my soetigheid en my goeie vrugte opgee en oor die bome gaan swewe?’ 12Toe sê die bome vir die wingerdstok: ‘Kom jy, heers oor ons!’ 13Die wingerdstok het egter vir hulle gesê: ‘Sou ek my nuwe wyn opgee waarin God en die mense hulle verheug en oor die bome gaan swewe?’ 14Ten einde sê al die bome vir die doringboom: ‘Kom jy, heers oor ons!’ 15Die doringboom het vir die bome gesê: ‘As julle my in waarheid as koning oor julle salf, kom dan, neem skuiling in my skaduwee, maar so nie, mag daar vuur uitgaan uit die doringboom en die seders van L’vanon verteer; 16daarom dan, as julle in waarheid en integriteit gehandel het deur Avimelekh koning te maak en as julle goed gedoen het aan Yeruba’al en sy huis en aan hom gedoen het volgens sy verdienste, 17want my vader het vir julle geveg en sy lewe gewaag en julle bevry uit die hand van Midyan, 18maar julle het vandag opgestaan teen die huis van my vader en sy seuns; sewentig man op een klip vermoor en Avimelekh, die seun van sy slavin, koning gemaak oor die manne van Sh’khem omdat hy julle familie is; 19as julle dan vandag in waarheid en integriteit gehandel het met Yeruba’al en sy huis, verheug julle in Avimelekh en laat hy hom ook verheug oor julle, 20maar indien nie, laat daar dan vuur uitgaan uit Avimelekh en die manne van Sh’khem en Beit-Millo verteer en laat daar vuur uitgaan uit die manne van Sh’khem en Beit-Millo en Avimelekh verteer.” 21Toe het Yotam ontsnap en weggevlug en na Be’er gegaan en daar gebly as gevolg van Avimelekh, sy broer. 22Avimelekh het drie jaar lank oor Yisra’el geheers. 23Toe het God ’n bose gees gestuur tussen Avimelekh en die manne van Sh’khem en die manne van Sh’khem het valslik gehandel met Avimelekh 24sodat die geweld teen die sewentig seuns van Yeruba’al sou uitkom en hulle bloed op hul broer Avimelekh, wat hulle vermoor het, gelê mag word en op die manne van Sh’khem wat sy hande versterk het om sy broers te vermoor. 25Die manne van Sh’khem het manne in hinderlae teen hom opgestel bo-op die berge en almal beroof wat op die pad by hulle verbykom en dit is aan Avimelekh vertel. 26Ga’al, die seun van `Eved, het met sy familielede gekom en oorgetrek na Sh’khem en die manne van Sh’khem het hulle vertroue in hom geplaas. 27Hulle het uitgegaan in die veld en hulle wingerde afgeoes, uitgetrap en ’n fees gehou en hulle het in die huis van hulle god ingegaan en geëet en gedrink en Avimelekh gevloek. 28Toe sê Ga’al, die seun van `Eved: “Wie is Avimelekh en wie is Sh’khem dat ons hom sou dien? Is hy nie die seun van Yeruba’al en is Z’vul nie sy luitenant nie? Dien die manne van Hamor, die vader van Sh’khem, maar waarom moet ons hóm dien? 29Was hierdie volk maar onder my outoriteit, dan sou ek Avimelekh verwyder het!” Vir Avimelekh het hy gesê: “Vermeerder jou weermag en kom uit!” 30Toe Z’vul, die heerser van die stad, die woorde van Ga’al, die seun van `Eved, hoor, het sy woede opgevlam. 31Hy het boodskappers misleidend na Avimelekh gestuur om te sê: “Let op, Ga’al, die seun van `Eved en sy familielede het na Sh’khem gekom en let op, hulle steek die stad teen u op. 32Nou, daarom, staan in die nag op, u en die manne wat by u is en lê en wag in die veld. 33In die oggend, sodra die son op is, moet u vroeg opstaan en teen die stad aanstorm en let op, wanneer hy en die manne wat by hom is, teen u uittrek, sal u met hom doen net waartoe u in staat is.” 34Avimelekh en al die manne wat by hom was, het in die nag opgestaan en in vier groepe gelê en wag teen Sh’khem. 35Ga’al, die seun van `Eved, het uitgegaan en by die ingang van die stadspoort gaan staan en Avimelekh en al die manne wat by hom was, het uit die hinderlaag uit opgestaan. 36Toe Ga’al die mense sien sê hy vir Z’vul: “Kyk, daar kom mense van die bergtoppe af,” maar Z’vul sê vir hom: “Jy sien die skaduwee van die berge asof hulle mense is!” 37Ga’al het weer gepraat en gesê: “Kyk, daar kom mense van die hoogste deel van die land af en een deel kom uit die rigting van die eik van die towenaar.” 38Toe sê Z’vul vir hom: “Waar is jou grootpratery nou waarmee jy gesê het: ‘Wie is Avimelekh dat ons hom sou dien?’ Is dit nie die manne wat jy verag het nie? Gaan nou uit en veg teen hulle!” 39Toe gaan Ga’al uit voor die leiers van Sh’khem en veg teen Avimelekh. 40Avimelekh het hom agtervolg en hy het voor hom uit gevlug en baie is gewond en het geval tot by die ingang van die poort. 41Toe het Avimelekh in Arumah gebly, maar Z’vul het Ga’al en sy familielede uitgedryf sodat hulle nie in Sh’khem kon bly nie. 42Dit het die volgende dag gebeur dat die mense uitgegaan het in die veld en dit is aan Avimelekh vertel. 43Hy het sy manne gevat en hulle in drie groepe verdeel en in die veld lê en wag; toe hy sien dat die mense uit die stad uitkom, staan hy op teen hulle en verslaan hulle. 44Toe het Avimelekh en die groep wat by hom was, ingestorm en gaan staan by die ingang van die stadspoort; die ander twee groepe het almal wat in die veld was, bestorm en hulle verslaan. 45Avimelekh het daardie hele dag teen die stad geveg en die stad ingeneem en die mense wat daarin was, doodgemaak; toe het hy die stad afgebreek en dit met sout besaai. 46Toe al die leiers van die toring van Sh’khem dit hoor, gaan hulle in die binneste kamer van die tempel van die god van verbond (el berith) in. 47Dit is aan Avimelekh vertel dat al die leiers van die toring van Sh’khem saam vergader is. 48Avimelekh en al die manne wat by hom was, klim op die berg Tzalmon en Avimelekh vat ’n byl in sy hand en kap ’n boomtak af van die bome, lig dit op en sit dit op sy skouer. Toe sê hy vir die manne wat by hom was: “Wat julle my sien doen het, maak gou en doen net so.” 49Al die manne het ook elkeen sy tak afgekap en Avimelekh gevolg en dit op die binnekamer gegooi en die binnekamer bo-op hulle aan die brand gesteek sodat ook al die mense van die Sh’khemstoring, omtrent ’n duisend manne en vroue, gesterf het. 50Toe het Avimelekh na Tevetz gegaan en teen Tevetz gekamp en dit ingeneem, 51maar in die middel van die stad was daar ’n sterk toring en al die manne en vroue en al die leiers van die stad het daarheen gevlug en hulleself toegesluit en bo-op die dak van die toring geklim. 52Avimelekh het na die toring toe gekom en daarteen geveg en die ingang van die toring genader om dit met vuur te verbrand, 53maar ’n sekere vrou het die boonste meulsteen op die kop van Avimelekh gegooi en sy skedel verbrysel. 54Toe roep hy gou na die jongman, sy wapendraer en sê vir hom: “Trek jou swaard en maak my dood sodat dit nie van my gesê sal word: ‘’n Vrou het hom doodgemaak nie’.” Die jongman het hom deurboor en hy is dood. 55Toe die manne van Yisra’el sien dat Avimelekh dood is, het hulle elkeen na sy blyplek vertrek. 56So het God dan die boosheid van Avimelekh vergeld wat hy sy vader aangedoen het deur sy sewentig broers te vermoor. 57God het ook al die boosheid van die manne van Sh’khem op hulle eie kop laat neerkom en die vloek van Yotam, die seun van Yeruba’al, het oor hulle gekom. Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission. Bible Hub |